Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Johan Nel – ons teologiese opleiding in bekwame hande

Tydens ons sinodesitting in Maart vanjaar het die opleiding van ons teologie-studente redelik onder skoot gekom. Daar is uit sommige geledere met groot kommer na die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Teologie, die kuratorium en seminarium gekyk.

Uiteraard is dit natuurlik van kardinale belang dat die akademiese instansies waar ons studente teologies geskool en geestelik gevoed word, altyd met groot verantwoordelike omsigtigheid met hierdie opleiding sal omgaan.

Om meer lig op dié belangrike saak te werp, het ons gaan kers opsteek by die persoon verantwoordelik vir hierdie uitdagende taak, naamlik dr Johan Nel. Buiten ’n stewige teologiese opleiding en uitgebreide pastorale ondervinding, het hy ook deeglike ervaring as dosent in verskeie dissiplines.

Johan is gebore en getoë in Boksburg aan die Oos-Rand, matrikuleer aan die Hoërskool Voortrekker en verwerf sy BA en BD aan die Universiteit van Pretoria. Aan die einde van 1986 word hy as predikant van die Ned Hervormde Kerk gelegitimeer en doen vir twee jaar daarna sy militêre diensplig by die Lugmagbasis Bloemspruit.

Vanaf 1989 dien hy as predikant in die gekombineerde Riebeeckstad/Hennenman-gemeentes tot 2001. In daardie tyd verwerf hy sy MTh in Pastorale Terapie aan die Universiteit van die Vrystaat (1993) en sy PhD in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria (2000).

Vanaf 2001 tot 2013 was hy predikant van die Ned Hervormde gemeente Bloemfontein (Langenhovenpark) en vanaf 2014 deeltyds by die Ned Hervormde gemeente Bloemfontein-Wes.

Sedert 2003 was Johan ook deeltyds as dosent betrokke by die Universiteit van die Vrystaat se Magisterprogram in Pastorale Terapie, asook by die Universiteit van Pretoria waar hy verantwoordelik was vir die aanbieding van die Diploma in Pastorale Sorg.

Johan het ’n groot belangstelling in sielkunde en het intussen nagraads deur UNISA studeer, terwyl hy die vereiste internskap om by die HPCSA (Mediese Raad) as sielkundige geregistreer te word, in 2010 voltooi het.

Tans is Johan voltyds by die teologiese opleiding as seminariumbestuurder betrokke, terwyl hy steeds sekere modules in die Magisterprogram by die Universiteit van die Vrystaat aanbied. Terseldertyd bedryf hy ook deeltyds ’n klein spreekkamer.

Terug by die sinodesitting en die redes vir kommer oor die opleiding van ons teologie-studente antwoord Johan as volg: “Dit is altyd vir my positief dat daar van die kerk se kant af belangstelling en betrokkenheid by die opleiding van ons voornemende predikante is. Dit is immers in die kerk waar die studente uiteindelik gaan dien.

“Ek het wel die indruk gekry dat daar ’n mate van onkunde bestaan wat die opleiding by die Universiteit van die Vrystaat betref. Baie van die predikante kom uit ’n bedeling waar die fakulteit in die verlede, benewens die akademiese opleiding, ook die kerklike vorming behartig het.

“Intussen het die getalle van NG Kerk-studente dramaties afgeneem en het die fakulteit ekumenies geword, wat beteken dat dit nie meer net ’n ‘NG Kerk’-fakulteit is nie. Die akademiese komponent van die opleiding vind steeds by die universiteit se Fakulteit Teologie plaas (waar ons studente hulle formele kwalifikasies in teologie verkry), terwyl die kerklike vorming by die seminarium gedoen word. Die fakulteit en seminarium het ’n hartlike, eerlike en deursigtige verhouding en werk as vennote uitstekend saam.”

Dit is egter ook belangrik om die verskillende funksies van die seminarium en kuratorium te verstaan. Johan verduidelik dit as volg: “Die kuratorium is die formele opsig-liggaam wie se taak dit is om toesig te hou oor letterlik elke faset van die teologiese opleiding van die studente. Formele onderhandelinge en gesprekke tussen die fakulteit en kuratorium vind gereeld plaas om seker te maak dat die akademiese posisionering van die studente altyd onbesproke is. Daar is ’n algemene kuratorium wat die belange van elke instansie wat met opleiding van NG Kerk-predikante gemoeid is (Bloemfontein, Stellenbosch en Pretoria), behartig. Elke instansie het ook ’n eie kuratorium-dagbestuur wat die verskillende gedeeltes van die sinodale gebiede dien.  Die kuratorium se taak is om voornemende dienaars van die Woord jaarliks te evalueer en as predikante te legitimeer (wettig tot die amp van predikant toe te laat). Daar bestaan tans verskillende moontlikhede van diens in die bediening. Benewens die gemeentepredikante, word diensleraars en bedienaars met erediensbevoegdheid (die sogenaamde diverse bane van opleiding) ook gevorm om tot die aktiewe bediening toe te tree.

