NG Kerk Vrystaat Bedieninge | Uitvoerende Amptenare
Met dankbare harte kyk ons terug op die afgelope jaar en al die genade en groei wat ons as geloofsgemeenskap beleef het. Soos die ster van Betlehem helder geskyn het, herinner dit ons aan die lig en hoop wat Christus na die wêreld gebring het.
Mag hierdie Kersseisoen vir elke gemeente en lidmaat ’n tyd van vreugde, vrede en diep verbondenheid wees. Mag julle die nuwe jaar met geloof en verwagting tegemoetgaan, geanker in die liefde en waarheid van ons Here.
Geseënde Kersfees en voorspoed vir die Nuwejaar!
![](https://www.ngkerkvrystaat.co.za/wp-content/uploads/2024/12/Dr-Leon-Foot-2-1.jpg)
Dr Leon M Foot
BEDIENINGSBEGELEIDING
EN VISIONERING
Kerstyd = Immanueltyd
Mense vra soms waar is God? So asof hulle Hom iewers verloor het, of, nog erger, dat Hy hulle iewers verloor het. Hy het nie!
Die afgelope jaar het baie gemeentes (leraars en lidmate) swaar gekry. Behalwe vir die natuur se droogtes en hittegolwe, was kerkwees ook nie meer wat dit in die verlede was nie. Na Covid kom al minder mense kerk toe en dit lyk of die jong geslag geen erg aan kerk het nie. Minder mense in die erediens sing minder lekker, en maak dat meer mense wegbly. Dan vra mense of God die kerk in die steek gelaat het, vergeet het.
Na die ballingskap het die volk in die OT waarskynlik ook so gevoel. Wat het geword van God? En sy beloftes? Maar God was nog nooit weg nie. Hy vervul sy profeet se woorde toe ‘n jong meisie ‘n seun in die wêreld bring en hom Immanuel noem. En Hy doen dit in die tyd van die Jood-hatende Romeine en die verpestelik Herodes. Te midde van die swaarkry van droogtes en die politiek, verskyn sy Almag.
As jy voel dat God ver is, of selfs weg is, mag hierdie feesseisoen jou weer herinner dat kerstyd Immanueltyd is. God met ons.
![](https://www.ngkerkvrystaat.co.za/wp-content/uploads/2023/12/Dr-Johan-Nel-1.jpg)
Dr Johan Nel
TEOLOGIESE OPLEIDING SEMINARIUM EN KURATORIUM
Groete van die Seminarium. Met die legitimasie van Teologiese kandidate op 19 November het die formele werksaamhede van die Seminarium vir 2024 vir die jaar tot ‘n einde gekom.
Ons kyk in dankbaarheid terug op ‘n goeie jaar. Al die programme wat die studente kerklik vorm met die oog op bediening, is suksesvol afgehandel, en steeds word nuwe terreine geïdentifiseer. Die Kerk vertrou die Seminarium met ‘n ontsaglike verantwoordelikheid. Ons het groot waardering vir elke aanbieder, mentor, steunspan en student vir die ewigheidsbeleggings wat in ons studente gemaak word. Deur onbaatsugtige opoffering van menige kollega word kennis, kundigheid, ervaring en menswees gedeel tydens formele aanbiedings, retreats, en meer. Ons sien uit na ‘n goeie nuwe jaar, met die vooruitsig om nuwe eerstejaarstudente te verwelkom wat weldra by ons studentekorps aansluit. Vanuit die Seminariumkantoor wens ons almal ‘n uitsonderlik goeie Feestyd toe, met die bede dat ons almal opnuut aangegryp sal word deur die Kind in die krip. Ons groet met die bede van Paulus aan die Efesiërs dat [julle] saam met al die gelowiges instaat sal wees om te begryp hoe wyd en vêr en hoog en diep die liefde van Christus strek; liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag [julle] almal vervul word met die volheid van God.
![](https://www.ngkerkvrystaat.co.za/wp-content/uploads/2023/08/De-la-Harpe.jpg)
Ds De La Harpe le Roux
DIENS VAN BARMHARTIGHEID
Wat ‘n jaar was dit nie! Soos Charles Dickens in sy ‘A Tale of Two Cities’ sê: “it was the worst of times; it was the best of times”.
Mag die goeie van vanjaar die slegte goed wat jy moes hanteer by verre troef. Mag Hy wat die vrede van Kersfees is, jou in hierdie tyd vul met sy teenwoordigheid. Mag jy genoeg rus en jou batterye herlaai vir 2025. ‘n Geseënde Christus-gevulde Kersfees word jou toegewens vanuit die Sinodale kantoor vir Diens van Barmhartigheid.
![](https://www.ngkerkvrystaat.co.za/wp-content/uploads/2024/12/Dr-Nico-Mostert-1-1.jpg)
Dr Nico Mostert
VENNOTE IN GETUIENIS
Vennote in Getuienis kyk terug na ’n baie geseende jaar.
Oral waar gemeentes en groepe en ons ekumeniese vennote die roeping van God gevolg het, het hulle ook hoop en nuwe lewe in Christus Jesus gebring. Dié Kerstyd is nie net ’n tyd van rus nie, maar ook ’n tyd van luister en reflekteer. Mag die kerk van die Here hier plaaslik, in Afrika en die eindes van die aarde, hierdie Kerstyd voortgaan om hoop en vreugde te bring deur Jesus te leef!
![](https://www.ngkerkvrystaat.co.za/wp-content/uploads/2020/04/Adriaan_de_Ruiter.png)
Adriaan de Ruiter
ONDERSTEUNING
Baie dankie aan al ons NG-gemeentes vir julle getroue finansiële ondersteuning en betrokkenheid in 2024.
Julle bydraes staan in diens van God se koninkryk en maak ’n verskil in mense se lewens. Ons bevestig weereens dat ons in diens staan van Ringe en Gemeentes en ons wil julle graag uitnooi om vrymoedig-heid te neem om ons te kontak vir ondersteuning en hulpver-lening waar nodig. Ons ver-welkom ook voorstelle om u beter tot diens te wees. Ons wens u almal ’n baie geseënde feestyd saam met u geliefdes toe en beste wense vir 2025.