Deur ds Janke Hurter, jeugleraar van NG Gemeente Berg-en-Dal
Op reis saam met … : Wat behels my studie?
Ek is tans die jeugleraar by NG Berg-en-Dal waar ek saam met twee ander kollegas die gemeente bedien. Ek is hoofsaaklik verantwoordelik vir die Jeugbediening van die gemeente. Terselfdertyd is ek ook besig met nagraadse studie aan die Universiteit van die Vrystaat. My navorsing val onder Praktiese Teologie (Liturgie). Met my studie beoog ek om op reis te gaan (metafories gesproke) saam met vier passasiers wat my baie interesseer, naamlik: Kontemplatiewe spiritualiteit, gereformeerde aanbidding, liturgiese vernuwing en geloofsvorming. Met hierdie reis wil ek ontdek hoe die vier passasiers met mekaar verband hou (ek kyk na sowel die kreatiewe as dekonstruktiewe spanninge wat tussen hierdie vier konsepte bestaan), en of daar ’n oomblik op hierdie reis is waar al vier passasiers uit een mond praat; ’n oomblik waar die vier verskillende landskappe met mekaar oorvleuel. (Die saak waaroor dit in hierdie studie gaan, kom uit ’n persoonlike worsteling met die vraag, wat spruit uit my eie ervaring en reis met hierdie vier konsepte tot op hede.) Deur middel van reflekterende joernaalinskrywings – waarin ek dele van my eie reis met elkeen van hierdie konsepte probeer verwoord – wil ek antwoorde probeer bied op hierdie belangrike vraag. My hoop is dat ’n beskrywing van my eie reis saam met hierdie vier passasiers ook sal help om gewaarwordinge wat in die groter (kerklike en akademiese en sosiale) publiek sigbaar is, beter te verstaan.
Om padlangs te (leer) bedien: Die waarde van nagraadse studie vir ’n gemeente-dominee
In hierdie stadium hang die waarde van nagraadse studie vir my saam met die feit dat ’n persoonlike vraag waarmee ek as individu self worstel, die sentrale fokus van die studie vorm. (Die vier kernkonsepte van die navorsing verklap ook iets van my eie bedieningsvoorkeure). In my geval, waar die persoonlike vraag oor die verband tussen die vier konsepte kontemplatiewe spiritualiteit, gereformeerde aanbidding, liturgiese vernuwing en geloofsvorming gaan, vorm die nagraadse studie vir my ’n instrument om my bediening en my eie aanslag tot bediening (my eie voorkeur ten opsigte van die wyse waarop ek my bediening wil inrig en aanpak) verder te ontsluit. Verder lê die waarde van nagraadse studie soos gesien uit die nagraadse studie-reis tot dusver, vir my ook in die ontdekking dat so ’n studie ’n reis op sigself is, en nie soseer ’n soort eindbestemming wat bereik moet word nie. Nagraadse studie is vir my veel meer as nog ’n kwalifikasie in die sakkie, of ’n titel. Die waarde van nagraadse studie lê in hierdie stadium van die reis vir my in die geleentheid wat dit bied om saam met ander te bly nadink oor kerkwees en die wyse waarop hierdie vier konsepte waarin ek baie belangstel, verstaan en aangebied word. Dit is juis op hierdie punt waar die nagraadse studie na my mening my gemeentebediening komplementeer. Dit is juis in hierdie proses van saamdink, van lees en luister; waar ek telkemale al op hierdie akademiese reis in só ’n mate geïnspireer is dat ek alreeds – terwyl ek nog op pad is om my studie te voltooi – die insigte as jeugleraar binne die konteks van Berg-en-Dal begin aanpas en aanwend het. Dit is juis in hierdie proses dat ek so padlangs padkos (“food for thought”) kry vir my eie bediening by Berg-en-Dal.
| Verskaf: Ds Janke Hurter, jeugleraar van NG Gemeente Berg-en-Dal