Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Vyf leiers, vyf stories – ’n pad van genade en diens

Deur Mariëtte Odendaal

Ons 55ste NG Kerk Vrystaat Sinode vind vanaf 7 tot 10 Junie te Nampopark in Bothaville plaas.

Dit beteken dat ons moet afskeid neem van ons moderamen se vyf interimkomiteelede; toegewyde leiers wat vir die afgelope vier jaar ons kerk deur heelwat driwwe, oor steil bulte en verby diep afdraandes moes lei.

Ons het met hulle gaan gesels oor hoe hulle hierdie tydperk ervaar het.

Ds Jan Lubbe (voorsitter)

Jan, waarvoor was jy hoofsaaklik verantwoordelik in hierdie tyd?

“Ek het vir die afgelope termyn (2022 tot 2026) as voorsitter van die moderamen gedien. Dit het die leiding van 21 vergaderings van die moderamen asook 30 interimkomitee (dagbestuur-) vergaderings behels; ook enkele kleiner werkgroepe of taakspanne waamee ek moes help. Hierdie vergaderings is verspreid deur die Vrystaat gehou.

“Tydens hierdie termyn het ons ook nog twee buitengewone sinodesittings gehad (in 2023 en 2024) waarvan ek as voorsitter aangewys was.”

Wat was vir jou die grootste uitdagings in hierdie tyd?

“Daar was hoofsaaklik vier uitdagings. Eerstens was dit om ná die ontwrigting van Covid-19 (vanaf 2020 tot 2022) en die nuwe werklikheid wat dit teweeg gebring het, ons belewenis van ‘ons is aan mekaar verbind’, op nuwe maniere tot uitdrukking te bring; om mekaar weer te vind, te ontmoet, te leer ken en van mekaar te leer of raad te kry oor hoe ons bedieningswêreld verander het.

“Tweedens was dit om, gegewe interne spanninge rakende ’n aantal teologies-etiese kwessies en die vervreemding wat dit reeds vóór 2022 gebring het, ons as Vrystaatse kerkverband te stabiliseer; vrede te probeer maak; eenheid na te streef en ’n welwillende weg vir almal te probeer vind.

“Nog ’n uitdaging was om deurgaans ’n boodskap van bemoediging aan kollegas en lidmate te gee, veral ook in klein gemeentes, terwyl ons in ons Vrystaatse konteks en gemeenskappe (maar ook nasionaal en internasionaal) ’n baie onstuimige tyd beleef het – van die oorloë in die Oekraïne en die Midde-Ooste, tot daaglikse misdaad en die kanker van korrupsie en die Algemene Verkiesing van 2024, tot die rampe van veldbrande, vloede en nou ook bek-en-klouseer.

“Laastens was dit ’n uitdaging om te midde van dit alles ons kop op te tel en vorentoe te probeer kyk, te visioneer en te vra waarheen is God met al die gemeentes in die Vrystaat en ons roeping as kerkverband met ons op pad.”

Hoe het jy te werk gegaan om moeilike besluite te neem en leiding te gee?

“Ek het probeer luister – na voorgangers, kollegas en lidmate – om hulle wêreld te leer ken en te probeer verstaan. Dit het dan elke keer weer teruggelei na die Woord, die ou Skrifte en die spreke van God in Christus en deur sy Gees.

“Soms moes ’n mens eenvoudig vra: ‘Wat sou Jesus nou doen of sê?’ Ander kere moes jy saam met die Psalms wag en kyk waarlangs God ons lei. Die maandelikse Taizédiens in ons gemeente, waar daar soveel tyd vir stilte en gebed gegee word, was vir my ’n ankerpunt, asook die kere wat ons as moderamen na Menuha toe kon uitgaan, om dáár tyd saam te kon deurbring in afsondering, in die kapel, in ons lees en luister na die Woord.

“En ’n hoogtepunt: Die Predikante-saamtrek verlede jaar by Amanzi; die verhaal van Elia op pad na en by die Berg Horeb, saam met soveel kollegas!”

