“Dit is met groot dankbaarheid dat ons ring, danksy hierdie besondere NG Kerk Vrystaat-fonds, in samewerking met die Brandbeskermingsvereniging, al byna 400 boere en plaasarbeiders in die bestryding van weghol-veldbrande kon laat oplei.”
| Ds Werner Burger, Voorsitter van die Ring van Smithfield
Die NG Kerk Vrystaat stel jaarliks aan hul 15 ringe ’n bedrag beskikbaar waarmee die ringe projekte op plaaslike vlak kan help finansier. Die bedrag word saamgestel deur bydraes van onderskeidelik die sinodale bedieninge Vennote in Getuienis, Bedieningsbegeleiding en Diens van Barmhartigheid. Elke bediening gee uit hulle begroting ’n bydrae tot hierdie fonds en die ring besluit dan self hoe hulle die fonds wil aanwend, hetsy as Getuienis-, Bedieningsbegeleidings- of Diens-van-Barmhartigheidsprojek. Verslag word dan gelewer oor hoe die projek verloop het alvorens ’n volgende jaar se toekenning gemaak word.
“In die 2023/24-boekjaar is ‘n bedrag van R50 000 aan elkeen van die ringe beskikbaar gestel. Wat die Ring van Smithfield betref, is daar by al drie die sinodale bedienings ingeskakel,” vertel ds Werner Burger, voorsitter van die Ring van Smithfield en predikant van die NG Kerk Zastron. Ons het meer gaan uitvind.
Werner, wat het die Ring van Smithfield as projek gekies en waarom juis dit?
“Ons het besluit om die fonds aan te wend vir opleiding in die bestryding van weghol-veldbrande aan grondeienaars en plaasarbeiders.
Weghol-veldbrande is ’n geweldige groot probleem op die Vrystaatse platteland. Boonop het wetgewing werkgewers begin verplig om hulle en hul personeel te laat oplei in veldbrandbestryding, anders kan daar aanspreeklikheidsprobleme ontstaan.
“Die Ring van Smithfield het ná die vorige jare se verwoestende brande ’n dringende behoefte aan dié opleiding begin raaksien en besluit om die grondeienaars en hul plaasarbeiders ten opsigte hiervan te help bemagtig.”
Vertel vir ons meer van die aanbieding van dié noodsaaklike opleiding.
“Maletswai Development and Sport Centre was betrokke by die opleiding van die geleenthede op Aliwal-Noord, en Working on fire was betrokke by die opleiding van die Dewetsdorp-geleenthede.
“Die opleidingsdag word in twee gedeel, naamlik ’n teoretiese onderbou wat bestaan uit watter toerusting nodig is, sowel as wat die wetlike agtergrond en implikasies vir die werkgewers en werknemers is. Die opleiding bestaan ook uit ’n praktiese deel waar die teorie ingeoefen en prakties gedemonstreer word.
“Dit is met groot dankbaarheid dat ons ring, danksy hierdie besondere NG Kerk Vrystaat-fonds, in samewerking met die BBV, al byna 400 boere en plaasarbeiders in die bestryding van weghol-veldbrande kon laat oplei.
“Die gemeentes vind geweldig baie baat by hierdie opleiding, want hierdeur word daar nie net ondersteuning aan lidmate gegee nie, maar ook aan die breër gemeenskap. Dit is ’n praktiese manier waarop die gemeenskappe waarin ons woon, ons as Christene se betrokkenheid tasbaar kan ervaar.”
Kontak ons:
| Ds Werner Burger
| burger.s.werner@gmail.com
| verskaf deur: Ds Werner Burger, voorsitter van die Ring van Smithfield.