Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

‘n Geopende hemel, ‘n lewende Christus, ‘n moedige kerk.

Hemelvaart was gister, volgende week is dit Pinkster. Ons leef in daardie tien dae tussen-in. En in die woorde waarmee ons Christus onthou – “… ontvang van die Heilige Gees, gebore is, gely het, gesterf het, begrawe is, neergedaal het, opgestaan het, opgevaar het, wat weer sal kom…” – klink daar ‘n diep oortuiging op: Ons dink nie net dankbaar terug aan wat verby is nie, die heilsgeskiedenis van Advent en Epifanie tot Lent en Pase nie, en ons verlang ook nie net reikhalsend na wat nog sal wees – die Voleinding – nie. Ons getuig óók gelowig oor wat nou in hierdie hede ís; ons sê: “(Hy) sit aan die regterhand van God, die Almagtige…” Teenswoordige tyd.

Waar kom dié woorde vandaan: “Sittend aan die regterhand van God”? Sedet ad dexteram Patris? Was dit nie Jesus self, diep daardie Donderdagnag toe Hy deur die Joodse Raad verhoor is en gevra is òf Hy die Christus is, wat geantwoord het: “… van nou af sal die Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Almagtige” (Lukas 22:69). ‘n Antwoord wat menslik gesproke vir ‘n Timmermanseun uit Nasaret aan lastering gegrens het, want dit was Psalm 110 wat die Skrifgeleerdes daarin herken het; daardie heilsbelofte aan die Koning van Sion; die ereposisie vir die Gesalfde van die Here! ‘n Woedende skare, ‘n wrede kruis! Tóg sou Petrus dit op Pinkstersondag beaam: “Hierdie Jesus wat julle gekruisig het”, dit is Hý aan Wie God gesê het “sit aan my regterhand” (Handelinge 2:36). En nie lank ná Petrus nie, Stefanus.

Van Stefanus word ons meer as een keer vertel dat hy “vol van die Heilige Gees was” (Handelinge 6:5, 7:55); een van die eerste geroepenes om die barmhartigheid van God in die gemeente uit te deel. ‘n Roeping wat hom kort voor lank ook voor die Joodse Raad laat beland het. Nie net vir hóm nie, maar ook vir daardie eerste gemeente, die vroeë Kerk, ‘n waarheidsmoment dus, selfs ‘n krisis-uur: Hulle is onderling verdeeld, daar is ‘n gemor, vermoedelik oor ‘n kulturele onderskeid wat in die gemeente gemaak word (6:1); oor hul koppe dreig die swaard van vervolging en wat kort daarna in alle felheid losbars (7:54, 8:1); aanstons wag daar verstrooiing weg van hul huis en haard in Jerusalem, verder en verder (8:1, 4).

Dit is in hierdie kritieke moment dat ons Stefanus se stem hoor opklink, en lees dat hy “stip na die hemel” gekyk het (7:55), net soos die dissipels op daardie eerste Hemelvaartdag (1:10). Asof sonder woorde, wagtend. Stefanus sien die hemel oop, en die heerlikheid van God, glansend lig, heilig, oorweldigend. En in daardie lig, dié Lig wat alle duisternis oorwin het, die Woord wat ewig by God was en in die geskiedenis vlees geword het – dáár, “aan die regterhand van God staan die Seun van die Mens”! Teenswoordige tyd. Nou. Hede vandag. Dít is die eintlike realiteit, die ware werklikheid! Dít, terwyl die klippe neerreën en die lewe uit Stefanus doof. In die skerpste kontras met donkerte en dood en nood en chaos en oorlog en geweld en vertrapping en verval, ja, téén ons eie tyd en swaarkry in, sien Stefanus die lewende Christus, by God!

Dié kort sinnetjie in ons Geloofsbelydenis – “en sit aan die regterhand van God, die Almagtige” – was die hemelse vergesig en laaste gedagte waarmee hierdie eerste martelaar sou sterf. Daartoe bereid, omdat Hy oortuig was die eintlike werklikheid is dat Christus leef en by God regeer. Daarom ook, en dit is die merkwaardige, dat Stefanus sterf soos Jesus! Op sy lippe, die kruiswoorde van Jesus! Eers, Jesus se laaste kruiswoord: “Here Jesus, ontvang my gees!” (7:59). Soos Jesus ook Psalm 31:6 op Golgota gebid het; “Vader, in u hande gee ek my gees oor!” ‘n Woord van oorgawe, van vertroue, van ‘n diep oortuiging. En dan, Jesus se eerste kruiswoord: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie…” (7:60). ‘n Woord van vergifnis, van ‘n diep vrede wat net die Vader skenk.

Stefanus onder die klippe, die kerk onder die kruis – verdeeldheid, vervolging, verstrooiing – maar met ‘n geloofsbelydenis oor Christus in hierdie hede. Hý regeer. En solank die Kerk met haar oog stip gerig op die hemel, moedig aanstap en in haar mond die woorde van Jesus oor vertroue en vergifnis hou… só lank sal die evangeliewoord geloofwaardig uitkring en haar hoorders vol troos herinner aan ‘n geopende hemel en die lewende Christus.

Ds Jan Lubbe | 19 Mei – Hemelvaart 2023