Deur Mariëtte Odendaal
Veels geluk aan ds Hannes du Plessis wat verkies is om vanaf 1 Maart as die nuwe skriba van die NG Kerk Vrystaat-moderamen diens te doen. Hy is die leraar van die NG Gemeente Universitas-Wes asook die uitvoerende amptenaar van Visionering.
Hannes is aangestel in die plek van dr Leon Foot wat op 28 Februarie vanjaar bedank het sodat hy volledig op sy pos as uitvoerende amptenaar van die NG Kerk Vrystaat se Bedieningsbegeleiding kan fokus.
Hannes, vertel ons meer van jouself. Waar het jy grootgeword, skoolgegaan, opleiding gekry en gewerk?
“Ek is op Bethal in Mpumalanga gebore, maar my eerste herinnering is van ’n klein dorpie in die Vaalhartsskema in Noordwes genaamd Magogong.
“My pa was stasiemeester by die Suid-Afrikaanse Spoorweë, so ons het gereeld verhuis. Van Magogong is ons na Indwe in die Oos-Kaap en daarvandaan na Sannieshof in Noordwes. Ons het uiteindelik in Klerksdorp vasgehaak waar ek die laaste deel van my laerskool- en my hele hoërskoolloopbaan voltooi het.
“In my matriekjaar het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) ons skool kom besoek om soldate te werf. Ek het ingeskryf en is goedgekeur. Nadat ek matriek in 2000 voltooi het, is ek die daaropvolgende jaar SAW toe – eers na 3 SAI Bataljon in Galeshewe, Kimberley vir my basiese opleiding en daarna na 3 Elektroniese Werkswinkel in Wonderboom, Pretoria waarheen ek as ’n seiner verplaas is.
“In 2004 het ek die roeping gekry om predikant te word. Dit was so ietwat van ’n skok op my sisteem (en op dié van die mense om my), want ek het tydens my weermagdae die pad redelik byster geraak. Maar ek het met my roeping radikaal tot inkeer gekom.
“Ek was heeltemal onvoorbereid en naïef toe ek aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) gaan studeer het. Ek het nie eers geweet ek moet Grieks en Hebreeus as vakke neem totdat ek my eerste lesings begin bywoon het nie.
“In my vierde jaar (2008) van teologiese studie het ek ’n aanstelling as jeugwerker by die NG Gemeente Riviera gekry (tans bekend as die Gemeente Riviera-Jakaranda). Na my legitimasie aan die einde van 2009 is ek weer terug na die Vaalhartsskema.
“Dié keer is ek beroep na ’n klein gemeentetjie, Hartskroon net buite Jan Kempdorp. Daar was ek vir twee jaar tot ek in 2012 ’n beroep na die NG Gemeente Reitz Moedergemeente aangeneem het. In 2019 is ek na NG Gemeente Universitas-Wes beroep, waar ek steeds werksaam is.”
Hannes, hoe werk die aanstelling as skriba?
“’n Mens doen nie aansoek vir die pos as skriba nie, maar jy word genomineer. Jy kry dan die geleentheid om ’n goeie rede te gee indien jy nie daarvoor kans sien nie.
“Ek is by ’n moderamen-vergadering verkies nadat dr Leon Foot, die vorige skriba, bedank het. Ek voel eintlik nie bekwaam vir die pos nie, maar ek het beleef dat die Here die vergadering gelei het tot so ‘n besluit.
“Daar is geen rede waarom ek nie myself kan inspan om dit so goed moontlik te doen nie; dit is my benadering tot die pos. Ek doen dit so goed as wat ek kan.
“Tot op hede het ek baie geleer en is dit vir my goed om met die breër kerkverband en verskillende sake te doen te kry.”
Wat behels die pos van skriba alles?
“Die take van die skriba word in die Kerkorde beskryf in onder andere die Reglement van Orde en die Reglement vir die SBF (nou genoem die kantoorhoofde).
“Die grootste deel van ’n skriba se werk behels natuurlik die bywoon en verslaggewing van vergaderings.
“Ek is verantwoordelik vir die rekordhouding (neem van notules) van alle vergaderings van die moderamen en interim-komitee (IK). Dit geld ook vir sinodesittings, gewoon of buitengewoon. Ek word hierin bygestaan deur die bekwame Lisma Liebenberg van die sinodale kantoor. Die volgende NG Kerk Vrystaat sinodesitting vind in 2026 plaas.
“Uit hoofde van die amp is ek ook lid van elkeen van die ander sinodale bedieningsrade. Ek moet dus ook die kantoorhoofdevergaderings bywoon wat elke tweede Vrydagoggend vergader.
“Ek besoek ook soms kerkrade en ringe saam met lede van die IK en woon as deel van die IK ook twee keer per jaar die vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) by.
“’n Verdere groot deel van my werk is die hantering van korrespondensie aan en vanaf die moderamen. Alle media-navrae word ook deur die skriba hanteer; iets wat ’n groot verantwoordelikheid is.”
Met watter uitdagings skat jy sal jy te kampe hê in hierdie pos?
“Ek dink die korrespondensie kan uitdagend wees, veral in reaksie op media-navrae, omdat dit in die openbaar gepubliseer word. Gelukkig is daar ’n bekwame IK-span wat saam aan goeie reaksies op sulke navrae werk. Dit is ook iets wat onder druk gebeur. Joernaliste sal die oggend navrae uitstuur wat dan teen daardie selfde middag beantwoord moet word, anders is dit nie deel van die beriggewing nie – en soms is dit onontbeerlik dat ons stem gehoor moet word.”
Wat is jou droom vir dié pos, Hannes? Wat sou jy graag wou bereik in jou termyn?
“Daar is tans baie spanning en polarisering in die NG Kerk en teenoor die NG Kerk. Ek sou graag wou deel wees van ’n span wat ons deur hierdie onstuimige waters kan lei na ’n beter plek; ’n plek van vrede en samewerking waar ons vergadering nie sal gaan oor dolering en dergelike sake nie, maar oor hoe ons as Kerk deur die krag van die Gees ’n verskil kan maak in ons land. En dat ons die goeie kan vier – want daar ís baie om te vier!”
Watter ander belangstellings het jy buite kerkverband?
“Ek het tydens Covid ’n liefde vir filatelie (posseëlversameling) ontwikkel.
“Ek vang ook graag vis en is lief daarvoor om in die natuur te wees. Daaruit spruit my liefde vir staproetes en voëls kyk.
“Ek lees ook graag, veral boeke oor filosofie en spiritualiteit.
“Ek is ook lief vir musiek en speel kitaar.”
Kontak
Vir meer inligting kan ds Hannes du Plessis by skriba@ngkvs.co.za gekontak word.
| verskaf: Ds Hannes du Plessis, leraar van NG Gemeente Universitas-Wes,
skriba van die Moderamen en uitvoerende amptenaar van Visionering.