Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Wees stil en weet …” Vroue-krag word innerlik versterk

Deur Mariëtte Odendaal

“Na die naweek kon ons terugkeer na ons daaglikse lewe, werk en gesinne en die geraas van elke dag, maar nou met ’n innerlike krag en stilte wat slegs teen God se Vader-bors en aan Jesus se voete verkry kan word.”

Béneli Pretorius
Voorsitter: Vrouediens, NG Kerk Vrystaat

Vroue is wêreldwyd dikwels die ruggraat van enige gesin, gemeenskap en veral gemeente. Dit is dan maklik om te verval in ’n mallemeule van huishoudelike, gesins- en gemeenskapsverantwoordelikhede, om nie eens te praat van hul beroepe nie.

Daarom is dit so belangrik dat elke vrou ten minste twee maal per jaar tot rus kan kom op ’n plek ver van haar huis, werk en gemeenskap waar haar batterye net weer ’n slag geestelik gelaai kan word.

En dit is presies wat die NG Kerk Vrystaat se Vrouediens vanaf 21 tot 23 Februarie gedoen het toe 190 vroue uit 46 Vrystaat-gemeentes asook een gemeente van die Ring van Dordrecht in die Oos-Kaap ’n toerustingsgeleentheid by Amanzi, net buite Brandfort bygewoon het.

Ons het meer gaan uitvind by Béneli Pretorius, voorsitter van die Vrouediens.

Béneli, waarom het julle besluit om die geleentheid by Amanzi aan te bied?

“Die omgewing leen hom daartoe om afgesonder en in ’n rustige omgewing, weg van die stadslawaai, te ontspan. Die natuur laat ’n mens besef hoe groot ons Skepper is. Jy hoor weer die voëltjies in die oggend sing en verwonder jou aan die natuur. Die wegbreek het ons ook gehelp om op die verrigtinge van die naweek te kon fokus.”

Wat het julle laat besluit om Stephan Joubert as spreker uit te nooi?

“Stephan is ’n teologiese reus wat sy kennis op so ’n praktiese en eenvoudige manier met mense deel dat hulle werklik Jesus beleef en raaksien in sy menswees.”

“Sy entoesiasme is aansteeklik en inspirerend om Jesus te gaan leef in die alledaagse wêreld. Ons het besonder baie baat gevind by sy aanbieding.”

Julle noem dit ’n toerustingsgeleentheid. Op watter manier sou jy sê is dit tydens die byeenkoms bereik?

“Die tema van die naweek was ‘Wees stil en weet’ wat ons met dekor en musiek uitgebeeld het.”

“Met behulp van Ella en Ellané Kotze se begeleiding kon ons ’n kykie in die troonsaal van God kry en ook iets daarvan ervaar. Verbeel jou ’n koor van byna 200 vroue wat soos engele ‘O Heer my God, as ek in eerbied wonder … ‘ en ‘… hoe heerlik, Heer, U grote Naam …’ sing dat jy hoendervleis kry.”

“Saterdagoggend kon ons die koppie uitstap tot by die drie kruise wat daar geplant is. Dit was soos ’n mini-pelgrimstog om so saam met die Here die nuwe dag in te stap; ons sal hierdie ervaring nooit vergeet nie.”

“Saterdagaand het Magdaleen du Toit ons ’n bietjie leiding gegee oor stilword-tegnieke en dit ook prakties laat oefen deur kuns, musiek en Skrif-asemhaling.”

“Onder leiding van Stephan Joubert het ons aan die hand van ses Bybel-karakters geleer wat stilte is en dat woorde soms in aanbidding oorbodig is.”

“Daar is vyf sessies met die volgende temas aangebied: ‘Die regte stilte vir my raserige kop’ (Kolossense 3 en Psalm 131), ‘Die dieper stilte in Jesus se nabyheid’ (Lukas 7: 36-8, 3 en 10: 38-42, Markus 12: 41-44, Openbaring 8:1), ‘Die dieper stilte voor God net toe ek hoop opgegee het oor ’n stukkende wêreld’ (Habakuk 1–3 ), ‘Die dieper stilte van verwondering en eerbied’ (die Markus-evangelie) en die laaste tema was ‘Die dieper stilte en die regte woorde van wysheid’ (Spreuke 31).”

“Ons het afgesluit met die erediens waar ons gedeel het in die Here se ete en in sy stilte en fees-woorde (Lukas 22 en Openbaring 3).

“’n Besoek van die voorsitter van die Vrystaat Sinode en ook die Algemene Sinode, ds Jan Lubbe, asook sy groeteboodskap aan ons Vrouediens was vir ons ’n riem onder die hart.”

“Ná die naweek kon ons terugkeer na ons daaglikse lewe, werk en gesinne en die geraas van elke dag, maar nou met ’n innerlike krag en stilte wat slegs teen God se Vader-bors en aan Jesus se voete verkry kan word.”

Hoe het die vroue en Stephan die byeenkoms ervaar?

“Dit was vir almal ’n baie verrykende ervaring. Ons het woorde gehoor soos: ‘Dankie vir ’n goeie naweek. Julle reëlings was puik, en ons het die toerusting van prof Stephan en die ontspanning in die natuur so waardeer en geniet’.”

“Volgens Stephan was die geleentheid vir hom baie aangenaam en opbouend. Hy noem ons span: ‘next level’!”

Die volgende Vrouediensbyeenkoms vind plaas vanaf 8 tot 10 Augustus en sal aangebied word by Menuha. Kontak Béneli Pretorius vir meer inligting by benelipretorius@gmail.com

 | verskaf deur: Béneli Pretorius