Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Tot siens, Carlie – ons gaan jou mis!

Deur Mariëtte Odendaal

“Ek glo daaraan om altyd jou beste te lewer, hard te werk vir wat jy wil bereik en jou toekoms met vertroue in die Here se hande te plaas. Hy maak drome en visies waar.”

Carlie Niehaus

“Carlie se kreatiwiteit, toewyding en innemende persoonlikheid het ’n blywende indruk op ons departement en die breër span van die NG Kerk Vrystaat gemaak,” vertel Celicia McLean, bestuurder van ons sinode se Departement Kommunikasie en Bemarking waar Carlie tot einde Junie werksaam was. “Sy het nie net met uitnemendheid en flair aan elke projek gewerk nie, maar ook ’n gevoel van warmte en samehorigheid gebring waar sy beweeg het. Sy het die vermoë om selfs die mees alledaagse take met betekenis te vul, en haar fyn aanvoeling vir mense en probleemoplossing het ons werk en ons span verryk (selfs al was ‘lidmate’ soms ‘ledemate’ en ‘members’ per ongeluk ‘membrane’!) – en juis daarin het haar uniekheid en opregtheid gestraal.”

“Ons neem afskeid van ’n persoon wat met haar borrelende geaardheid diep spore by ons in die kantoor getrap het. Carlie was altyd vasgenael voor die rekenaar – altyd besig om hard te werk – maar die oomblik as jy inloer, het sy met so ’n vriendelike glimlag opgekyk en dan altyd tyd gemaak vir ’n mens. Haar GEDULD met ons minder tegnologies-vaardige kollegas en vriendelike teenwoordigheid sal beslis gemis word.” So sê Anelia van den Blink wat by Bedieningsbegeleiding en die seminarium betrokke is.

“Die plek gaan nooit weer dieselfde wees sonder haar nie,” sê Helena Smith wat by die Argief werk. “Sy is die hardwerkendste persoon wat ek al ooit gesien het. Carlie is altyd vriendelik en positief. Sy het ook altyd tyd gemaak as jy ’n probleem het, al was sy hoe besig.”

Lianie Delport by Ontvangs onthou Carlie vir haar vriendelikheid en sagte hart. “Sy het altyd tyd gemaak om te vra hoe dit gaan en het aandagtig geluister. Ek sal ook altyd onthou hoe lekker laf sy kon raak by ons sosiale werksbyeenkomste. Sy het ongelooflike talent en is baie hardwerkend. Dit waaraan sy vat, verander sy in iets moois.”

“Vriendelikheid, deeglikheid en kreatief.” So beskryf Johan Coetzer by Finansies Carlie Niehaus met hierdie drie woorde; eienskappe wat van kardinale belang is by die Departement Kommunikasie en Bemarking.

Carlie is as die middelste kind van drie dogters in Kimberley (Noord-Kaap) gebore. Sy het in Bloemfontein grootgeword waar sy vanaf graad een tot matriek in 2005 by Jim Fouché Laer- en Hoërskool skoolgegaan het.

“Van kleins af is ons geleer van Jesus Christus en die waarde van ’n opregte, lewende verhouding met Hom,” vertel Carlie. “Ek het van jongs af ’n unieke opgewondenheid oor Jesus ervaar en het altyd ’n begeerte gehad om Hom beter te leer ken.

“Ons was lidmate van die NG Gemeente Langenhovenpark en my kategese- en belydenisjaar was vir my besonder spesiaal. Dit is ook waar my liefde vir die NG Kerk diep wortelgeskiet het – ’n liefde wat ek tot vandag toe koester.”

Hoe het jou paadjie na skool geloop?

“Na skool het ek eers ’n jaar afgeneem en as kelnerin gewerk. Dit het my die geleentheid gegee om doelbewus te besluit wat ek regtig in die lewe wil bereik en in watter rigting ek opgelei wou word. Die keuse het geval tussen hotelbestuur en grafiese ontwerp – nie ’n maklike besluit nie, aangesien baie mense destyds nie geglo het dat ’n loopbaan in die kunste volhoubaar is nie. Tog was my liefde vir kuns en kreatiwiteit nog altyd ’n integrerende deel van wie ek is.