Wat het vir jou in hierdie tyd hoop gegee of bemoedig?

“Die volgende drie ontmoetings het my veral baie bemoedig: Eerstens my ontmoeting met God op verskillende tye en maniere soos hierbo genoem.

“Tweedens was my ontmoeting met gemeentes en kerkrade – ook in ringe – vir my baie bemoedigend. Wanneer ons onder verskillende omstandighede – in ’n erediens of vergadering of oop gesprek – lank genoeg na mekaar kon luister, het daar ’n diepe gewaarwording gekom van ons behoort aan God; Hy is getrou en sal ons bly lei. Ons is aan mekaar verbind – gewoon as mense én as medepelgrims.

“Dit het my ook baie hoop gegee en bemoedig dat soveel lidmate in moeilike tye nader getree of laat weet het dat hulle vir ons bid; dat hulle ’n boodskap waardeer het; dat hulle die harde werk en soeke na ’n weg saam vorentoe waardeer.”

Tot watter nuwe insigte ten opsigte van kerkwees het jy in hierdie afgelope vier jaar gekom?

“Dalk was dit nie noodwendig ’nuut’ nie, maar dit is wel insigte of gewaarwordinge wat hierdie afgelope vier jaar baie sterker tot my deurgedring het.

“Die insig dat dit met die ‘kerkverband’ net so goed kan gaan as wat dit met ‘gemeentes’ gaan, en dat dit met ‘gemeentes’ net so goed kan gaan as wat dit met ‘die dominee’ daar gaan (of dan, ‘die een wat die Woord en sakramente daar bedien’). Paulus se woorde: ‘As een lid ly, ly almal (en as een lid bly is, is almal ook bly)’ het vir my ’n dieper waarde begin kry.

“Dit is waar dat elke gemeente ecclesia completa (volledig kerk) is, maar nie op sigself die una sancta catholica (die een heilige, algemene of hele kerk) is nie. Om volledig die liggaam van Christus te wees het ons mekaar nodig en is ons deur Hóm aan mekaar gegee – die hele verskeidendheid van al ons 149 gemeentes!

“Ek het ook opnuut tot die insig gekom dat ons nooit waarlik ‘kerk’ sal kan wees en die roeping waarmee Christus ons uitgestuur het sal kan vervul as ons ons uit die Vrystaatse konteks en die gemeenskappe in dorpe, distrikte en stede onttrek nie – as ons ons rug draai op wat rondom ons gebeur en in die sagte gerief en veiligheid van die binnekant van ons kerkgebou ons oë sluit (selfs in gebed) en hoop alles  daar buite en die vrae daaroor, gaan verby of weg. Daar is net een volhoubare manier van kerkwees en dit is eerlik en kontekstueel – hier en nou.

“Ek het ook besef dat ons uiteindelik, bó en ná alles, teruggebring word na die eeue-oue twee vrae van God aan die mens: ‘Waar is jy?’ ‘Waar is jou broer?’ Overgesetsynde, deur Jesus: ‘Het jy God lief, en jou naaste?’ En dan sy uitnodiging: ‘Volg My (op daardie weg).’”

Wat is jou droom vir die NG Kerk Vrystaat?

“‘Droom’” klink vir my te veel na ‘scenario’, asof ek die toekoms sou kon uitdink, voorsien of beskik. Ons ontvang die lewe van God. Hy het wel vergesigte aan sy profete toevertrou, maar meer kere gesê: ‘Volg’, of selfs: ‘Keer terug’. Dus, ’n kerk wat eg, veilig en versorgd vir almal daarbinne én diegene daar buite sou wees, omdat sy veranker is in die Woord voor en deur alle tye, en haar oog (en hart en hand) gerig hou op die bestemming waarheen Hy ons roep en lei. En dat ek daarvan deel mag wees, soos die Kategismus bely (Sondag 21).”

Kan jy asseblief ’n kort groeteboodskap aan die gemeentes, leraars en lidmate gee?

“Dankie vir alles deur die afgelope vier jaar.

