Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Islam se strategie in lande waar hulle in die minderheid is

Islam vorm bloot 1,7% van Suid-Afrika se bevolking[1].

Aan die een kant sou mens op grond van hierdie stukkie statistiek kon argumenteer dat aangesien hulle so min is, behoort ons ons energie op ander persone en groepe te spandeer. Aan die ander kant sou mens verstom kon staan dat so ‘n klein deel van die bevolking, so ‘n enorme invloed op die land kan hê. Hulle invloedsfeer wissel van sport, onderwys en die ekonomie van ‘n klein dorpie, tot by die verskillende vlakke van regering in die land. Dit onderstreep die belangrikheid van die onderwerp op die tafel, naamlik Islam se strategie op plekke waar hulle in die minderheid is.

Samelewings gebaseer op verdraagsame waardes, soos Suid-Afrika, is kwesbaar vir aanvalle van Islamitiese organisasies wat ‘n samelewing se verdraagsaamheid gebruik om Islamitiese onverdraagsaamheid te bevorder[2]. Die hedendaagse strategie, wat Islamisering betref, doen ‘n beroep op Moslems in nie-Moslemlande om hulself te organiseer met die doel om lewensvatbare Moslemgemeenskappe te vestig wat sal werk aan ‘n proses van stap-vir-stap Islamisering van hul nie-Moslem-gemeenskappe.

Moslem-minderheidsgemeenskappe word aangemoedig om ‘n aparte Moslemidentiteit te ontwikkel, ‘n verenigde front aan die buitewêreld voor te hou en geleidelik outonome sfere te vestig, terwyl hulle die meerderheid van die gemeenskap oorreed om Moslems te word. Die voorkeur benadering in hierdie proses is die geleidelike bekendstelling van Islamitiese konsepte en praktyke in die sfere van politiek, ekonomie, reg of kultuur, deur ‘n eindelose stroom van klein eise vir meer regte, spesiale voorregte en uitsonderings.

Moslems moet, hiervolgens, ten alle koste vermy om deur die meerderheid geassimileer te word. Om assimilasie teen te staan, moet hulle hulself geografies groepeer, wat gebiede met hoë konsentrasie van Moslems binne die bevolking as geheel vorm. In Suid-Afrika is hierdie patroon baie duidelik sigbaar. Moslems is godsdienstig en ekonomies baie gekonsentreerd in en om Durban, Johannesburg en Kaapstad.

Sodra die gemeenskap waar Moslems hulle vestig, goed georganiseer is, beywer die leiers hulle daarvoor om by die staat erkenning te kry vir Moslems as ‘n godsdienstige gemeenskap met sy eie kenmerke en gesag. Die vestiging van Moslems op plekke, soos die Vrystaatse platteland, behoort vir ons te sê dat dit die omgewing is waarop hulle fokus om hulle invloed en gesag uit te brei.

Ons as kerk sou dit as ‘n bedreiging kon sien, maar ons behoort dit eerder as ‘n wonderlike geleentheid en uitdaging te sien om die Evangelie aan hulle te bring.

[1] South Africa 2021 International Religious Freedom Report

[2] Sookhdeo, P.2014. Dawa. The Islamic Strategy for Reshaping the Modern World. Isaac Publishing: McLean VA