Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ring van Bloemheuwel belê in gemeenskap en jeug

“Die belydeniskamp van 2022 was ’n plek waar ons regtig tyd gekry het om saam met die Here te wees en om ons verhouding met Hom te vestig,” vertel Emma Calitz, ’n Graad 12-leerder van Oranje Meisieskool en lidmaat van die NG Kerk Heuwelsig. “Ek het die kamp baie geniet en baie geleer oor myself en oor hoe ek wil hê my lewe in Jesus moet lyk. Dit was die ideale plek om net ’n bietjie te kon wegkom van die besige jaar en net weer te kon fokus op die Here.”

Dis getuienisse van ringsprojekte soos hierdie wat ’n mens se hart warm laat klop; projekte wat in die geestelike ontwikkeling van ons jeug en gemeenskappe belê.

______________________________________________

Die NG Kerk Vrystaat het in die boekjaar 2022/23 ‘n bedrag van R30 000 beskikbaar gestel aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek is dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer word.

Wat die Ring van Bloemheuwel betref, is daar by al drie die sinodale bedieninge ingeskakel, naamlik die Bedieningsbegeleiding, die Diens van Barmhartigheid en by Vennote in Getuienis,” vertel Piet Coetzer, ringskriba van die Ring van Bloemheuwel. 

Vertel ons meer van jul ringsprojekte

“Sedert 2018 het ons ‘n onafhanklike kerk, die True Prophetic Word of God Ministry, in die Grassland-gebied help plant. Ons het ook die opleiding van hul pastoor ondersteun en gehelp met die oprig van ‘n doelmatige kerkgebou,” vertel ds Jors Reynders, leraar van NG Gemeente Bloemheuwel. “Bloemheuwel-gemeente verskaf ook sedertdien op Woensdae gesmeerde toebroodjies vir ongeveer 250 laerskoolkinders wat vyf tot sewe kilometer per dag skool toe en terug moet stap. Hulle stap by die kerkterreintjie verby en kry dan hul toebroodjies.

“In 2022 is die behoefte vir die bou van ‘n broodbak-oond geïdentifiseer waar die True Prophetic Word of God Ministry-gemeente daar goedkoper brood aan die inwoners van die plakkersgebied kan verskaf, asook aan hul eie lidmate wat in die informele nedersetting bly.

“Die uitgawes daarvoor het egter ons gemeente se begroting oorskry en daarom het ons dit as ‘n verdienstelike saak beskou om by die Ring van Bloemheuwel aansoek te doen om finansiële ondersteuning. Die mooi bedrag van R10 000 is vir die projek ontvang,” vertel Reynders. “Die groot voordeel van die Grassland-projek is dat daar gewaardeerde hulp aan die minderbevoorregte gemeenskap gelewer word.”

Buiten die Grassland-projek, het die Ring van Bloemheuwel ook tydens die naweek van 21 tot 23 Oktober ’n belydeniskamp te Pro-Regno, Barkley-Wes aangebied. “Ons het dit genoem, die Better Together-Belydeniskamp.  Daar was 107 belydeniskatkisante en leiers vanuit 9 gemeentes by die kamp teenwoordig,” vertel ds Ettienne Engelbrecht, leraar van NG Gemeente Heuwelsig.

“Die tema vir die naweek was #EKGLO. Die aanbieding is opgedeel in vier sessies waartydens ons die vier vrae hanteer het waarop die katkisante tydens belydenisaflegging moes antwoord. ‘n Sessie het bestaan uit: Lofprysing en aanbidding wat begelei is deur John Matthews en jongmense uit die verskillende gemeentes; ‘n predikant het dan oor die tema gepraat, gevolg deur groepsbesprekings wat deur leiers uit verskillende gemeentes gefasiliteer is. Ons vertrou dat die Here deur die Better Together-Belydeniskamp werklik ‘n verskil in jongmense se lewens gemaak het!”

Hierdie uitgawes is gedek deur ‘n registrasiefooi per persoon, donasies uit gemeentes asook ‘n donasie van R20 000 vanaf die NG Kerk Vrystaat Sinode se GOUF-fonds wat deur die Ring van Bloemheuwel toegestaan is.  “Hieroor is ons baie dankbaar en vertrou dat Better Together in die toekoms weer op hierdie goeie gesindheid sal kan staatmaak,” sê Engelbrecht. “Better Together is ‘n belangrike belegging in die jeug van ons ring.”

Ringsprojekte ervaar ook dikwels uitdagings. Vertel ons meer daarvan.

“Die grootste uitdagings ten opsigte van ons ringsprojekte is die koste daarvan,” vertel Coetzer. “Toekomstige instandhouding sal voortgesette hulp benodig, want ons gemeenskap en ons jeug bly vir ons ring ‘n prioriteit in ons bedieningsbehoeftes.

“In die lig van die finansiële behoeftes van moontlike projekte is sinodale betrokkenheid en finansiële bystand uiters belangrik,” sê Coetzer.

Foto’s: Verskaf

116 | Maatskaplike NOODLYN