“Jammer vir die kere waar daar ’n woord onnodig was, ’n besluit nie goed deurdag was nie, ’n versuim, of waar ek tekortgeskiet het.

“Loop mooi saam met mekaar, Huis toe.

“En op daardie pad – op berge en in dale – vertrou God; Hy is hier.”

Lees meer oor Jan HIER.

Dr Dawie Botes (ondervoorsitter)

Dawie, waarvoor was jy hoofsaaklik verantwoordelik in hierdie tyd?

“In hierdie afgelope termyn was dit my primêre verantwoordelikheid om in spanverband saam te dink, te beplan en binne ons opdrag van die Sinode Vrystaat te bly. Ons moes ook as span saamwerk om strategiese leiding te gee en deurentyd as kerk op Christus te fokus. Dit is waarin die hoop en anker van die kerk lê.

“Dit is ook ’n groot verantwoordelikheid om as fasiliteerders leiding te help gee aan ons opvolgers in die tydperk na die volgende sinodesitting.”

Wat was vir jou die grootste uitdagings in hierdie tyd?

“​Dit was ’n uitdaging om na al die verskillende stemme te bly luister.

“’n Ander uitdaging was tyd. As leierskap sou ons beslis meer tyd wou spandeer by elke leraar en gemeente, maar dit was net onmoontlik.

“Ons leef ook in al hoe moeliker ekonomiese tye wat soveel druk plaas op alle gemeentes en leraars, veral kleiner wordende gemeentes.

“Die toenemende tekort aan leraars bly ook ’n groot uitdaging.”

Hoe het jy te werk gegaan om moeilike besluite te neem en leiding te gee?

“Deur doelbewus te kies vir luisterende leierskap en spanwerk.

“Ek het probeer om in alles biddend en diep afhanklik van die Here te bly. Ek het net besef dat my eie wil en insigte fataal sou wees.

“In hierdie tyd het ek probeer om ’n pad van vrede te kies en konflik te vermy. My ankervers ten opsigte hiervan was Romeine 12:18: ‘As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.’”

Wat het vir jou in hierdie tyd hoop gegee of bemoedig?

“Die Here hou die kerk in stand ten spyte van ons. Dit gee my altyd hoop.”

Tot watter nuwe insigte ten opsigte van kerkwees het jy in hierdie afgelope vier jaar gekom?

“Aan die einde van die termyn besef ek dat ons as leiers ook maar net brose mense is wat juis as gevolg daarvan in diepe afhanlikheid van die Here moet leef. Die NG Kerk gaan oor honderd jaar steeds hier wees, maar dit gaan baie anders lyk en wees, net soos ons kerk nou baie anders lyk en is as honderd jaar gelede.”

Wat is jou droom vir die NG Kerk Vrystaat?

“My droom is dat ons kerk te alle tye onbeskaamd getuies van Jesus Christus sal wees; dat ons daar sal wees vir gebroke mense wat soekend is en vertroosting by die kerk soek. Mag ons kerk die plek wees waarheen elkeen wat behoeftig is, se nood gehoor sal word, hulp beskikbaar sal wees en waar mense sal weet dat ons as navolgers van Christus langs hulle sal gaan sit en na hul stories van nood sal luister.”

Kan jy asseblief ’n kort groeteboodskap aan die gemeentes, leraars en lidmate gee?

“​Fokus op Jesus, die kruis en sy opstanding. Lees die Woord van die Here en wees sy hande en voete. Bly passievol met brandende harte vir Jesus.

“Ek gee graag die volgende verse as bemoediging: Galasiërs 6:14: ‘Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.’

“Numeri 6:23-27: ‘Sê vir Aäron en sy seuns: ‘So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.’”

  • Lees meer oor Dawie HIER.

Ds Hannes du Plessis (skriba)

Hannes, waarvoor was jy hoofsaaklik verantwoordelik in hierdie tyd?

