Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

‘n Herinnering aan dankbaarheid

Anna Bobbert, ‘n stoere lidmaat van die NG Gemeente Berg-en-Dal, is onlangs in die ouderdom van 93 jaar oorlede. Psalm 50 was die laaste skrifgedeelte wat op haar versoek saam uit Die Lewende Bybel gelees is. Die 1933-vertaling se opskrif is “Die ware godsdiens” en dit is asof dié Psalm sy loop neem (of vloei) na die diepte-punt van wat ware godsdiens behels.

Godsverskyning

Psalm 50 open met ‘n dramatiese Godsverskyning in die Godstad (Sion) met die boodskap dat God hier teenwoordig is.

Die Here is God, Hy alleen is God.

Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,

van waar die son opkom tot waar hy ondergaan.

Uit Sion, stad van volmaakte prag, verskyn God in glans.

Godsdienstigheid

God sluit ‘n verbond met die mens en die mens se godsdienstigheid sluit brandoffers in. God ontvang die offers, maar het nie behae in diereoffers nie soos blyk uit die retoriese vraag (vers 13):

Eet Ek miskien … vleis … ?

Godvergeters

‘n Ernstige waarskuwing word aan diewe, egbrekers en kwaadpraters gerig. Godvergeters soos in die 1933-vertaling genoem. Weer vra God (vers 21):

Moet Ek stilbly as julle sulke dinge doen?

Dan sal jy dink Ek het soos jy geword!

Nee, Ek eis rekenskap van jou …

Ware Godsdiens

Psalm 50 sluit met die offer van ware godsdiens.

As ‘n mens se offer uit dankbaarheid bestaan,

eer hy of sy My ….

Dankie, Anna, jou herinnering aan dankbaarheid in die woorde van Psalm 50 maak ons lewens ryker, mooier en voller