“In 2007 het ek ’n eenjaar-kursus in grafiese ontwerp by die Sentrale Universiteit van Tegnologie voltooi. Daarna het ek in die kleinhandelbedryf gewerk – vanaf Kodak tot by ’n bestuurspos by Paper Paradise.

“In 2009 het ek die voorreg gehad om vir ’n internasionale kwalifikasie in Grafiese en Webontwerp aan CTU Training Solutions te studeer. Hierdie geleentheid het onverwags oor my pad gekom deur ’n finansiële deur wat oopgegaan het en ek het dit as ’n bevestiging van God se leiding beskou. Ek glo daaraan om altyd jou beste te lewer, hard te werk vir wat jy wil bereik en jou toekoms met vertroue in die Here se hande te plaas. Hy maak drome en visies waar.

“Later het ek ook begin studeer in Ministry (Christ for the Nations). Mense vra dikwels: ‘Hoekom Ministry?’ Ek glo dat wanneer ’n mens ’n pad saam met Jesus stap, dit natuurlik is om Hom beter te wil leer ken. Dieper kennis van God bring nie net insig nie, maar verdiep ook jou verhouding met Hom op ’n betekenisvolle manier.”

Vertel meer oor jou beroepsloopbaan tot nou – waar (en wanneer) het jy oral gewerk voordat jy by Vrypos ingeval het?

“Nadat ek in 2009 grafiese en webontwerp voltooi het, was daar min werksgeleenthede in daardie veld in Bloemfontein – meestal net by drukkerye. Ek het toe ’n pos in die optometriebedryf aanvaar, waar ek opgelei is as ’n voorskrif-optikus (dispensing optician) wat toepaslike brilrame en lense voorsien en aanpas soos voorgeskryf. In dié tyd het ek waardevolle vaardighede aangeleer, onder meer hoe om lang ure te werk en kliënte altyd met ’n vriendelike en professionele gesindheid te hanteer.

Gedurende hierdie tyd het ek steeds as vryskutkunstenaar gewerk en ook my passie vir fotografie beoefen — van troues en baba-sessies tot meer unieke geleenthede soos portefeulje-foto’s van vragmotors en produkte. Dit het vir my altyd ’n kreatiewe uitlaatklep gebly.

Later het ek by CTU Training Solutions aangesluit as ’n fasiliteerder in grafiese en webontwerp waar ek studente kon begelei en toerus met praktiese kennis. Kort ná die Covid-19-pandemie het ek die geleentheid gekry om my eie onderneming te begin – iets waarna ek lank uitgesien het en met groot dankbaarheid aangepak het.

“Dit was ongeveer in hierdie tyd dat ek onverwags genader is oor ’n moontlike pos by die NG Kerk Sinode Vrystaat. Ek het dit as ’n Godgegewe geleentheid beskou en met oortuiging besluit om my eie onderneming tydelik opsy te skuif om by die sinode aan te sluit. Dit het vir my gevoel soos ’n roepstem; ek wou getrou wees aan die pad wat voor my oopgegaan het.”

Vertel meer van jou werk by die sinode.

“Ek het in Oktober 2022 as Kommunikasie- en Bemarkingsbeampte by die NG Kerk Sinode Vrystaat aangesluit en my tyd daar in Junie 2025 afgesluit.

“My betrokkenheid by Vrypos, ons sinode se e-nuusbrief, het gefokus op die uitbreiding van Vrypos se digitale platforms met die doel om die publikasie meer toeganklik en sigbaar vir ’n breër lesersmark te maak. Ek was verantwoordelik vir samewerking met die uitleg en grafiese ontwerp van die publikasie, asook vir die integrasie van die Vrypos se digitale inhoud op die webtuiste.

“Verder het ek ook die sinode se webblad herontwerp om dit verbruikersvriendelik te maak en te dien as ’n sentrale kommunikasieplatform vir die NG Kerk Sinode Vrystaat.”

Wat was vir jou die hoogtepunte van jou werk by Vrypos?

“Beslis die Verlore Skapie-projek. Dit was ’n ongelooflike voorreg om daaraan deel te neem. Martin Schwella is genader om vir ons ’n kinderstorie-reeks te skryf en te illustreer sodat Vrypos ook inhoud vir kinders kon skep. Hulle sou dan meer ingesluit en deel kon voel van ons e-nuusbrief.