“Ek was verantwoordelik vir die opstel van agendas en notules van die interimkomitee- en moderamenvergaderings met behulp van Lisma Liebenberg se ondersteuningsvaardighede. Ek was ook verantwoordelik vir die skakeling tussen ons sinodale bedieninge, die sinodale kantoor en die interimkomiteelede en die moderamen. Ten opsigte hiervan was my fokus hoofsaaklik visionering en korrespondensie.”

Wat was vir jou die grootste uitdagings in hierdie tyd?

“Dit was maar die dolerende gemeentes, veral leraars en gemeentes wat hulle nie meer as deel van die NG Kerk Vrystaat en/of die Algemene Sinode beskou nie. Ons het baie tyd en energie daaraan bestee om akkommoderend te wees, ringe te besoek en kerkregtelike sake te hanteer.”

Hoe het jy te werk gegaan om moeilike besluite te neem en leiding te gee?

“Spanwerk. Daar is baie kundiges in die NG Kerk Vrystaat en sinodale kantoor by wie ek om hulp kon aanklop. Sonder hierdie ondersteuning sou ek nie die pas kon volhou nie.”

Wat het vir jou in hierdie tyd hoop gegee of bemoedig?

”Ons is as mense van nature geneig om op probleme en uitdagings te fokus. Daar is egter baie meer goed en mooi aan kerkwees as sleg. Dit was en is my behoud om bemoedigende verhale te hoor en te koester.”

Tot watter nuwe insigte ten opsigte van kerkwees het jy in hierdie afgelope vier jaar gekom?

“Dat die Christendom besig is om sy ‘wêreldse’ mag te verloor; dat dit pynlik is, maar dat dit nie noodwendig sleg is nie. Dalk is ons in ons broosheid en nederigheid meer kerk as wat ons besef.”

Wat is jou droom vir die NG Kerk Vrystaat?

“My droom is dat daar minder plek op agendas vir ‘kerkregtelike sake’ sal wees en meer plek vir dit wat waarlik saak maak; dit wat werklik die nood in ons tyd is en die hoop wat die evangelie bring. Mense is honger vir hoop en is teleurgesteld in die politieke onbeholpenheid wat ons oral om ons ervaar. God se oplossing vir die land is nie ’n politieke party nie, maar sy kerk.”

Kan jy asseblief ’n kort groeteboodskap aan die gemeentes, leraars en lidmate gee?

“Dankie aan al die gemeentes wat soos mosterdsaadjies en suurdeug die Koninkryk van God uitleef sonder dat dit ons koerante haal en op plakkate verskyn. Hou aan om die goeie stryd te stry, al is dit moeilik. Die hoofteks vir ons sinodesitting is Esegiël 47:1–12; mag daar lewende water vloei uit elke gemeente. Mag hierdie lewende water ’n dors wêreld na Christus lei.”

Lees meer oor Hannes HIER.

Ds Adrie Potgieter (addisionele lid)

Adrie, waarvoor was jy hoofsaaklik verantwoordelik in hierdie tyd?

“As addisionele lid van die interimkomitee het ek nie ’n spesifieke portefeulje of formele amptelike verantwoordelikhede gehad nie, maar ek was deel van die visioneringsgesprekke, vergaderings, ontmoetings met gemeentes en besluitnemingsprosesse gedurende hierdie termyn. My rol was hoofsaaklik om saam met die ander lede van die interimkomitee en moderamen insette te lewer, saam te dink en deel te wees van die onderskeidingsproses rondom uitdagings en besluite.”

Wat was vir jou die grootste uitdagings in hierdie tyd?

“Een van die grootste uitdagings in hierdie tyd was waarskynlik om saam met mense uit verskillende agtergronde, perspektiewe en oortuigings na ’n pad vorentoe te soek. Die kerk bestaan uit mense wat almal lief is vir die Here en opreg hulle roeping ernstig opneem, maar wat soms verskillend dink oor hoe sekere sake gehanteer moet word.

