Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Aanbidding as sending?

Deur ds Janke Hurter | Erediens Netwerk

Ons kom pas uit Pinksterfees en staan aan die begin van Koninkrykstyd. In die gemeente het ons met kinderpinkster saam met die jongspan om die wêreld gereis met die Evangelie (Handelinge 1:8). Dit het my laat wonder, wat het sending met liturgie en aanbidding te doen?

Dit is toe dat ek weer die werk van Meyers Ruth, genaamd Missional worship and worshipful mission (2014) nadertrek. Ruth noem hoe hierdie twee konsepte dikwels apart en geskei van mekaar verstaan word, met aanbidding as iets wat binne die kerkgebou gebeur en sending wat in die wêreld buite die kerkgebou gebeur.

Daar is verskillende maniere waarop die twee konsepte, sending en aanbidding, met mekaar in verband gebring kan word, afgesien daarvan om sending en aanbidding as twee afsonderlike aktwiteite te hanteer. Een manier sal wees om ons aanbidding te sien as iets wat die doel van sending dien. Dit behels die ontdekking van die genade van God in die erediens, wat individue dring om hierdie Goeie Nuus, die Evangelie, verder te verkondig. Nog ’n manier waarop die verband tussen aanbidding en sending verstaan kan word, is om ons aanbidding as evangelisasie te sien. Dit is waar ons eredienste en aanbidding só ingerig word dat die behoeftes en begeertes van diegene buite die kerk aangespreek word. ’n Ander manier waarop die verband tussen ons aanbidding en sending verstaan kan word, is om eredienste te sien as ’n platform waar gelowiges opgeroep word om hul naaste in liefde te dien.

Volgens Ruth kan die bogenoemde interpretasies gesien word as perspektiewe waar die twee konsepte nader aan mekaar gebring word, maar nog nie waarlik ’n geïntegreerde verstaan reflekteer nie. ’n Meer geïntegreerde en dinamiese verstaan wat Ruth aanbied, is die verstaan van aanbidding as sending. Een van die metafore wat Ruth gebruik om die gedagte tuis te bring, is die van ’n Möbius-strook. Dit is waar aanbidding en sending in mekaar invloei en uit mekaar uitvloei.

Missionale aanbidding gaan nie oor missionale aanbiddingstegnieke wat bloot toegepas moet word nie, maar oor ’n aanslag tot aanbidding wat gegrond is op ’n verstaan van die missionale God wat in die erediens aanbid word. Ten diepste gaan missionale aanbidding oor ’n verstaan – ’n geloofsgemeenskap se verstaan van hul identiteit wat oorsprong vind in die sendingmissie van God. Soos Ruth dit ook stel: “Missional worship takes place in a missional congregation, one that is “shaped by participation in God’s mission” and which “lets God’s mission permeate everything that the congregation does — from worship to witness to training members for discipleship.”

Met missionale aanbidding, beliggaam die geloofsgemeenskap deur dit wat gesê en gesing word, asook deur simbole en aksies, aanbidding op só ’n manier dat die teks lewend word vir mense vandag. Ons aanbidding in die erediens stuur ons uit om in die wêreld as kinders van God te gaan leef; en ons word gevorm deur ons ontmoeting met God in die wêreld. Dan raak ons weer bewus van die seer en die honger van ons gebroke wêreld, en met hierdie belewenisse kom ons terug in die erediens om dit alles voor God te bring – waar ons dan weer Sy lof besing, Sy oordeel en genade opnuut ontdek, asook genesing en vergifnis soek en vind.

In missionale aanbidding verstaan ​​die gemeente haar identiteit as ‘n lewende Christelike gemeenskap, wat  in dialoog bly met haar eietydse konteks, terwyl sy haar krag put uit die krag van die Gees, uit die verkondiging van die Evangelie en die viering van God se heerskappy. Ek dink Ruth se insigte help ons om ook in dié tyd, Koninkrykstyd, waar sendingwerk veral op die voorgrond gestel word, daar “buite” in die wêreld, maar ook hier “binne” die erediens, as gelowiges deel te neem aan die sendingmissie van God.

116 | Maatskaplike NOODLYN