Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Nagraadse teologiese studiegeleenthede by die Universiteit van die Vrystaat

Deur ds Marlene Oosthuizen,
program-direkteur van die Fakulteit Teologie en Religie, UV

Nagraadse studie in teologie bied jou die  geleentheid om jou kennis en vaardighede in ’n spesialiteitsveld betekenisvol te verdiep. Hierdie gevorderde vlak van opleiding dien as ‘n katalisator vir professionele, persoonlike en geestelike groei, wat ook ’n impak het op jou loopbaan en die gemeenskappe wat jy bedien.

Teologiese studie speel ‘n onmisbare rol in vandag se samelewing vir die verdieping en verbreding van die Missio Dei in die lig van komplekse sosiale uitdagings en geleenthede. Nuwe uitdagings vereis nuwe insigte en leierskap om vasberade en volhoubaar aandag te gee aan die geestelike welstand van lidmate en gemeenskappe, die bevegting van onreg, die versorging van die armes en die bestuur van natuurlike hulpbronne. In ’n tyd van ongekende tegnologiese ontwikkeling is die verkenning van etiese raamwerke vanuit ’n Christelike perspektief nodig om met nuwe insig uiting te gee aan die profetiese stem van die kerk.

Behalwe die bevrediging en vervulling van ’n diepgaande leerproses, kan nagraadse studie jou professionele netwerk uitbrei tot die versterking van jou loopbaan.  Dit vereis toewyding en harde werk, maar die voordele – beide professioneel en persoonlik – is beduidend en ’n mylpaal wat met trots gevier kan word.

Vir gegradueerdes (baccalaureus-graad) sonder vorige teologiese opleiding bied die Fakulteit van Teologie en Religie van die Universiteit van die Vrystaat die geleentheid om die gebied van teologiese studie te betree deur die Nagraadse Diploma in Teologie. As jy ’n leier is in jou kerk en na dieper teologiese onderskeiding en bedieningsvaardighede soek, is hierdie die regte kwalifikasie vir jou.

Daar is ook in 2025 ’n nuwe inname in die teologiese meestersgraad in spiritualiteit as jy belangstel in ’n dieper ervaring van jou geloof en dissipelskap. Of, as jy ’n agtergrond in die grondtale het, kan jy ook dink aan die meestersgraad in Bybelvertaling.

Verder bied die fakulteit ook spesialisasies aan in Ou Testament, Nuwe Testament, Nuwe Testamentiese Grieks en Vroeë Christelike Literatuur, Kerkgeskiedenis, Sistematiese Teologie, Praktiese en Missionale Teologie, Pastorale Teologie en Praxis, en ook Religieuse Studies.

Aansoeke vir nagraadse studie sluit op 31 Oktober 2024. Kontak gerus vir Palesa Pholo by PholoPG@ufs.ac.za indien jy meer inliging wil hê oor die toelatingsvereistes, of raadpleeg die Reëlboek op die fakulteit se webtuiste.

 | VerskafDs Marlene Oosthuizen, Program-direkteur, Fakulteit Teologie en Religie, UV.

116 | Maatskaplike NOODLYN