“Tog was dit juis ook een van die mooiste aspekte van hierdie tyd – om te sien hoe mense, ten spyte van verskille, steeds saam kan bid, luister, gesprek voer en onderskeidend na oplossings soek. Vir my was dit ’n groot voorreg om soveel passievolle en toegewyde mense te ontmoet en saam met hulle deel te kon wees van die gesprek oor die kerk se roeping en getuienis in ons tyd.”

Hoe het jy te werk gegaan om moeilike besluite te neem en leiding te gee?

“Met moeilike besluite het ons as moderamen en interimkomitee probeer om altyd met deursigtigheid, eerlikheid en respek teenoor mekaar op te tree en saam te werk. Ons het moeite gedoen om sake deeglik deur te praat.

“Dit was vir my belangrik dat leiding nie net oor strukture en besluite gaan nie, maar ook oor verhoudings, vertroue en ’n gesamentlike soeke na God se wil.

“Ek het in hierdie tyd opnuut besef hoe belangrik dit is om met nederigheid leiding te gee – om nie altyd al die antwoorde te probeer hê nie, maar om saam met ander in geloof en wysheid ’n pad vorentoe te soek.”

Wat het vir jou in hierdie tyd hoop gegee of bemoedig?

“Wat my die meeste hoop en bemoediging gegee het, was die diepe besef dat dit uiteindelik die Here is wat sy kerk in stand hou en lei. Daar was verskeie oomblikke waar ek onseker gevoel het oor die pad vorentoe en gewonder het hoe sekere uitdagings of moeilike sake ooit opgelos sou word. Tog het ek telkens beleef hoe daar, soms op verrassende maniere, ’n weg oopgegaan het.”

Tot watter nuwe insigte ten opsigte van kerkwees het jy in hierdie afgelope vier jaar gekom?

“Dat kerkwees dikwels minder daaroor gaan om altyd vinnig by antwoorde uit te kom en meer oor die bereidheid om saam te bly luister, praat, bid en onderskei. Ek het opnuut besef hoe belangrik dit is dat ons, selfs te midde van verskillende perspektiewe en uitdagings, aan mekaar en aan die eenheid in Christus moet bly vashou.

“Ek het ook in hierdie tyd opnuut bewus geraak van hoeveel wonderlike werk daar daagliks in gemeentes en in die bedieninge van die Sinode Vrystaat plaasvind wat nie altyd deur die breër publiek raakgesien word nie. Die bedieninge van ons sinode doen ongelooflike wonderlike werk om gemeentes te help en die kerk se getuienis uit te dra. Dit het my hoop gegee om te sien hoe God deur gewone gelowiges en plaaslike gemeentes aan die werk is.”

Wat is jou droom vir die NG Kerk Vrystaat?

“My droom vir die kerk is dat ons al hoe meer sal fokus op die hart van kerkwees en minder vasgevang sal wees in dit wat ons verdeel. Ek droom van ’n kerk waar ons, ten spyte van verskille, steeds saam kan bly soek na God se wil en saam kan vashou aan ons gemeenskaplike roeping in Christus.

“Ek hoop op gemeentes wat toegerus en vrymoedig sal leef as die hande en voete van Jesus in die wêreld – gemeentes wat nie net na binne gerig is nie, maar wat met liefde, waarheid en deernis God se Koninkryk in hulle gemeenskappe sigbaar maak.

“My droom is dat die kerk ’n plek van hoop, genade en egte verbondenheid sal wees waar mense Christus ontmoet en waar gelowiges toegerus word om met geloof en diensbaarheid ’n verskil te maak.

“Ek glo ook dat daar reeds ongelooflike werk in gemeentes en bedienings regdeur  die kerk gebeur – dat ons dit nog meer sal raaksien, ondersteun en saam daarin sal deel.”

Kan jy asseblief ’n kort groeteboodskap aan die gemeentes, leraars en lidmate gee?

“Aan al ons gemeentes, leraars en lidmate wil ek my opregte dank uitspreek vir julle getroue diens, gebede en volgehoude toewyding. Dit is ’n voorreg om saam deel te wees van God se kerk en om te sien hoe Hy steeds deur gewone mense op buitengewone maniere werk.

