Inleiding
Himnoloë is van mening dat liturgiese sang en musiek van absolute wesenlike belang is vir die erediens van die kerk. Dr. W.M. Louwrens Strydom (1994:283) beklemtoon “dit is ‘n onontbeerlike medium vir menslike ekspressie, ‘n unieke emosioneel-terapeutiese uitlaatklep, ‘n kommunikasie-medium wat die totale mens aanspreek.” Selfs Martin Luther en Johannes Calvyn het sang en musiek in die erediens as ‘n gawe beskou om die verkondiging van die evangelie te bedien. Dít is waarom dit dan noodsaaklik geword het om, gegewe die konteks waarin ons onself bevind, weer ‘n keer na te dink oor musiek en sang en die belang daarvan vir eredienste.
Die Erediens Netwerk het opnuut bewus geword van die talle uitdagings wat gemeentes (veral in die platteland) ondervind met betrekking tot musiek en sang in die erediens. Díe reeks oor musiek en sang in die erediens gaan poog om predikante, orreliste, musiekbedieningspanne en gemeentes toe te rus, om hierdie uitdagings die hoof te bied op kreatiewe en sinvolle wyses. Hierdie is dan die eerste artikel en dien as inleiding vir die reeks oor musiek en sang in die erediens.
Ons weet dat die erediens dien as die openbare plek van ontmoeting vir God en die gemeente, volgens die Handleiding vir die Erediens (2010:3-4). Professor Cas Vos (2001:19) beskryf hierdie ontmoetingsgebeure as volg: “In die erediens ontmoet en omhels God ons en ons beantwoord sy genade en liefde deur Hom en mekaar ook te ontmoet. Hierdie ontmoeting word bewerk deur sinryke liturgiese handelinge.”
Sands (1991:3 & 6) het predikante, orreliste en gemeentes jare tevore al gemaan dat sang en musiek nie bloot maar net ‘n onderafdeling van die liturgie is nie. Ek persoonlik dink dat ons alte gereeld in hierdie slaggat trap. Sang en musiek word dikwels gereduseer tot net ‘n onderafdeling van die liturgie. Sands (1991:3 & 6) was van mening dat die liturgie gesing word. Wat beteken dit wanneer hy sê dat ons die liturgie sing?
1. In die eerste plek beteken dit dat sang en musiek ‘n veel groter rol speel as om bloot bepaalde hoogtepunte te onderstreep, of liturgiese oorgange te laat vloei, of leë momente te vul, of om die gemeente ‘n ruskans te gee.
2. In die tweede plek is sang en musiek in die erediens, tesame met die Woordverkondiging;
- ‘n volwaardige liturgiese handeling
- en ook ‘n volwaardige liturgiese kommunikasie-medium.
Indien sang en musiek in die erediens ‘n volwaardige liturgiese handeling en ook ‘n volwaardige liturgiese kommunikasie-medium is, hoe vind dit gestalte in die erediens?
Musiek, en veral sang, het ‘n kerugmatiese funksie in die erediens. Professor Elsabé Kloppers (2016:28), een van Suid-Afrika se voorste himnoloë skryf “kerkmusiek en die kerklied is die taal van geloof.” Kerkmusiek en die kerklied maak dit moontlik om die verlossende Woord te hoor en te sing, aldus Vos (2001:19). Karl Barth (1978:125) verwoord op ‘n aangrypende wyse die impak van sang en musiek in die erediens op sy geloofsvorming. Jare later sou hy ontdek dat die geestelike kinderliedere wat hy as seuntjie in sy tuisgemeente gesing het, vir hom die diepe betekenis van onder andere Kersfees, Palmsondag, Goeie Vrydag en Paasfees geleer het. En dit was die grondslag vir sy latere teologiese nadenke en skrywes. Kerkmusiek en sang het die vermoë om die teks met ‘n melodie te verbind en die gevolg daarvan is “which opens the heart to more profound resonances of reality.”
In aansluiting by die bogenoemde, is musiek en sang in die erediens ‘n geloofsantwoord van die gemeente op God wat met hulle praat en handel. Hierdie geloofsantwoord neem ‘n verskeidenheid vorme aan, soos die Handleiding vir die Erediens (2010:4) dit uitstippel; verwondering, dankbaarheid, verootmoediging, erkenning van skuld en belydenis van geloof. Die Liedboek van die Kerk, tesame met FLAM en VONKK, bied ‘n repetoire van geloofsantwoorde wat sinvol in die erediens gebruik kan word.
Musiek en sang in die erediens het ook ‘n besondere pastorale funksie. Professor Cas Vos (2001:20) skryf “ons kry deur die lied deel aan mekaar; ons deel ons geloofservaringe met mekaar en ons deel saam in God se genade en in liefde.” Musiek en sang het die vermoë om amper op ‘n magiese wyse genesing te bring, vra maar die musiekterapeute onder ons. Erin Seibert, ‘n musiekterapeut, bevestig dit met sy bekende aanhaling oor musiek en genesing: “Music is one of the longest standing self prescribed therapy in history.”
Musiek en sang in die erediens het ook ‘n missionale funksie; in en deur kerkmusiek en die kerklied ontdek en leer ons Wie en hoe om te dien. Die gemeente word geroep en gestuur met krag om sout en om lig vir die wêreld te wees.
Hierdie bogenoemde funksies van sang en musiek bring my tot die besef dat dit elke predikant, orrelis/te, musiekbedieningsleier en gemeente se verantwoordelikheid is om musiek en sang in eredienste met ons hele wese te beskerm en te bevorder. Dáár moet daadwerklik gesing word. Musiek en sang in die erediens is nie daar om oor geredekawel te word of om bloot daarna te luister nie. Nee. Musiek en sang in die erediens is daar om daadwerklik en dinamies beoefen te word.
Ek wil jou uitnooi om met my kontak te maak, indien jy op watter wyse deel wil wees van hierdie reeks oor sang en musiek in die erediens.
Suzanne van der Merwe | Sameroeper van die Erediens Netwerk
E-posadres: suzannekleynhans@gmail.com
Selfoon: +27 (0)73 684 4983

Bronne
Barth, K. 1978. Die kirchliche Dogmatik. Zürich: Theologischer Verlag.
Carstens, J.C., Strydom, W.M.L. & Troskie, A.J.J. (redakteurs). 2001. Liedboek van die Kerk. Wellington. NG Kerk-Uitgewers.
Clasen, F., Bartlett, A., Carstens, C. & Schoeman, F. 2010. Handleiding vir die Erediens. Wellington. Bybelmedia.
Kloppers, E. 2016. “Die vernuwing van klank – die vernuwing van geloof.” In Vir die Musiekleier 2016, bl. 27-43.
Sands, E. 1990. The use of hymns in liturgy. Referaat, HSGBI.
Strydom, W.M.L. 1994. Sing nuwe sange, nuutgebore. Liturgie en lied. Bloemfontein. Departement Musiek (Afdeling Kerkmusiek).