Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Vrouemaand | Skoonma’s en skoondogters

Foto: Canva
Deur Mariëtte Odendaal
Het jy al ooit gewonder waar die ronde, plomp kaktus met die geniepsige dorings reg rondom die naam ‘skoonma-se-stoel’ vandaan kry, of waar die lang, lenige blare met hul skerp puntjies aan die naam ‘skoonma-se-tong’ kom?

As jy self ’n skoonma word, raak jy nogal sensitief oor dié benaminge en veral oor die mag der menigte grappies oor skoonma’s. Jy begin selfs wonder waarom dit nog enigsins in die volksmond bestaan en of ons darem nie mettertyd – na albei kante toe – meer beskaafd geraak het nie.

En dan is daar sowaar nog dislojale vroue wat skoonma-se-stoel in hul tuine plant en skoonma-se-tong as potplante op hul sonnige winterstoepe troetel waar hulle liefdevol aan hul kleinkindertjies se truitjies sit en brei!

Of wag … dalk is dit hul skoondogters wat die plantjies as verjaarsdaggeskenke aan hul skoonma’s gegee het!

Van kleins af sien jy al hoe maklik skoonma’s en skoondogters, en ook sommer skoonsusters, ’n hele familie kan verwoes – totaal onnodig.

Jy het toe al besluit: Dis nou sommer nonsens dié; ’n mens kort nét een persoon om ’n verhouding te laat werk. En dis ’n kopbesluit.

Met die eerste kuier as meisie van jou geliefde by die toekomstige skoonmense kry jy raakpunte met jou toekomstige skoonma. Jy stel belang in haar lewe, help met kosmaak en skottelgoed in die kombuis en deel jou eie stories.

Mettertyd vind jy uit sy is net ’n gewone mens en die vrou wat jou geliefde grootgemaak het. Sy sal waarskynlik nooit jou eie ma vervang nie, maar sy gaan jou help om jou man beter te verstaan en indirek ’n seën vir jou huwelik te wees.

Sy is dan ook die een wat vir jou gordyne en ander huisgoed aanstuur as julle trou – alle bietjies help, want julle is beide nog studente.

Ná jul troue is dit maklik om een keer per week via die tiekieboks met haar te gesels, of ’n brief te skryf sodat sy kan weet hoe dit met julle gaan. Die verhouding raak maklik een van vertroue; diep hartstories word gedeel.

Sy huil nog steeds as sy jou vertel van haar eerste baba wat oorlede is en wie se naam aan jou man as derde seun gegee is.

Julle giggel saam as skoonpa wil slaap en jy en skoonma saggies ’n gramradio in jul nuwe woonstel wil koppel sonder om ’n geraas te maak, want jou man is nie daar nie; hy doen diensplig in die weermag. Jou skoonmense is daar om jou in jou eerste onderwyspos te ondersteun.

Dis ook maklik om, as sy jou nodig het na ’n groot val in haar tuin, met jou eerste baba sak en pak te gaan help, want dis by haar wat jy geleer het dat jy onvoorwaardelik beskikbaar moet wees in nood; dis wat sy sou doen.

Jy doen moeite om dikwels by hulle aan huis te gaan kuier; jou kinders moet net so lief vir hulle word as vir jou eie ouers. Jy hou haar op hoogte van jou kinders se lewe en prestasies met foto’s en laat hulle ook self met Ouma praat.

Dis ook die dae voor haar dood dat jy saam benoud raak as jy haar asemnood opmerk; sien hoe die trotse, goedversorgde vrou begin wegkwyn, maar steeds met die selfversekerde drif waarvoor jy haar altyd bewonder het.

Jy treur saam met jou geliefde en sy uitgebreide familie oor hul ma se dood en sorg vir ’n takkie laventel in die hoekie waar haar as in haar geliefde kerk se herinneringsmuur bewaar word.

En dan raak jy self ’n skoonma.

As jou eerste kind gebore word, en ’n tweede en derde, is dit asof jy drie vrolike vlieërs kry om in jou sorg vas te hou.

En saggies, saggies laat jy hulle stukkie-vir-stukkie verder vlieg. Jy laat los nooit daardie toutjies nie, maar jy gee skiet en leer hoe om die vlieërs al hoe hoër te laat vlieg.

Jy raak saam opgewonde oor die eerste meisies, die latere tekens van verhoudings wat ernstiger raak, en dan die uiteindelike verlowing en huwelik.

Jy sien hoe jou seunskind ’n man word danksy die vrou in sy lewe. Jy leer vinnig om effe terug te staan en dan al hoe meer.

Jy moedig jou seun aan om sy vrou se mening in ag te neem wanneer groot besluite geneem moet word.

Jy wag vir hulle om raad te vra; ongevraagde raad en menings word selde ter harte geneem – neem jouself maar as voorbeeld.

Jy leer ook baie by jou skoondogters. Jy kry idees vir nuwe kombuistoebehore, nuwerwetse resepte en modes.

En dan maak sy van jou ’n ouma. Jy sit saam in die intieme ruimte van jou kleinseun in sy ma se arms terwyl sy hom borsvoed.

En jy sien ’n volgende geslag van skoonma’s en skoondogters … hopelik sonder skoonma-se-stoel en skoonma-se-tong as geskenke in haar tuin!

116 | Maatskaplike NOODLYN