Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Werkersdag – ’n viering van die waardigheid van arbeid en die regte van werkers

Deur Mariëtte Odendaal

Die viering van Werkersdag op 1 Mei is meer as net ’n vakansiedag – dit is ’n herinnering aan die krag van eenheid en die lang stryd vir regverdigheid in die werkplek. Ons as navolgers van Christus behoort die voortou te neem waar ons onregverdige en onbillike vergoeding of swak dienslewering raaksien.

Niemand kan oorleef sonder ’n leefbare inkomste nie; ons almal het dit nodig. Werkgewers het werknemers nodig en vice versa. Ons kan nie sonder mekaar oorleef nie. Die uitdaging is egter hoe om ’n regverdige en billike balans te vind.

’n Mens wonder byvoorbeeld hoe Christene in die slawehandel-era dit oor hul harte kon kry om kinders wat dieselfde ouderdom as hul eie kinders was, as slawe te kon koop? Watter deel van jou gewete moes jy doodmaak om dit te kon doen?

Kyk jy na rolprente oor die uitbuiting van fabriekswerkers in die era van die Industriële Rewolusie, kan jy nie die lang, onmenslike werksure en haglike omstandighede glo nie. Opstande hierteen was onvermydelik.

Die ontstaan van Werkersdag

Werkersdag, wat wêreldwyd jaarliks op 1 Mei gevier word, het sy oorsprong in die laat 19de eeu tydens die Industriële Rewolusie gehad toe werkers vir beter werksomstandighede, billike ure en regverdige lone begin veg het.

Dit kan teruggevoer word na die Haymark-oproer in Chicago, VSA, op 4 Mei 1886. Arbeiders het bymekaargekom om te protesteer teen lang werksure (tot 16 uur per dag) en om ’n agt uur-werkdag te eis. Die protes het gelei tot geweld en die dood van sowel protesteerders as polisiemanne. Hierdie gebeurtenis het ’n wêreldwye arbeidersbeweging geïnspireer en in 1889 het die Internasionale Sosialistiese Kongres 1 Mei aangewys as ’n dag om arbeidersregte te vier.

Wêreldwye erkenning

Werkersdag het vinnig wêreldwyd erkenning gekry, veral in Europa, waar dit ’n belangrike vakansiedag geword het. In baie lande word dit gevier met optogte, toesprake en kulturele geleenthede.

Werkersdag in Suid-Afrika

Hier het Werkersdag in die vroeë 20ste eeu begin en het ’n belangrike rol gespeel in die stryd teen apartheid en vir werkersregte. Vandag is dit ’n erkende openbare vakansiedag waar werkers hul bydrae tot die ekonomie vier.

Voordele om Werkersdag te vier

Terwyl die dag aanvanklik gefokus het op die stryd vir basiese werkersregte, het dit ontwikkel om ook kwessies soos gelyke loon, werksekuriteit en werksomstandighede in te sluit.

Dit erken die bydrae van werkers tot die ekonomie en samelewing en beklemtoon die belangrikheid en waardigheid van werk.

Werkersdag skep bewustheid van uitdagings wat werkers in die gesig staar, soos ongelykheid, uitbuiting en onregverdige praktyke.

Dit bring mense bymekaar om saam te vier en te dink aan die waarde van kollektiewe optrede, soos vakbonde en werkersverenigings.

Dit bied ’n kans om gesprekke te voer oor hoe om werksomstandighede te verbeter en werkersregte te beskerm.

Ten slotte

Die viering van Werkersdag op 1 Mei is meer as net ’n vakansiedag – dit is ’n herinnering aan die krag van eenheid en die lang stryd vir regverdigheid in die werkplek. Ons as navolgers van Christus behoort die voortou te neem waar ons onregverdige en onbillike vergoeding of swak dienslewering raaksien.  

Deur hierdie dag te vier, erken ons nie net die verlede nie, maar bou ons ook aan ’n toekoms waar alle werkers met waardigheid en respek behandel word.