
Deur dr Lyzette Hoffman, Dekaanskantoor: Fakulteit Teologie en Religie, UV
Agtien teologie-studente het die 4de April opgewonde vertrek na die Nampo-terrein buite Bothaville vir die jaarlikse #Imagine ervaring. #Imagine is ’n “kamp” vir Christen tieners wat tieners wil inspireer en toerus. Ongeveer 800 tieners vanuit die Vrystaat, Noord-Kaap, Noord-Wes en Gauteng het die geleentheid bygewoon.
Baie dinge gebeur by #Imagine. Daar is begeesterde lofsang en inspirerende sprekers. Gedurende die kamp kan die tieners ook tussen verskillende werkswinkels kies om aan deel te neem. Onder meer oor sosiale media, plaaslike uitreike, sport bediening, gebed en gesin. Die teologie-studente gaan om ’n werkswinkel vir die tieners aan te bied. Die werkswinkel “Help-a-buddy” wil tieners bemagtig om ’n vriend/in te begelei wat deur ’n moeilike tyd gaan. Daar word vier scenario’s bespreek: ’n vriend wat sukkel met ’n verslawing, spanning en angstigheid, verhoudings of boelie gedrag. Die studente het die geleentheid gebruik om met die tieners oor hierdie uitdagings in hulle lewe te gesels. Deur rollespel is dan ook gedemonstreer hoe om iemand effektief te ondersteun deur eers hulle storie te hoor, dan te soek na die waarheid in hierdie situasie en laastens ’n besluit te neem wat ’n verskil kan maak.
In die groot Nampo-saal word verskeie ontmoeting-stasies opgestel. Die tieners kry geleentheid om op die boodskap van die stasie te reageer. Die teologie-studente se tema was “genesing”. Tieners kon hul behoefte aan genesing ten opsigte van alle aspekte van hulle lewe op die gebroke harte gaan neerskryf. Die studente het ook saam met die tieners gebid waar daar ’n behoefte was. Die teks van die naweek was Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou by die put. Die ontmoeting-stasies het geleentheid gebied om bewus te word van Jesus wat jou wil ontmoet soos die vrou by die put.
Tieners getuig van die wonderlike geestelike ervarings by #Imagine. Die teologie-studente het ook getuig van die voorreg om hier kniediep in die bediening te staan – van plakkate maak en stoele ronddra, tot diep gesprekke en hartroerende gebede. Dr Lyzette Hoffman reël jaarliks die studente se #Imagine-toer. Die Fakulteit gebruik graag geleenthede soos hierdie om studente prakties vir hul rol in die Koninkryk van God toe te rus.



| verskaf deur: Dr Lyzette Hoffman, Dekaanskantoor: Fakulteit Teologie en Religie, UV.