Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Teologiese verskille tussen Islam en die Christendom

Nou onlangs is ek in gesprek met ’n Moslem wat ’n hoë posisie beklee wat die verspreiding van die leer van Islam in Suid-Afrika betref. Mens sou hom die Direkteur van Dawa in Suid-Afrika kon noem. In die gesprek lê hy klem daarop dat die sake wat Moslems en Christene van mekaar verwyder, baie min is, terwyl die sake waaroor ons saamstem, die sake wat ons verenig, enorm groot is.

By nadere ondersoek is dié twee godsdienste egter teenpole van mekaar. In die sentrum van hierdie verdeeldheid is die Persoon en werk van Christus. Die kern van die stryd tussen Islam en die Christendom is die godheid van Jesus, dat Hy die Seun van God is. Sy kruisdood en opstanding uit die dood, wat die hart van die Evangelie is, word ook deur hulle ontken. Ons kyk in hierdie en die volgende uitgawes in kort na hierdie belangrike teologiese verskille.

Jesus is nie vir Moslems die Seun van God nie. Hy is vir hulle bloot ’n mens. Hulle erken Hom wel as ’n profeet, maar Hy is volgens hulle dieselfde as die ander profete wat voor Hom na Israel gestuur is. Die brief aan die Hebreërs maak dit egter duidelik in Hoofstuk 1:1,2 dat die Here Jesus hoër is as enige van die profete wat voor Hom gekom het en dat God se finale openbaring in Hom is. Ons lees daar: “NADAT God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.

Islam verwerp Jesus as die Christus. Die woord “Christus” kom van ’n Griekse woord wat “Gesalfde” beteken. Dit is ’n vertaling van die Hebreeuse woord “Messias”. Die Ou Testament berei Israel voor op die koms van die Messias – die Een wat uniek deur God gesalf en gestuur sou word om die wêreld te red. Islam se kategoriese verwerping van Christus as God se Messias word in die eerste brief van Johannes, hoofstuk 2:22 as ’n leuen uitgewys: “Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie?”

Islam verwerp die leer oor die Drie-Eenheid as politeïsme. Om na Jesus te verwys as die Seun van God veronderstel reeds die leer oor die Drie-Eenheid. Islam verwerp die leer van die Drie-Eenheid en noem dit lasterlik. Die Christendom sien hierdie leer egter as die kern van ons godsdiens.

Die Koran verwys op verskeie plekke na die feit dat God één is, byvoorbeeld in Suras 16:51, 44:8, 47:19, 112:1-4. Monoteïsme of tawhid is die kerndogma in Islam. Hulle is onverbiddelik daaroor dat die Christene drie gode aanbid en dat hulle daardeur shirk, oftewel die onvergeeflike sonde pleeg. Shirk is volgens hulle ook die ergste vorm van afgodediens.

Volgende keer kyk ons na verse uit die Koran wat die saak van die Drie-Eenheid aanspreek, sowel as na ander teologiese verskille tussen Islam en die Christendom.

116 | Maatskaplike NOODLYN