
Deur dr Lyzette Hoffman,
uitvoerende redakteur: Acta Theologica, Fakulteit Teologie en Religie, UV
Nuwe studente in die Fakulteit Teologie en Religie is op 10 Februarie hartlik verwelkom. Die verwelkoming vorm deel van die jaarlikse Teologiese Dag met ’n gesamentlike erediens vir studente en dosente en ’n gasspreker wat ’n kontekstuele teologiese tema aanroer. Met die gehoorsintuig maksimaal ingespan, is die teenwoordiges meegevoer in die bewings van die liturgie van ’n loeiende wind, dramatiese seegolwe, brandende vuur, tot jubelende voëlsang. Die liturgie het by die tema van “beweging” aangesluit – die skopus van prof Jan-Albert van den Berg se preek.
Die Skriflesing kom uit 2 Petrus 1:16-21. In die Skrifgedeelte is daar ’n beweging van Epifanie na Lyding, van donkerte na lig, van nag na oggendlig. Die brief van Petrus is geskryf in ’n tyd waarin die lesers donkerte beleef het. Die lesers was bang vir die regering en vals profete. Daar word ook na Petrus se dood in hierdie brief verwys. Maar Petrus moedig sy lesers aan om in die lig te bly, besig te bly met die Woord en in kontak met medegelowiges. Dan sal hierdie lig groei “totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte” (2 Petrus 1:19). Gelowiges kan beweeg van donkerte na lig, van moeilike omstandighede na hoop en nuwe horisonne met die lig wat God se Woord bring.
Hierdie jaar se spreker by die Teologiese Dag was prof Hans Ausloos van Katolieke Universiteit in Leuven, België. Prof Ausloos het lig op die vryheid en hoop van die jubeljaar in die Ou Testament laat val. Volgens Levitikus 25:23 behoort die grond aan die Here en is die mense net bywoners op die Here se grond. Daarom gee die Here byvoorbeeld opdrag dat die grond elke sewe jaar moet rus. Elke 50 jaar is ’n jubeljaar waarin die grond teruggekoop kan word deur die oorspronklike familie (Levitikus 25:8-10). Vryheid is ’n sentrale tema in die Bybelse jubeljaar. Slawe kan dan vrygelaat word en skuld word afgeskryf (Levitikus 25:54).
Daar is talle wette om te keer dat mense in die eerste plek in skuld beland (byvoorbeeld landgenote mag nie vir mekaar rente op skuld vra nie), wat die jubeljaar se ekonomiese impak sou versag. Daar is egter nie Skrifgetuienis dat so ’n jubeljaar ooit uitgeroep is nie, behalwe toe Jesus in Lukas 4:16-19 ’n jubeljaar uitroep. Jesus was dié teken van hoop en vryheid vir mense – vryheid veral van sonde en die gevolge daarvan.
Die jaar 2025 is as ’n jubeljaar deur die Rooms-Katolieke Kerk uitgeroep. ’n Jubeljaar is ’n teken van hoop. Egte geloof gaan oor tot aksie en bring hoop aan elkeen wat hoop verloor het. Spes non confundit. Hoop stel nooit teleur nie (Romeine 5). Mag 2025 vir ons ’n jubeljaar van hoop en vryheid wees danksy die Here se genade!



| verskaf deur: Dr Lyzette Hoffman