SOX staan vir Southern Cross trailrun
Hierdie projek is gebore toe Stephan van der Watt van Missie Japan ‘n saadjie by my geplant het om bewusmaking te doen vir die werk wat die kerk doen in Japan. Matteus 28:19 het ‘n groot rol gespeel in die huis waarin ek grootgeword het. Daarom lê iets soos Missie Japan baie naby aan my hart.
Stephan het voorgestel dat ek moet hardloop in ‘n “race” en op dié manier mense bewus maak van Missie Japan. So gesê, so gedaan. Daar is gesoek na ‘n “race” wat so iets ‘n moontlikheid kon maak. So is daar op die SOX besluit. Dit is die enigste trail in Suid-Afrika waar jy in drie dae op drie verskillende oppervlaktes hardloop. Johan Winterbach bly ook in hierdie omgewing en kon help dra aan kostes wat veblyf betref. Ons maak toe T-hemde met Missie Japan se wapen en ook ‘n klomp buff’s wat ek kan uitdeel. Ons maak ook ‘n bemarkingsvideo om mense bewus te maak van die projek en op hierdie manier fondse in te samel vir die werk van Missie Japan. Nou moes ek net my kant bring en begin oefen vir die SOX.
Op Donderdag 4 Augustus vertrek ek en ‘n paar vriende na George vir die SOX.
Op Vrydag 5 Augustus moes ek registreer vir die SOX-event. Die aand het ons ‘n funksie gehad waar die hele drie dae se beplanning aan ons verduidelik is. Ná die funksie was dit seker maak als is reg vir die volgende dag se wegspring.
Dag 1 (6 Augustus)
Op Saterdag 6 Augustus moes ons 07:00 die oggend by Nelson Mandela Universiteit in George aanmeld waar ons Dag 1 sou wegspring. Geklee in my Missie Japan-hemp is ek reg vir die eerste dag. Dag 1 was 30km in die Outeniqua berge. Dit is ‘n sirkelroete oor die berge en dan weer terug na die Universiteit. Soos dit maar in die winter is, was dit redelik koel met die wegspring. Later die dag het die son lekker begin skyn en was die uitsig op die berg ongelooflik mooi. Ek ontmoet baie mense langs die pad en hardloop vir sekere tye saam met ‘n klomp van hulle. Oor die drie dae sou ons goeie vriende word. Ek voltooi die eerste skof van die SOX in 3ure en 24 min. Ek eindig vir die dag algeheel sewende. By die eindpunt ontvang elke deelnemer ‘n heerlike Spur-burger saam met ‘n yskoue bier. Goeie beloning vir die dag. Daarna keer almal weer terug na hulle onderskeie slaapplekke.
Dag 2 (7 Augustus)
Vandag moet ek baie vroeg opstaan, want ek moet Knysna toe ry na die Knysna-bos. Ons wegspring is by Millwood Hut. Vroeg is ek al in die pad. Daar aangekom, maak almal gereed om Dag 2 aan te pak. Daar is drie verskillende groepe wat hardloop. Die SOX (full), die SOX (sport) en die SOX (Lite). Ek doen die SOX (full). Die SOX (sport)-atlete word met ‘n bus vervoer. Hulle spring op ‘n heeltemal ander plek weg. Om 08:00 is ons weer aan die hardloop. Die vorige aand het dit gereën in die Knysna bos. Die oppervlakte is seepglad en ons moet versigtig hardloop. Dit is egter baie taaier as wat ek gedink het. Mens sou dink dit is plat in die bos, maar jy word lekker verras. Ons klim meer as 1200 m in 30km. Dit is natuurlik prentjiemooi binne-in die bos en jy vang jouself gereeld uit dat jy jou so verkyk aan die mooi, dat jy nie altyd kyk waar jy hardloop nie. Op hierdie roete kuier ek lekker saam met ‘n klomp mense van verskillende dele van die land/wêreld. Ek deel met hulle die rede hoekom ek hardloop en gee ook vir elkeen ‘n buff met Missie Japan se wapen op. Van daar af kry ek toe die bynaam “Mr Japan”. Ek voltooi die 30km van Dag 2 in 3 ure en 31min. Ek behou ook my plek van algeheel sewende. Weer word ons lekker bederf met ‘n yskoue bier en ‘n Spur-burger. Wanneer almal klaar is, is dit weer tyd vir die lang pad terug na ons slaapplekke. Môre is die laaste dag en ons lywe begin voel dat ons al bietjie gehardloop het die laaste twee dae…
Dag 3 (8 Augustus)
Vanoggend moet ons aanmeld by die Fairy Knowe Hotel in Wildernis. Van daar af vertrek ons met ‘n bus na Kleinkrantz-strand. Ons hardloop van Kleinkrantz-strand af terug na Wildernis (Fairy Knowe hotel). Vandag se roete is slegs 17km. Wat dit egter moeilik maak, is dat dit reën en koud is. Ons eerste 7km is op die strand. Daarna draai ons af en hardloop deur die mooiste areas terug na Wildernis. Vandag is ook ‘n “fun” dag en ons moet ook so aantrek. Die atlete verstom my met waarmee hul vorendag kom. Daar is “avatar’s”, narre, bytjies en matrose. Almal lyk te vrolik en oulik. Die persoon wat die beste geklee is wen ‘n gratis kaartjie vir volgende jaar se SOX. Die “avatar” wen die prys.
Heel aan die einde, voor jy klaarmaak, moet jy oor die rivier hardloop op ‘n “floating bridge”. Wat ‘n heerlike ervaring was dit nie om op hierdie manier klaar te maak nie! Omdat dit ons laaste dag is, is dit ook prysuitdeling. Deur die genade behou ek my sewende posisie. Ek voltooi hierdie skof in 1 uur 37 minute. Ons almal ontvang medaljes. Wat ‘n ongelooflike drie dae was dit nie. Ek het so baie nuwe mense van oor die wêreld heen ontmoet. Dit was omtrent hartseer om van almal afskeid te neem. Soos hulle sê: Alle goeie dinge kom tot ‘n einde.
Ek wil graag dankie sê vir Karisma Coetzer, Sanet Annandale en Nico Mostert van die Sinodale kantoor asook die hele komitee van Missie Japan: Stephan en Carina vd Watt (RCJ), Tobie en Annalie de Wet (RCJ), Johann Winterbach (George-Suid NGK) (Voorsitter) Victor Pillay (RCA), Kovilan Moodley (RCA), Pieter van Jaarsveld (NGK), Elsabé du Plessis (NG Gem Hoopstad) en Sarel vd Walt (GK). Baie dankie vir hulle hulp en ondersteuning om hierdie projek ‘n moontlikheid te maak. Ek glo en vertrou dat ons deur hierdie projek ‘n bewusmaking van Missie Japan by mense geskep het. Wanneer ek oor kerk dink, steek Matteus 28 maar altyd in my kop vas.
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels….