Deur Mariëtte Odendaal
Hoe lyk die wêreldlandskap vandag?
“Christus wou veral kritiese denke aan sy dissipels leer; hy wil ons leer om anders as die wêreld te dink; om nuut te dink … God is besig om sy Kerk as vredemaker uit te stuur terwyl die res van die wêreld net chaos en oorloë raaksien.”
Mike Burnard
Konsultant: dia-LOGOS
“Die afgelope tyd is daar baie oor missionale kerkwees en missionale gemeentes gepraat. As gevolg van baie gesprekke het ons besluit om die lig so ’n bietjie op die praktyk van ons getuienistaak in die wêreld te laat val.
“Van Vrydagaand 12 Julie tot Saterdag 13 Julie is daar ’n baie geseënde Sendingkonferensie by die NG Kerk Pellissier in Bloemfontein aangebied,” vertel dr Nico Mostert, direkteur van Vennote in Getuienis van die NG Kerk Vrystaat.
“Die tema van die konferensie was ’n Venster op God se Wêreld. Drie sprekers is genooi om vir ons die venster op hierdie onderwerp te kom help oopmaak; mense met jarelange ondervinding in die praktyk van getuienis in God se wêreld.
“Hulle was Mike Burnard (konsultant van dia-LOGOS) wat sessie een aangebied het, dr Stéphan van der Watt (Missie Japan) wat verantwoordelik was vir die aanbieding van sessie twee, en laastens ekself wat die derde sessie aangebied het.”
Hoe lyk die wêreldlandskap vandag?
Die eerste sessie met die tema Hoe lyk die wêreldlandskap vandag? is deur Mike Burnard aangebied. Hy was voorheen by Geopende Deure betrokke en het daarna by INcontext gewerk. Hy werk tans as konsultant by dia-LOGOS.
Volgens Mike beleef ons ’n besondere seisoen, veral ten opsigte van die Vervolgde Kerk in die Midde-Ooste. In Sirië was hy byvoorbeeld onlangs in ’n kerk waar daar nie meer plek vir al die baie mense was nie; die predikant het selfs versoek dat daar televisie na die kerk gebring moes word sodat mense aan die buitekant van die kerk ook deel kon wees van die diens!
“Ons lewe in ’n seisoen waar God besig is om die kerk te herskep en ons het die voorreg om daarby betrokke te wees,” het Mike aan die ongeveer 70 mense teenwoordig gesê.
Hoe lyk die wêreld daarbuite?
“Die grootste Rock-konsert wat wêreldwyd in 2022 aangebied is, was in Saoedi-Arabië; ook die Grand Prix vanjaar. Sedert die besluit van die nuwe kroonprins, Muhammad bin Salman, om ’n nuwe gesig van Islam aan die wêreld ten toon te stel, sien ons ’n sekularisme in daardie deel van die wêreld inbeweeg wat voorheen ondenkbaar was.
“In teenstelling hiermee vind ons vandag die grootste moskee in die suidelike halfrond in Midrand, Johannesburg.
“Jy sien dus ’n sekularisering van Islam in die Midde-Ooste, terwyl jy opmerk dat daar waar Islam in die minderheid is, ’n meer radikale toename van Islam ontstaan.”
Volgens Mike beleef ons ’n besondere seisoen, veral ten opsigte van die Vervolgde Kerk in die Midde-Ooste. In Sirië was hy byvoorbeeld onlangs in ’n kerk waar daar nie meer plek vir al die baie mense was nie; die predikant het selfs versoek dat daar televisie na die kerk gebring moes word sodat mense aan die buitekant van die kerk ook deel kon wees van die diens!
“Ons lewe in ’n seisoen waar God besig is om die kerk te herskep en ons het die voorreg om daarby betrokke te wees,” het Mike aan die ongeveer 70 mense teenwoordig gesê.
Daar is iets dinamies besig om wêreldwyd te gebeur.
“Dit wat ons observeer, soos konflikte, humanitêre nood en politieke omstandighede, gee vir ons geleentheid tot getuienis; om vir Christus ’n getuie te wees – om op te staan vir vrede in Christus.
“Ons leef in ’n stukkende wêreld waar mense soekend is; die Kerk het egter die antwoord. Ons het ’n mandaat om te sorg dat hierdie platform nie verlore gaan nie. As ’n kerk het ons ’n boodskap om in hierdie seisoen te bring – daar is hoop en ’n toekoms in Christus.
“Ons moet onsself afvra: ‘Hoe kan die Kerk haarself in hierdie tyd belas met goed wat nie Koninkrykswaarde het nie?’ Christus het altyd na die kwesbares en weerloses gegaan. Doen ons dit ook?
“Die geesteswêreld is besig om te skuif en ons hier in Afrika en in Suid-Afrika is deel van hierdie verskuiwingsproses; dit skuif van die Weste na die Suide. Die toekoms van die Christendom gaan grootliks afhang van die Kerk in Asië en Afrika, maar hoe ernstig neem ons dit op?
