Deur Mariëtte Odendaal
“Gelukkig ken ek, danksy my jarelange sinodale betrokkenheid, die kerklike strukture baie goed en is alreeds die afgelope twintig jaar betrokke by Bedieningsbegeleiding. Ek ken ook alreeds die personeel in die sinodale kantoor; iets wat my werk aansienlik vergemaklik.”
Dr Leon M Foot
As jy deesdae in die Sinodale gebou van die NG Kerk Vrystaat instap, sal jy dr Leon M Foot in die wandelgange daar as die nuwe Uitvoerende Amptenaar: Bedieningsbegeleiding raakloop.
Hy is aangestel in die plek van ds Barnard Steyn wat vanaf 1 Mei as Predikant in Sinodale Diens (PSD) van die Diensgroep vir Barmhartigheid by die NG Kerk Wes-Kaapland in die plek van dr Nioma Venter begin werk het.
Maar wie is dr Leon M Foot nou eintlik? Ons het meer gaan uitvind.
Leon, vertel ons meer van jou grootword- en opleidingsjare.
“Ek is ’n gebore Kapenaar wat in die suidelike voorstad Kenwyn grootgeword het. Ek het matriek aan die Hoërskool Zwaanswyk, Retreat voltooi waarna ek in die 1980’s my BA, BTh, Lisensiaat in Teologie en MTh in kliniese pastoraat aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het.”
“Daarna het ek my nasionale diensplig in Pretoria by die Vloot-hoofkwartier, SAS Immortelle, gedoen en in 2013 het ek ’n PhD-graad in praktiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.”
Hoe het jou pad toe daarvandaan geloop?
“Ek het aanvanklik by die finansiële bestuur van die sinode begin en is steeds die voorsitter van beide die Algemene Sinode en die Vrystaat Sinode se beleggingskomitees. Ek is ook die voorsitter van die Vrystaat Sinode se pensioenfonds en dien as trusteelid van die Kaapse Predikante-pensioenfonds.”
“Ek is waarskynlik die langsdienende lid van die Vrystaat Sinode; ek dien al sedert 2013 in die moderamen.”
“Ek sien daarna uit om die sinodale pos as Uitvoerende Amptenaar: Bedieningsbegeleiding (seker die langste titel in die kerk!) met erns aan te pak en voort te bou op die goeie werk wat deur Barnard Steyn gedoen is.”
So van jou nuwe pos gepraat – wat behels dit alles?
“Hierdie pos het alles te doen met predikante, gemeentes en ringe.”
“Dit fokus veral op wat die sinode (in kerkverband) kan doen om die kerk te help. Baie van die werk behels die koördinering van werksaamhede, soos byvoorbeeld die voortgesette bedieningsopleiding (VBO) van leraars, die aanbieding van werkswinkels (sentrums) deur middel van rollespel, die fasilitering van uitdagings in gemeentes, ensovoorts.”
Waarop sou jy graag wou voortbou en watter nuwe projekte sou jy graag wou vestig?
“My voorganger, Barnard Steyn, het goeie werk gedoen en in sy termyn ongeveer ‘n dosyn netwerke tot stand gebring.
“Een van die jongste werksaamhede is Handevat-gemeentes, vroeër bekend as Meervoudige Standplaasb Bediening. Hierdeur probeer ons gemeentes ondersteun wat nie meer alleen ‘n leraar kan bekostig nie. ‘n Ander gemeente vat hande met hierdie gemeente en hulle werk dan saam ‘n bediening uit wat vir hulle kan werk. Die projek is nog in sy kinderskoene, maar hou baie potensiaal in om die kerk ’n hupstoot te gee.”
Soos in enige werk het hierdie pos ook natuurlik uitdagings?
“Ja, beslis. Ons gemeentes word al hoe kleiner, armer en ouer. Veral op die platteland is dit ‘n groot uitdaging.”
“Daar is ook grootskaalse sekularisasie in ons samelewing. Die kerk van môre gaan baie anders lyk as die kerk van gister.”
“Ons verloor ook baie leraars – groot getalle tree nou af – en daar is baie minder teologiestudente wat uiteindelik hierdie leemte sal kan vul.”
“Sang en musiek is deel van ons liturgie, maar orreliste of begeleiers en ook sangleiers word al hoe skaarser, veral op die platteland. Die voorsiening van goeie hulpmiddels hiervoor is dus noodsaaklik.”
Gelukkig het elke donker wolk ook ’n silwer randjie. Wat sou jy sê is die positiewe elemente wat jou werk makliker help maak?
“Gelukkig ken ek, danksy my jarelange sinodale betrokkenheid, die kerklike strukture baie goed en is alreeds die afgelope twintig jaar betrokke by Bedieningsbegeleiding. Ek ken ook alreeds die personeel in die sinodale kantoor; iets wat my werk aansienlik vergemaklik.”
“Nog ’n silwer randjie is ons vry-WIL-ligers wat WIL, of netwerkvoorsitters en ander mense wat graag iets WIL doen vir die breër kerk. Daarsonder sou dit maar knor om iets gedoen te kry.”
Buiten Leon se ryke sinodale ervarings, het hy ook ’n paar publikasies op sy kerfstok.
In 2008 skryf hy twee hoofstukke vir Jannie le Roux en Braam Hanekom se boek Christenleiers: God se mense vir nuwe werklikhede (2008), naamlik Christenleiers word gedryf deur liefde en Christenleiers leef uit en met genade, uitgegee deur Bybel-Media.
In 2010 skryf hy ʼn kinderpreek vir Annes Nel se boek God sorg vir ons, ook uitgegee deur Bybel-Media, en in 2014 publiseer hy saam met sy promotor prof JA van den Berg ʼn artikel in die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) gebaseer op sy doktorale navorsing: Lewe na apartheid: Lidmate se narratiewe vanuit ’n longitudinale pastorale betrokkenheid. NGTT DEEL 55, NO 1, 2014, p43-60.
Leon is al 41 jaar getroud met Sarie, ‘n laerskoolonderwyseres wat verlede jaar afgetree het. Hulle het drie seuns. Marius is getroud, Stefan werk in Nederland en die jongste seun, Jaco, woon nog by sy ouers in Welkom. Aangesien Leon in Bloemfontein werk, pendel hy naweke heen en weer.
Ons wens vir jou net die beste ervaring in hierdie nuwe pos toe, Leon. Mag die Here jou leierskap in alle opsigte seën.
Kontak dr Leon M Foot by leon@ngkvs.co.za vir meer inligting.