“Mag julle in hierdie tyd opnuut moed, krag en hoop in Christus vind. Ons leef in uitdagende tye, maar die Here bly getrou en sy kerk behoort altyd ’n lig van hoop, liefde en waarheid in die wêreld te wees.

“My gebed is dat ons as gemeentes sal aanhou groei in geloof, eenheid en diensbaarheid, en dat ons met oop harte die evangelie sal uitleef waar God ons geplaas het. Seën en vrede vir elke gemeente!”

  • Lees meer oor Adrie HIER.

Ds Christo Weideman (verteenwoordiger van die Sinodale Taakspan Kerkorde)

Christo, waarvoor was jy hoofsaaklik verantwoordelik in hierdie tyd?

“Ek was verantwoordelik vir die aanpassing van die Kerkorde ná die Algemene Sinodesitting van 2023, die hantering en bestudering van veral Artikel 37 daarna met die oog op ’n buitengewone Vrystaat Sinodesitting in 2024. Ek was ook verantwoordelik vir die voorbereiding van daardie sinodesitting, asook talle kerkordelike adviserings en enkele tugsake.”

Wat was vir jou die grootste uitdagings in hierdie tyd?

“Tugsake. Dit was en is tans nog steeds ’n baie groot uitdaging, frustrasie en krisis in my hoedanigheid as voorsitter van die Sinodale Taakspan Kerkorde (STK).”

Hoe het jy te werk gegaan om moeilike besluite te neem en leiding te gee?

“Ek het die voorreg gehad om groot en goeie leiers te kon hê wat alreeds hierdie pad op sinodale vlak (beide provinsiaal en nasionaal) voor my gestap het. Hulle het my kerkregtelike mentors in hierdie tyd geword. Hul insigte en leiding was van kardinale belang en onskatbare waarde.”

Wat het vir jou in hierdie tyd hoop gegee of bemoedig?

“Dit was beslis die goeie kollegas (in die breë sin van die woord) in ons kerk – mense wat graag die Koninkryk van God sigbaar, ook in die NG Kerk, wil sien en hulle daarvoor beywer.”

Tot watter nuwe insigte ten opsigte van kerkwees het jy in hierdie afgelope vier jaar gekom?

“Eerlik? Ek het dit ’n paar keer in hierdie jare gesê: ‘Dit is nie soseer die kerk wat nie op ’n goeie plek is nie, maar sekere individue in die kerk.’ Dit veroorsaak dat die kerk baie negatief deur mense buite die kerk ervaar word.”

Wat is jou droom vir die NG Kerk Vrystaat?

“Ek droom steeds van ’n kerk waar Christus die Hoof van sy kerk sal wees en die kerk as deel van sy liggaam sal opereer en dien; waar ons almal vir sy eer en Koninkryk sal werk, sing, bid en gee.”

Kan jy asseblief ’n kort groeteboodskap aan die gemeentes, leraars en lidmate gee?

“Dit was ’n besondere voorreg om met hierdie groot verantwoordelikheid vertrou te kon word. My innige dank aan die hele STK waarsonder ek nie sou kon werk nie, my mentors op verskeie vlakke en my kollegas in die moderamen. Baie dankie aan elke leraar, kerkraadslid en selfs gewone gemeentelede wat soms met groot geduld moes wag vir kerkordelike advies.

“My gebed is dat die Here se ryke seën op die nuwe aktuarius en sy span sal rus; dat daar ’n tyd van groter rustigheid in ons Sinode Vrystaat sal kom; dat ons dié droom sal najaag en leef – Christus is Koning en Heer van sy kerk, en so ook van elke gemeente!”

  • Lees meer oor Christo HIER.

Volg dié skakels vir meer inligting oor rumatoïede en ander outo-immuunsiektes deur Kroniese Kronieke se webblad te besoek.  

Volg hulle op Facebook (@kroniesekronieke) en YouTube (@KronieseKronieke).

Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.