Deur dr Marelize Maritz, NG Kerk Algemene Sinode: Taakspan Navorsing
Dis ’n koue Saterdag op die Goudveld terwyl ’n klompie leiers hulle plekke inneem rondom tafels in die konsistorie van Riebeeckstad. Hulle is hier om, as gemeentes, met die CLS-resultate van hulle gemeentes te werk. Prof Kobus Schoeman en dr Lourens Bosman van die Taakspan Navorsing verduidelik hoe die inligting gegroepeer word in uitstaande kenmerke van die gemeente, maar ook watter temas as minder belangrik in die gemeentes geag word. Die belangrikste is om die inligting te balanseer en met mekaar te vergelyk, sonder om lukraak eensydige afleidings te maak. Gemeentes wat byvoorbeeld nie die behoefte aan kinderbediening hoog aanslaan nie, moet dit saamlees met die feit dat hulle min kinders en ’n gemiddelde ouderdom van 64 jaar in die gemeente het. Daar is in hulle geval niks verkeerd met ’n gebrekkige behoefte aan kinderbediening nie – want daar is nie kinders nie. Sien liewer raak dat dit ’n ouerwordende gemeente is en dink hoe julle dit gaan bestuur.
Dit neem nie lank vir die groepe om, in kort werksessies, met planne vorendag te kom vir fokusareas vir die volgende paar maande nie. Hulle ontdek dat CLS-resultate nie ’n plan gee vir strategiese beplanning nie, maar eerder ’n stuk gereedskap is om ’n langtermyn-prosesplan te bedink vir die rigting waarin ’n gemeente behoort te beweeg. CLS-resultate gee die stem van die lidmate se wense, behoeftes en hul identifisering van moontlike leemtes. Al hierdie stemme uit die gemeente moet versigtig en gebalanseerd saam gelees word ten einde deurdagte besluite te neem vir die bedieningspraktyke in die gemeente.
Saam met prof Schoeman en dr Bosman het dr Leon M Foot ook telkens beklemtoon dat die bediening in die gemeente nie van die leraar alleen afhang nie. Lidmate is deel van God se gemeente en daarom is hulle deelname in die besluitneming oor die bedieningspraktyke in die gemeente van kardinale belang. CLS bied vir elke gemeente die geleentheid om hierdie stemme op ’n wetenskaplike manier te bekom, te bestuur en te inkorporeer in besluitneming oor die bediening in die gemeente.
As jy graag meer wil weet, of aan so ’n proses (van ’n CLS-opname) wil deelneem vir jou gemeente, kontak gerus vir prof Kobus Schoeman by die UV (SchoemanW@ufs.ac.za), of dr Leon M Foot (leon@ngkvs.co.za), uitvoerende beampte van Bedieningsbegeleiding. Hulle sal graag help.