Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Plastiekvrye Julie: Geloof, verantwoordelikheid en ‘n skoner skepping

Deur Mariëtte Odendaal

“Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here …”

Psalm 24:1 (1983-vertaling)

Elke jaar neem mense wêreldwyd gedurende Plastiekvrye Julie ‘n doelbewuste besluit om hul gebruik van plastiek te verminder. Maar waar het dit begin en hoe kan ons as Christene hierby aansluit – nie net as omgewingsbewustes nie, maar veral as rentmeesters van God se skepping?

Hoe het Plastiekvrye Julie ontstaan?

Plastiekvrye Julie het in 2011 in Australië begin as ‘n plaaslike inisiatief van die Plastic Free Foundation, met die doel om mense bewus te maak van die skadelike gevolge van weggooiplastiek.

Hierdie klein begin het vinnig gegroei tot ‘n wêreldwye beweging in meer as 190 lande. Miljoene mense neem nou elke jaar deel – individue, skole, kerke, besighede en gemeenskappe.

Wat wil ons bereik met Plastiekvrye Julie?

Die doel van Plastiekvrye Julie is om mense aan te moedig om minder weggooiplastiek te gebruik – veral dié wat net een keer gebruik word, soos plastieksakke, strooitjies, koffiebekers, plastiekbottels en verpakkingsmateriaal.

Élke plastiekvrye besluit, hoe klein ook al, kan ‘n verskil maak. Dit gaan nie net oor plastiek nie, maar ook oor volhoubare lewenskeuses wat die planeet en mense dien en tot voordeel strek.

Waarom is dit vir ons as Christene belangrik om deel van hierdie veldtog te wees?

As volgelinge van Christus glo ons dat die skepping nie aan ons behoort nie – dit is God s’n. Ons is geroep om goeie en verantwoordelike rentmeesters van die aarde te wees. In Genesis 2:15 lees ons: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.”

Plastiekbesoedeling bedreig ons oseane, diere, voedselketting en uiteindelik ons eie gesondheid. As Christene kan ons nie ons oë vir hierdie werklikhede sluit nie. Om minder plastiek te gebruik, is ‘n daad van liefde – vir God, vir ons naaste en vir die skepping.

Praktiese wenke vir ‘n Plastiekvrye Julie (en die res van die jaar)

Hier is ‘n paar eenvoudige stappe wat jou gesin, gemeente of kleingroepe kan neem:

      • Sê nee vir plastieksakke – neem jou eie herbruikbare sakke winkel toe.
      • Gebruik herbruikbare waterbottels en koffiebekers – verminder enkelgebruik-plastiekhouers.
      • Vermy plastiekverpakkings waar moontlik – kies los groente of vrugte en kies eerder produkte wat in papier, karton of glas verpak is.
      • Reël ‘n gemeenskaplike skoonmaakaksie – ruim plastiek op in jou buurt of by ‘n plaaslike park.
      • Begin ‘n bewusmakingsveldtog in jou gemeente – moedig mense aan om saam betrokke te raak.
      • Leer kinders van kleins af om daarop bedag te wees – gebruik Bybelse beginsels van rentmeesterskap om hulle te leer van omgewingsorg, soos die gelykenis van die vermeerdering van die vis en brood waarna twaalf mandjies oorskietkos opgeruim is.
      • Ondersteun plaaslike winkels wat plastiekvrye opsies bied.
Geïnspireer deur Christus

Jesus het gewys wat dit beteken om te gee, te dien en op te offer vir ander. In ‘n wêreld waar geriefs- en verbruikersmentaliteit hoogty vier, herinner Plastiekvrye Julie ons daaraan om anders te leef – met bedagsaamheid, opoffering en sorg.

Om ‘n plastiekvrye lewe na te streef, demonstreer met elke ‘groen’ keuse ‘n geestelike daad van gehoorsaamheid aan God se opdrag om die aarde te versorg.

Lees meer oor Plastiekvrye Julie hier.

Kyk ook gerus na hierdie video oor plastiekbewustheid deur die Algemene Taakspan Ekologie.

God se skepping | Ons roeping