
| verskaf: Dr Gideon van der Watt.

Deur dr Gideon van der Watt
Hoe het die Vrystaatse NG Kerk se roepingsverstaan oor die jare ontwikkel? Het ons vandag ‘n helder en samebindende visie wat ons kerkwees rig? Dit is gepas om by die 160-jarige viering van ons kerkverband weer daaroor te besin.
Roepingsverstaan in die beginjare
In 1865, op die heel eerste sinodesitting van die Vrystaatse NG Kerk, is die kerk se identiteit kort en klinkklaar verwoord: ’n belydeniskerk, gebou op die kerkorde-tradisie van Dordt (1618-19) en die “formuliere van Eenigheid … ooreenkomstig met Gods Woord”. Die kerk se roeping word ook helder uitgespel: “De zorg van de belangen, zoo van het Christendom in het algemeen, als van de Gereformeerde Kerk in het bijzonder, de handhawing van harer leer, de vermeerdering van Godsdienstige kennis, de bevordering van Christelijke zeden, de bewaren van orden en eedracht en de aankweking van onderdanigheid aan owerheid en wetten …” Dis duidelik, die kerk se roeping moes relevant vir die “hier” wees – die plek en tyd waarbinne die kerk destyds geroep is. Daarom bestaan die kerk nie net ter wille van haar eie belang nie, maar het ’n groter roeping gerig op die uitbreiding van die koninkryk van God, of, in die woorde van daardie tyd, die “vermeerdering van Godsdienstige kennis”. In die wilde en wettelose pioniersdae van die Trans-Gariep was sake soos Christelike sedes, orde en wetsgehoorsaamheid van groot belang. En veral dat Christene en gemeentes die “leer” sal handhaaf en mekaar eendragtig sal vashou. Daartoe is die Vrystaatse kerk van die begin af geroep!
Fakkeldraers – Lig in die duisternis
Reeds in 1877 het die kerk pogings aangewend om ’n eie kerkblad uit te gee en te versprei: De Fakkel. Hierdie beeld het bly vassteek. Die fakkel sou mettertyd al hoe sterker uitdrukking gee aan die kerk se identiteit en roeping as ligdraers in ’n donker wêreld, ook oor grense van klas en ras … binne elke plaaslike gemeente, in Witsieshoek, Zambië en later selfs tot in Japan. Hierdie roepingsverstaan het in 1925 neerslag gevind in die amptelike “kerkseël” van die Vrystaatse Kerk, soos voorgestel deur ds. PS van Heerden van Ladybrand. Dit was ’n skild met ’n brandende fakkel binne ’n sirkel met die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk van die Oranje Vrystaat. Onder die fakkel is ’n banier met die Latynse woorde “Lux in tenebris”, later na die Afrikaanse “Lig in die duisternis” vertaal. Dit was gebaseer op die teks van Jesaja 60:1-3: die Here wat die lig van sy magtige teenwoordigheid oor ons laat skyn, ter wille van die donkerte oor die aarde. Vandag sou ons dit ’n suiwer missionale verstaan van kerkwees kon noem, die kerk as die Here se gestuurde na die hier waarbinne ons geroep is.
Mettertyd, veral sedert die 1930’s en tot met die hoogbloei van Apartheid, is hierdie roepingsverstaan ten spyte van al die goeie wat die kerk gedoen het, skeefgetrek, en verword dit tot ideologie. Uiteindelik het dit maar net oor lig vir onsself gegaan, ten koste van die ander. Só moes die NG Kerk in 1986 en weer in 1990 bely.
’n Nuwe besinning oor roeping
Met die draai van die millennium moes die NG Kerk opnuut besin oor haar roeping in hierdie land. Die kerk was toe ook baie bewus van die MIV/vigs-epidemie, groter-wordende armoede, onreg, en die noodsaak van versoening. Daarom doen die NG Kerk in 2002 ’n eerste roepingsverklaring, waarin sy haar opnuut verbind aan God, en tot ’n roeping in Suider-Afrika, eenheid met ons susterkerke in die NG Kerkfamilie en die uitdra van genesing – as “lig van die wêreld”. Die 2002-verklaring sluit af met ’n crescendo: “Ons het ’n Here. Ons het ’n land. Ons is Sy kerk. Aan God al die eer”. Dis hier waar ons heil lê, maar ook ons roeping.
