Vroeg Saterdagoggend lees ek saam met ’n paar kollegas Psalm 123. Die teks begin met dié woorde: “Na U kyk ek op, U wat in die hemel woon.” Wat sou dit tog kon beteken om onsself só te oriënteer? Ons ken immers die uitdrukking goed, maar weet ons ook wat word ten diepste hiermee bedoel? Wat impliseer dit nou eintlik as ons die oë na bowe hef? Wat hierná volg, is inderdaad kort en bondig, maar skraal en min is dit beslis nie.
Vers 2 sien die soort opkyk soos volg:
“Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar,
soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God
totdat Hy ons genadig is.”
’n Paar sake word onmiddellik hiermee duidelik. Mag en gesag behoort nie aan ons nie, maar aan God. Anders gestel, wie enigsins te kenne wil gee dat hul opkyk na God wat in die hemel woon, kan by implikasie nie eers daaraan dink om God te wil speel oor ander nie. Wie opkyk na God, doen dit vanuit die dieptes – en nie die hoogtes nie – van hierdie lewe. Wie wil opkyk na God, breek dus met die neerkyk op ander.
Presies dit word dan ook hierna uitgespel. Verse 3b en 4 voltrek die insig van die psalm met die volgende rou emosionele insig:
“… ons het meer as genoeg gehad van minagting;
tot in ons diepste wese het ons meer as genoeg gehad van die spotlag van selfvoldane mense, van die minagting deur hooghartiges.”
Daar kan geen twyfel wees nie dat die opkyk na God waarmee ons begin het, volkome wil breek met enige soort van neerkyk op ander. Om in gebed op te kyk na God is by implikasie om ook ’n streep in die sand te trek oor enige vorm van skynbare meerderwaardigheid (hoogmoed en arrogansie) teenoor ander mense. Mense hoef dit nie eens noodwendig te verbaliseer nie, want dit staan tog so duidelik geskryf in die blik waarmee gekyk word. Magsposisies, en soms ook die strewe daarna, ontaard maklik in ’n neerkyk op ander. Hulle word nie raakgesien vir wie hul regtig is nie, maar in my blik gereduseer en geobjektiveer tot iets waaroor ek kan heers.
Talle mense kan hiervan getuig. Dink maar net aan die verhale van soveel vroue oor die wyse waarop sommige mans na hulle kyk (die sogenaamde male gaze). Of, dink maar net aan die manier waarop mense met geld soms na mense kyk wat arm is. Of, daardie wit blik waarmee mense sonder enige kleur kyk na mense met ‘n bepaalde kleur. En … en … en …
En tog is dit ook nie so dat daar niemand is wat afkyk in hierdie teks nie. Daar is inderdaad Een wat afkyk (en let wel, nie neersien soos hierbo nie), en dit is God, en daardie blik is op ons almal gerig. Reg in die middel van die psalm word hierdie soort van kyk beskryf met ’n drievoudige geroep na God se genadige blik op ons: “… totdat Hy ons genadig is. Wees ons genadig, Here; wees ons genadig.”
Moet ons ons kop in skaamte laat sak oor hoe ons soms na mense kyk (en op hul neersien)? Anders gestel: Moet ons ons kop in skaamte laat sak oor hoe eng en gereduseer ons ook die blik na bowe hef? Beslis ja! En tog ook nie net dit nie. Dalk moet ons meer begin opkyk, vanuit die dieptes, en sien hoe God met ’n genadige blik afkyk op ons almal … sodat ons besef dat ons genoeg gehad het van die neerkyk op enige ander vorm van lewe.