“Jou gemiddelde Christen gaan in die toekoms anders lyk as vandag. Dit gaan mense wees met ’n heel ander lewens- en wêreldbeskouing. Ons moet snap hoe die bril lyk waardeur gekyk behoort te word as navolgers van Christus.”
Observeer – sien geleenthede raak om op te staan vir vrede in Christus.
“Die land wat per kapita die meeste sendelinge ter wêreld uitstuur, met ander woorde in konteks van die aantal Christene wat daar in die land is, is Palestina. Dit was voor die oorlog. Volgens die Gordon-Conwell Center for the Study of Global Christianity het die klein Christen-gemeenskap van 80 000 lidmate al 270 sendelinge kruis-kultureel uitgestuur.
“Daar is iets dinamies besig om wêreldwyd te gebeur. As ons deur ’n Koninkryksbril na die konflik in Gasa kyk, gaan dit wat daar gebeur die geestesdinamika van die Midde-Ooste dramaties verander. Die deure wat oopgegaan het en Christene wat hulself nou by Israel skaar, is ongelukkig besig om deure weer toe te maak.
“Ons moet verstaan dis nie ’n geografiese oorlog nie, maar ’n teografiese oorlog; dis ’n Goddelike Koninkryksbeginsel wat ons toepas. Lees Lukas 12: 54 tot 56 en vra jouself af: ‘Waarom beoordeel ons nie die tyd waarin ons lewe nie?’ Christus wou veral kritiese denke aan sy dissipels leer; hy wil ons leer om anders as die wêreld te dink; om nuut te dink.
“Dit beteken ons moet observeer, analiseer, interpreteer en implementeer. God is besig om sy Kerk as vredemaker uit te stuur terwyl die res van die wêreld net chaos en oorloë raaksien.”
Analiseer – hoe moet sending opnuut gedefinieer word?
“Kyk deur God se bril en vra jouself af: ‘Here, hoe raak dit u Koninkryk?’ Analiseer dit wat jy hoor en waarneem.
“Dis veral belangrik om saam met die tyd te verander en aan te pas; die wêreld het verander en geskuif. Daarom is dit belangrik om die sendingveld nuut te definieer. Dis belangrik om na die onbereiktes en ongeëvangeliseerdes te kyk.
“In die geval van onbereiktes het meer as 95% van ’n bevolkingsgroep nog nie die evangelie gehoor nie, omdat daar geen Christene of kerke in hul omgewing voldoende toegerus is om hulle te bereik nie.
“Volgens statistiek is Indië die mees onbereikte land. Daar is meer onbereikte mense in Indië as die totale bevolking van al 54 lande in Afrika. Dit is ook die land wat die meeste inheemse Christen-werkers ter wêreld het.
“Met ongeëvangeliseerdes bedoel ons dat meer as 95% van ’n bevolkingsgroep nog nie die evangelie gehoor het nie, maar daar is wel Christene in hul omgewing wat voldoende toegerus is om hulle te bereik.”
Interpreteer – ’n sendingmag wat verander.
“Alles wat ek van die kruis van Jesus weet, het ek geleer by die Vervolgde Kerk. Ek het tot die besef gekom dat ons in hierdie seisoen waarin ons leef, die Vervolgde Kerk meer nodig het as wat hulle ons nodig het.
“Ja, hulle het ons bronne en fondse nodig, maar ons kan by hulle gaan leer oor volharding en totale toewyding.
“Die wêrelddeel waar Christene die meeste vervolg word, is Noord-Korea, met Somalië en Libië in die tweede en derde plekke onderskeidelik.
“Ons sien wêreldwyd die tendens dat die Vervolgde Kerk en onbereikte wêreld mekaar oorvleuel. Die versterking (en toerusting) van die Vervolgde Kerk is dus die poort om die onbereiktes te bereik in lande waar tradisionele sendelinge nie in staat is om mense met die Woord te bedien nie.”
Implementeer – ons moet nuut begin dink.
“Dis van kritieke belang dat ons nuut begin dink, nuut begin kyk – ons moet in hierdie seisoen waarin ons lewe nie die geleenthede misloop nie.
“Om ’n suksesvolle oes te waarborg, is die belangrikste komponent nie om te saai of te ploeg of om werkers in te kry nie, maar dit is om die seisoen te identifiseer. Jy kan alles reg doen, maar as jy dit in die verkeerde seisoen doen, gaan jy ’n misoes hê; hierdie seisoen is ’n seisoen van beide saai en oes.”
Kontak
Vir meer inligting kan Mike Burnard gekontak word by thirdwayinfo@gmail.com of dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za

| verskaf: Mike Burnard.

| verskaf: Mike Burnard in gesprek met konferensiegangers.
| verskaf deur: Dr Nico Mostert, Uitvoerende Amptenaar/Sekretaris van Vennote in Getuienis)