Oor ons reis met Artikel 37, een jaar of sestig later.
Woensdagmiddag, 8 Maart 2023. Druk die “Send”-knoppie. “Verslag van die Moderamen aan die Buitengewone Sinodesitting”.
Op ‘n dag kort, presies één jaar ná die Sinode van die NG Kerk Vrystaat in Maart 2022 in die Protea-saal van die Bloemskouterrein dié opdrag gegee het: “Stel ‘n inligtingstuk saam oor Artikel 37 en kerkverband”, wat deur gemeentes en ringe oorweeg kan word en besluit dan oor die noodsaak om ‘n buitengewone sinodesitting vir die NG Kerk in die Vrystaat saam te roep. Min van ons het verlede jaar veel geweet oor dié artikel in ons Kerkorde (daarom ook die wyse besluit van die Sinode): Dat, sou een van “die samestellende kerke” dit “in die lig van God se Woord kan regverdig”, so ‘n kerk dan “uit die algemene sinodale verband” kan tree…
Op ‘n vreemde manier is dit eintlik ook gepas dat dit juis óns – die Vrystaatse Sinode – is wat dié artikel in diepte sou bestudeer en nou op 18 April daaroor gaan besluit. In die tyd toe ‘n Kerkorde vir die “hereniging” van die destydse vyf NG Kerke in ‘n “Algemene Sinode” geskryf is, was dit die “Nederduitse Gereformeerde Kerk in die O.V.S.” wat huiwering gehad het. Huiwering omdat twee van daardie vyf kerke ook lid van die Wêreldraad van Kerke was. Dit was immers die jare rondom die Cottesloe-beraad (1960) en in die Vrystaat is daar anders oor dié groot ekumeniese liggaam se standpunte gedink. In dieselfde jaar dat die Wêreldraad van Kerke byvoorbeeld tot stand gekom het – 1948 – is daar “Uit die Vrystaat” (só het die Kerkbode-rubriek van ds. CR Kotzé geheet) met Skrifvers en kapittel verduidelik dat “Apartheid ‘n Christelike beleid” is. Maar die huiwering het nog dieper gesetel. In daardie jare, moes predikante wat in ‘n NG-gemeente in die Vrystaat bevestig is, ‘n addisionele verklaring oor hul trou aan die Skrif en belydenis onderteken: Oor die Bybel as onfeilbare Woord van God in al die dele daarvan; oor die Skeppingsverhaal teenoor enige evolusieteorie; oor Moses as outeur van die Pentateug en dat Jona in die vis was; dat “Jesus Christus altyd die Waarheid is” – standpunte waarin die ná-rammelinge van die destydse Du Plessis-stryd in die Kaapse NG Kerk nog weerklink het. En dan was daar die huiwering dat die eie kerklike identiteit en teologiese standpunte van ‘n “kleiner samestellende NG Kerk” voor ‘n getalle-oorwig uit die Transvaalse noorde of Kaapse suide sou moes swig. Sestig jaar later – 2022 – en die NG Kerk in die Vrystaat vra haarself dié vraag af. By die drumpel van die kerkdeur, om Artikel 37 in ander woorde te stel.
Die “Studiegroep” wat deur verlede jaar se Vrystaatse Sinode saamgestel is om alle inligting oor Artikel 37 en so ‘n proses in te samel, was divers. Drie lede uit Bloemfontein, dan padlangs uit Winburg, Welkom, Kroonstad, deur die Riemland na Kestell en ook nog Clocolan aan die oosgrens. Een emeritus en een jong vrouedominee. Daar was diegene wat hulself in die “ruimte deur die Algemene Sinode gegee” kon vind én daar was diegene wat oor 2019 se besluite treur (“doleer”). Aan die begin het ons nie eers almal se e-posadresse gehad nie en party moes oefen om te “zoom” – sewe keer het ons só vergader. Twee keer mekaar in die kerksaal van die NG Kerk Rietfontein in Winburg – simbolies nie waar, ‘n eeu ná die gebeure van 1915 (!) – ontmoet en ‘n dag lank gepraat en geluister. Saam gebid en saam geëet. Ons moes mekaar leer ken. Ons moes leer om die etikette rondom mekaar se nekke af te haal. Ons moes mekaar leer vertrou. Die eerste brief wat ons in Junie verlede jaar na gemeentes sou stuur, het etlike weergawes beleef soos wat ons mekaar se woorde en vertolkings in “ewewig” wou hou. ‘n “Welwillende weg” wou soek, en – het ons meermale mekaar herinner – as óns as studiegroep dit kon regkry, die gesprek kon deurvoer, mekaar kon bly respekteer, geduld kon behou, saam kon bly soek… dan sou dit mos vir die NG Kerk Vrystaat ook moontlik kon wees?
Het ons dit reggekry? Die Buitengewone Sinodesitting sal daaroor ‘n mening gee; die kerkgeskiedenis vorentoe sal ons leer. Ons twaalf in die studiegroep sal heelwaarskynlik nie op 18 April vir dieselfde opsie oor Artikel 37 stem nie; miskien dalk in die laaste rondte, wie weet? Ons sou baie graag eerder konsensus wou sien, maar is ook realisites dat daar regtig verskillende oortuigings in ons NG Kerk Vrystaat leef. Soos elders. Dat ons nie mekaar se gewete moet bind nie. Vandaar, ses opsies voor die sinode.
Maar wat wél die afgelope jaar vir ons as studiegroep saam met mekaar op hierdie reis helder en duidelik geword het, was dat Artikel 37 ten diepste ‘n teologiese vraag aan ons almal stel – daardie: “… in die lig van God se Woord…” Op 18 April gaan die NG Kerk in die Vrystaat haarself in die spieël moet kyk, sestig jaar ná die totstandkoming van ‘n “algemene sinodale verband” met ons broers en susters anderkant die Vaal- en Gariepriviere, die Drakensberge, die Kalahari-woestyn. Oor daardie Kerkorde-artikel waaraan ons help skryf het. Hoe val Gód se lig? Wie is ons in Gods oë? Hoe regeer Christus sy kerk deur sy Woord en Gees? Dit gaan oor meer as die “vasgeloop” of “vrygemaak” van ons soort kerkpolitiek. Dit gaan oor Hóm wat ons in die eerste instansie geroep, versamel, versorg en gestuur het. Hier in die Vrystaat. Ons troos is dat ons aan Hóm behoort. Ons almal. En, Hy is nie net “die Waarheid” wat mens kan objektiveer en verdedig nie; Jesus Christus is ook “die Weg” waarop jy gaan en Hy jou lei en leer…
Laat ons 18 April dan biddend nader. Luisterend. Dit ís mos darem ‘n Dinsdag ánderkant Opstandingsondag?