Dosent in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat
2025 merk ‘n Ekumeniese Jaar op die Pelgrimstog van Geregtigheid, Versoening en Eenheid.
Sedert 27 Junie 2016 is die NG Kerk weer ’n volle lid van die Wêreldraad van Kerke; dit nadat die NG Kerk in 1961 besluit het om die bande met die WRK te verbreek.
Wat is die Wêreldraad van Kerke?
Die Wêreldraad van Kerke is ‘n gemeenskap van kerke wat die Here Jesus Christus as God en Verlosser bely volgens die Skrif, en daarom saam hulle gemeenskaplike roeping wil vervul tot eer van die een God, Vader, Seun en Heilige Gees.
Dit is ‘n gemeenskap van kerke op die pad na sigbare eenheid in een geloof en een nagmaalsgemeenskap, uitgedruk in aanbidding en in ‘n gemeenskaplike lewe in Christus. Dit streef daarna om na hierdie eenheid te vorder, soos Jesus vir sy volgelinge gebid het, “sodat die wêreld kan glo” (Johannes 17:21).
Die Wêreldraad van Kerke is die breedste en mees inklusiewe onder die vele georganiseerde uitdrukkings van die moderne ekumeniese beweging, ‘n beweging waarvan die doel Christelike eenheid is.
Die Wêreldraad van Kerke en ’n Ekumeniese Jaar?
Die Ekumeniese Jaar vind plaas teen die agtergrond van verskeie herdenkings, waarvan die Nicaea Belydenis (325), een van die drie belydenisskrifte is wat die NG Kerk saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Geloofsbelydenis Athanasius onderteken.
Daarmee saam is dit die 100ste herdenking van die Universal Christian Conference on Life and Work in Stockholm (stigting 1925) die 60ste herdenking van die Joint Working Group between the WCC and the Roman Catholic Church (1965); asook die 40ste herdenking van die South African Kairos Document – om maar ’n paar op te noem.
Die Ekumeniese Jaar se hoogtepunt is waarskynlik die 6de World Conference on Faith and Order.
Daarom dat ons dit goedgedink het om in aanloop tot die sesde World Conference of Faith and Order (van 24 tot 28 Oktober 2025 by die Logos Papal Center of the Coptic Orthodox Church, naby Alexandria, Egipte) en die 27th General Council van die World Communion of Reformed Churches (van 14 tot 23 Oktober 2025 in Chiang Mai, Thailand), ’n reeks artikels oor die belangrikheid van die ekumene vir die NG Kerk in Vrypos te publiseer.
Prof Henco van der Westhuizen, dosent in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, is ’n personeellid van die Wêreldraad van Kerke waar hy as “Consultant of Faith and Order” dien.
| Verskaf: Prof Henco van der Westhuizen, dosent in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat en personeellid van die Wêreldraad van Kerke waar hy as “Consultant of Faith and Order” dien.