Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Sentrum vir Predikantebegeleiding 2021

Tydens die sentrum word een van die deelnemers gevra om iets van die sentrum-belewenis te skryf. My skrywe is ‘n bietjie laat, soos my besluit om dit by te woon.

Vandat ek in die Vrystaat kom, nooi Barnard my om hierdie sentrum by te woon. Op elke uitnodiging het ek ‘n sinvolle verskoning waarom ek nie kan nie: Ek is nuut in die gemeente, die datum bots met die gemeente-kalender, ens. Die realiteit is egter dat ek nie ‘n idee het wat dit behels en wat tydens die sentrum gaan gebeur nie en was huiwerig om nog iets nuuts te doen. Vroeg 2020 kry ek weer die uitnodiging en die jaar begin hoopvol en rustig, so ek aanvaar die uitnodiging en gaan na die sentrum. Ek verwag nie veel nie en doen dit so half uit ‘n skuldgevoel uit. Nou, twee jaar later, kan ek werklik daaroor reflekteer. 9 Maart 2020 daag ek, Suzanne van der Merwe, Arnold Nadel, Wollie Grobler en Elandre Swarts op by die sentrum saam met die waarnemers en aanbieders. Elandre ken ek van die Jong leraars-retreats wat ons saam bygewoon het, oom Wollie het ek as kind tydens Pinkster wat hy in die dorp aangebied het, leer ken en as student was sy insette altyd vir my interessant, maar die res van die deelnemers was vir my redelik onbekend. Ek het verwag om ten beste ‘n paar kollegas te ontmoet en nie te verveeld te wees tydens die sentrum nie. Bygesê, ek het al tydens vervelige kursusse heerlike stories en preke geskryf, so dit sal nie ‘n totale verlies wees nie.

Ek kon nie minder verkeerd gewees het oor my verwagtings van die sentrum nie! Ek het wonderlike kollegas ontmoet en saam gekuier, waarmee ek oor die volgende twee jaar lekker sou saamwerk.  As dit net daarvoor was, sou die sentrum reeds sinvol gewees het. Die waarde het wel nie daar gestop nie. Tydens die sentrum het ek myself as dominee beter leer ken, my sterk punte en plekke wat werk nodig het. Die proses was ongelooflik leersaam en ek het opgewonde van Menuha gery, gereed om myself te verbeter en ‘n beter dominee vir my gemeente te word. Nie ‘n maand later nie het die inperking begin en die wêreld, soos ek dit geken het, totaal verander. As dit nie was vir die hulpmiddels wat ek tydens die sentrum geleer het en die areas wat uitgewys is vir ontwikkeling nie, sou ek die volgende twee jaar aansienlik meer gesukkel het. Dit het my in staat gestel om te midde van rampe, siektes en wat die lewe oor my pad gebring het, aan te gaan en positief te werk.

Dr Suzanne van der Merwe se belewenis van die sentrum was dat dit vir haar, wat nuut in die Vrystaat was, ‘n geleentheid geskep het om ander leraars in die Vrystaat te ontmoet. Sy vertel dat dit vir haar lekker was om te sien hoe ontvanklik die kollegas was en hoe maklik hulle ‘n nuwe leraar deel gemaak het van die bediening. Alhoewel die sentrum vir haar uitdagend was, was dit tog baie sinvol vir haar voortdurende groei. Suzanne vertel dat sy weggestap het ná drie sinvolle dae met ‘n doelgerigte ontwikkelingsplan met die ondersteuning van kollegas en die gemeente waaraan sy verbind is.

Ds Arnold Nadel het vertel dat die Sentrum vir hom sinvol was en dat dit vir hom rigting gegee het vir die toekoms. Meer nog het dit ook vir hom gehelp met ‘n plan vir die pad vorentoe.

Dr Wollie Grobler het vertel hoe spesiaal en kosbaar die sentrum vir hom was en dat die belewenis vir hom ook, as iemand wat al jare se bediening en kerk-ervaring het, baie beteken het. Dit was vir hom baie sinvol om op ‘n positiewe manier tyd met kollegas te spandeer.

Ds Elandré Swartz het aangedui dat hierdie sentrum vir hom as jong leraar van groot waarde was. Dit het vir hom gehelp om te identifiseer waar hy in die bediening is en rigting gegee waarin hy kan groei.

Die sentrum was wel nie net werk nie, maar het ook ‘n heerlike geleentheid gegee om rustig te gesels, tyd in die natuur met ons Skepper te spandeer en mens se batterye net weer te herlaai. Ek sou persoonlik aanbeveel dat elke leraar in die Vrystaat en wyer so ‘n sentrum bywoon. Dit help mens en gee mens genoeg hulpbronne om selfs die moeilikste tye aan te durf.

Foto’s verskaf deur ds Andreas van Rooyen, Sentrum vir Predikantebegeleiding 2020

116 | Maatskaplike NOODLYN