Deur prof Kobus Schoeman,navorsingsgenoot in die Departement Praktiese en Missionale Teologie aan die UV
Die “Dutch Reformed Church in Botswana” (DRCB) is die oudste susterkerk van die NG Kerk buite die grense van Suid-Afrika. Die DRCB is oor twee jaar 150 jaar oud. Die sinodes van die Vrystaat en Noord-Kaapland het ’n lang verbintenis met die DRCB.
Die DRCB het die afgelope jaar of twee begin worstel met die groei van die kerk en gemeentes. Ds Thapelo Boikanyo is leier van ’n taakspan in die DRCB om gemeentes te help nadink oor groei. In 2024 het die taakspan besluit om aan die “Church Life Survey” (CLS) deel te neem. Die gemeentelike deelname was baie goed en 16 (uit 21) gemeentes het die CLS-opname voltooi.
Die gemeentelike verslae is verlede jaar aan die gemeentes besorg, maar daar is ook besluit om ’n werkswinkel vir die leierskap van die gemeentes aan te bied. Dit het op Saterdag 25 Oktober in Gaborone plaasgevind. Die werkswinkel is deur meer as 50 gemeenteleiers van 15 gemeentes bygewoon.
Voor sit ds Christo Jonck (Predikant in Sinodale Diens – Noord-Kaapland), ds Thapelo Boikanyo en prof Kobus Schoeman wat die werkswinkel aangebied het.
Die leiers is toegerus om die inligting wat in die gemeentelike verslae is in hulle eie gemeentes te gebruik om groei te fasiliteer. ’n Opvolgwerkswinkel word vir middel 2026 beplan sodat die leiers terugvoer kan gee en die proses kan voortgaan.
| Verskaf deur : Prof Kobus Schoeman, navorsingsgenoot in die Departement Praktiese en Missionale Teologie aan die UV.