“Die seminarium het vyf jaar gelede tot stand gekom, juis om die kerklike vorming wat vir ’n voornemende predikant van die NG Kerk onontbeerlik is, te behartig. Dit wat vroeër as deel van die kurrikulum aan die fakulteit aangebied is, maar spesifiek kerk-eie is, kan uiteraard nie meer aan ’n ekumeniese fakulteit gedoen word nie. Die seminarium vervul hierdie behoefte deur weeklikse programme van die seminarium vir elke jaargroep aan te bied. Ek dink aan byvoorbeeld die belydenis van die kerk, kerkgeskiedenis, gereformeerde spiritualiteit, ekumenisiteit, bedieningspraktyke en, baie belangrik, persoonsvaardighede.”

Een van Johan se mees uitdagende take is waarskynlik die faktore wat in ag geneem moet word wanneer die inhoud van modules bepaal en ontwikkel moet word vir die skryf van die teologiese opleiding-handleidings. Hierop antwoord hy as volg: “Ons moet weereens onderskei tussen akademiese modules wat aan die universiteit gedoseer word. Daar is dit nodig dat die volle spektrum van die teologiese vakdissiplines ondervang word. Dit is uiters omvangryk. Vroeg in die opleiding word die studente byvoorbeeld al onderrig in die grondtale, met die gepaardgaande studie in Ou– en Nuwe Testament, en so mond die opleiding uit in al die verskillende vakdissiplines wat die kerk nodig ag vir verantwoordelike teologiese opleiding.

“By die seminarium word komplementerend te werk gegaan en in die handleiding van die seminarium word aandag gegee aan byvoorbeeld die credo (geloofsbelydenis), kerkgeskiedenis, gemeentelike praktyk, spiritualiteit, etos en die ontwikkeling van ’n gebalanseerde gemeenteleier.”

Die jongste navorsing, tydsgees, ensovoorts, speel sekerlik ’n belangrike rol ten opsigte hiervan? “Die woord, ‘teologie’ (letterlik Woord van God) sê eintlik alles,” verduidelik Johan.  “Deur middel van nuwe navorsing word ou waarhede bevestig en uiteraard moet die kerk relevant binne die huidige konteks bly. Met die Bybel in die hand, ook wanneer ons dit bestudeer, waag ons onsself op heilige grond.  Dit is altyd opwindend en insiggewend om nuwe, goeie en goed gefundeerde navorsing te lees en ook die implikasies daarvan vir die kerk te oorweeg.”

In hierdie tye, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd, het teologiese instellings met groot uitdagings te kampe. Hoe ervaar Johan dit? “Ek is baie besorgd oor die krimpende getal studente wat vir teologiese opleiding aanmeld. Ek is van mening dat ons indringend moet gaan vra na die redes hiervoor. Terselfdertyd is die bediening ’n roeping waartoe God mense roep, en ons dus nie kandidate behoort te ‘werf’ nie.

“Studente kry ook toenemend finansieel swaar, en is in sommige gevalle selfs broodwinners. Daar is waarskynlik ook vrae rondom die regverdiging van groot bedrae geld wat aan min studente in opleiding bestee word. My mening is egter dat daar eintlik nie ’n prys geplaas kan word op geroepenes wat hul lewens in diens van die koninkryk en kerk wil wy nie.

“Daar het intussen ook die opwindende nuwe moontlikhede oopgegaan dat mense met ’n roeping tot die bediening, benewens die tradisionele roete van opleiding, ook deur middel van die diverse bane bekwaam gemaak kan word en met vrug in gemeentes kan werk.”

Vra jy vir Johan wat vir hom hoop gee, veral ten opsigte van sy betrokkenheid by die seminarium en kuratorium, is sy antwoord: “Ek het ’n kinderlike geloof dat Christus Self sy kerk in stand hou, en daarom is daar altyd hoop. Te midde van ’n veranderende kerklike landskap moet nuwe maniere gevind word om kerk te wees, maar ’n kerk wat steeds die Woord suiwer en onverdund, sonder apologie, bly verkondig. Dit gee my hoop. En dan die studente in al die verskillende bane van opleiding – húlle gee my hoop. Hulle roepingsbewustheid en toewyding verbyster en beskaam my dikwels.”

Dan is dit natuurlik ook nodig dat ’n mens soms moet kan afskakel. As Johan dit die slag wel doen, wil hy dit behóórlik doen en mag niemand hom dan pla nie. Dan gaan sit hy diep in sy leunstoel met ’n goeie boek of luister na sy geliefde pyporrel-musiek. Hy is ook baie lief vir goeie kuns.

Johan is al 36 jaar gelukkig getroud met Ilse, ’n onderwyseres en orrelis; hulle het twee kinders. Die oudste, Carmi, is ’n uitvoerende violis en is getroud met Carel, ’n dosent in fisioterapie aan die UP. Hul seuntjie, Thomas, word in Oktober twee jaar oud. Johan-hul se tweede kind, Werner, is predikant in Klerksdorp Doringkruin-gemeente en is getroud met Martinet, ’n arbeidsterapeut. Hulle dogtertjie, Lenke, word binnekort ’n jaar.

[Dr Johan Nel. Foto: Tertius Botha]
116 | Maatskaplike NOODLYN