“Die karakter Leon, die Verlore Skapie, is ontwikkel en dit was ’n vreugde om daarby betrokke te kon wees. Ek glo opreg dat hierdie storie nog baie kinders se harte sal aanraak. Die boek is steeds beskikbaar in beide Afrikaans en Engels en kan direk by ons sinode bestel word.

“My wens is dat die storie verder sal groei en ’n betekenisvolle bydrae sal lewer tot die kinderbediening in die NG Kerk Vrystaat. Gemeentes en gemeenskappe word hartlik uitgenooi om deel te word van die projek – daar is selfs ’n oulike mascot (gelukbringer) wat die geleenthede ekstra spesiaal maak!”

Jou Vrypos-werk het behels dat jy daagliks met mense moes werk. Wie het vir jou in hierdie tyd baie beteken en waarom?

“Wanneer ek terugdink aan my tyd by die NG Kerk Sinode Vrystaat-kantoor, is daar baie persone wat uitstaan. Elke interaksie – of dit nou met teologie-studente, dominees of ‘doktor-dominees’ (soos ek sou sê), kollegas of besoekers was – het ’n indruk op my gemaak.

“Om in ’n geloofsgegronde werksomgewing te werk waar almal op hul eie manier God dien, was vir my besonder kosbaar. Elke unieke persoonlikheid, elke projek en selfs ’n vriendelike geselsie in die gang het iets bygedra tot ’n tydperk van groei, inspirasie en dankbaarheid.

“As ek wel iemand moet uitlig, dan is dit dr Johan Nel. Sy diepe passie vir jongmense en hul teologiese ontwikkeling het my werklik geïnspireer. Ek het hom altyd as ’n mentor beskou. Sy wysheid, menslikheid en liefde vir bediening het ’n blywende indruk op my gelaat.”

Waar werk jy tans en wat behels dit alles?

“Met groot genade en opwinding werk ek tans weer vir myself en bestuur ek my eie ateljee vanuit my huis. My fokus val op newborn-fotografie, asook webontwerp en -ontwikkeling. Dit is steeds my passie om unieke, gebruikersvriendelike webtuistes te skep wat saam met elke kliënt se identiteit en pad groei.

“Ek geniet dit só om nuwe mense te ontmoet, na hul stories te luister en saam met hulle ’n digitale teenwoordigheid te bou wat eg, funksioneel en betekenisvol is. Vir my is dit nie net werk nie – dit voel soos ’n bediening. Soos my nuwe slagspreuk sê:  Artfully captured. Thoughtfully crafted. Voel gerus vry om my nuwe webblad te besoek by carlie.co.za.”

Wat wens jy vir Vrypos toe vir die toekoms?

“My seën en wens vir Vrypos is dat dit altyd betekenisvolle inhoud sal dra – nie net vir gemeentes en lesers nie, maar ook vir die breër gemeenskap van gelowiges. Ek glo vas in die krag van stories – en hoop dat Vrypos ’n ruimte sal bly skep vir getuienisse, lewensverhale en besigheidsreise wat God se Naam verheerlik.

“Mag Vrypos voortgaan om meer as net ’n publikasie te wees – mag dit ’n instrument bly waardeur mense hoop, inspirasie en geloof vind. Mag dit altyd deel wees van iets groters: God se groter storie.”

Ten slotte

“Carlie dra iets van Jesus se liefde saam met haar – in haar omgee vir almal rondom haar en die manier waarop sy haar medemens met respek en warmte hanteer. Dit was ’n voorreg om Carlie in ons kantoor te kon hê en ons wens haar seën en kreatiwiteit toe op die nuwe pad wat voorlê.” So sê Anelia van den Blink.

Celicia McLean het die laaste woord: “Saam het ons as die ‘kerkmuise’ gelag, geswoeg en werklik ’n betekenisvolle pad gestap. Om saam met Carlie te kon werk, was nie net ’n voorreg nie, maar ’n vreugde wat ek altyd sal onthou. Met diepe waardering en ’n warm hart groet ons haar en wens ons haar alle voorspoed, seën en vervulling toe op die nuwe paaie wat sy nou gaan stap – met die wete dat waar sy ook al gaan, sy lig en lewe sal bring.”

 | Foto (verskaf): Carlie Niehaus