Hierdie 2002-verklaring is in 2007 aangevul met ’n tweede verklaring. Die gesindheid waarmee ons ’n verskil wil maak, word sterker beklemtoon: met ’n leerbare gees, in liefde vir mekaar en ander, met deernis en onvoorwaardelike diensbaarheid. Die slotgedeelte is ook gewysig: “Ons buig voor die Here. Ons is hier. Ons is sy kerk. Ons is gestuurdes.”
Dit was op voetspoor van hierdie roepingsverklarings van die Algemene Sinode wat die Vrystaatse NG Kerk ook moeite gedoen het om ’n eie roeping aan die begin van die nuwe eeu en in die “nuwe Suid-Afrika” uit te klaar. Dit gebeur binne ’n “seisoen van luister”, ’n tyd van geestelike onderskeiding. In 2005 reik die Vrystaatse Sinode ’n verklaring uit oor haar Gereformeerde identiteit en roeping. Dit behels ’n verbintenis aan God se Woord, maar ook dat die “Bybel na sy aard en bedoeling vertolk en verklaar” moet word. Wat die kerk se roeping in die Vrystaat betref, word die ou slagspreuk van “Lig in die duisternis” betekenisvol uitgebrei met “hier vir God, vir mekaar en vir die wêreld”. Ons glo dat die waarhede van die Bybel in ons konteks moet tuiskom. Uit dankbaarheid wil ons ’n verskil gaan maak in die gebroke wêreld rondom ons – só onderstreep die verklaring die kerk se gebondenheid aan die hier en nou in die Vrystaat.
Die 2005-roepingsverklaring is opgevolg met as oorkoepelende tema vir die 2009-sinodesitting: “Die kerk wat God ons roep om nou te wees”. Verskillende teoloë het lesings gelewer oor identiteit en roeping, oor gemeentes en kerkverband, en veral ook oor aanbidding in die erediens. Wat in die erediens gebeur, die hóé van die Here se ontmoeting met die gemeente, beïnvloed natuurlik hoe ons ons roeping in die wêreld uitleef. Dáár begin ons roeping, by die ontsag waarmee na God geluister en daarop geantwoord word. Maar ook hierdie ontmoeting behoort in eietydse idioom te gebeur.
’n Nuwe wapen vir die Vrystaatse kerk
Die besinning oor die kerk se identiteit en roeping het voortgegaan. Dat dit ook simbolies en eietyds verbeeld word, is belangrik. Dit bind gemeentes saam, bring entoesiasme en is op sigself ’n stuk getuienis. Onder leiding van ’n span grafiese kunstenaars is daar in 2013 begin met ’n proses om te vra: hoe sien die NG Kerk Vrystaat haar identiteit en roeping in die 21ste eeu? Daar moet kontinuïteit met die verlede wees; ons bestaan immers al 150 jaar! Maar die wapen moet sagter lyk, meer vroulik. Die vrolike uitkoms van die gesprek was: Ons sien onsself soos ’n vrou van om en by 40 jaar, wys en toegewyd, modern en professioneel, maar nie opgesmuk nie. Op grond daarvan is die fakkel en die bypassende lettertipe toe herontwerp. Die nuwe fakkel lyk soos ’n moderne fakkel, wat byvoorbeeld by ’n vorige Olimpiese spele aangesteek is. Die vlamme is kleurryk, want binne die kerk omhels ons diversiteit. Dit bly egter één vuur wat brand, en die Gees blaas dit aan tot ’n lig wat uitstraal in die donker, “hier, vir God, mekaar en die wêreld”. Dankbaar gebruik ons hierdie simbool as uitdrukking van ons roepingsverstaan.
’n Simbool soos ’n kleurryke, brandende fakkel-vlam verbeeld veel méér as wat woorde kan sê. Dit inspireer en roep, dit getuig en nooi uit tot viering, dit bind saam. Waar ons deesdae so vasval in woorde wat verdeel en lamlê, kan ons gerus weer toelaat dat hierdie simboliese uitbeelding van ons roeping, hier en nou, ons inspireer en verenig.

| verskaf: NG Kerk Vrystaat, die ou logo.

| verskaf: NG Kerk Vrystaat, die nuwe logo.
