Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“My hart voel lig en my voete jeuk…”

‘n Nuwe jaar se teologiese opleiding in Bloemfontein het begin!

Dit is ‘n Dinsdagaand ná agt al. Vier lede van ons Kuratorium sit voor ons rekenaars: ‘n Zoom-gesprek tussen Bloemfontein, Welkom, Betlehem en … London! ‘n Kandidaat met ‘n BTh-graad en bedieningservaring in kleingemeentes in die Vrystaat, Oos-Kaap en Engeland, het by die Kuratorium aansoek gedoen om as diensleraar opgelei en gelegitimeer te word. Sy’t ook besluit om dadelik in te skryf vir aanlynkursusse van die Hugenote Kollege (Wellington) in Hebreeus en Grieks, en is opgewonde oor die vooruitsig om amptelik tot die bediening toegelaat te word: “My hart voel lig en my voete jeuk,” skryf sy agterna dankbaar.

Teologiese opleiding vir die NG Kerk in die Vrystaat het die nuwe jaar met entoesiasme en ywer begin. Op Maandag, 20 Februarie 2023 het die opening van die Fakulteit Teologie en Religie in die Odeion op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat plaasgevind, en het die bykans 200 studente, dosente en predikante uit ‘n verskeidenheid van kerke in Engels, Afrikaans en Sesotho die bekende Psalm 100 – “All people that on earth do dwell” / “Die Heer is God erken dat Hy” / “Kenang ‘kgorong tsa Jehova” – uit volle bors aangehef. Die liturgie en Woordverkondiging is deur prof. Rantoa Letsosa gelei, met Jesaja 40:25-27 as teks. Dit was in ‘n sin ook sy afskeidsboodskap; Prof. Letsosa is met ingang 1 Maart vanjaar as nuwe dekaan van die Fakulteit Teologie by die Universiteit van Pretoria aangestel. Die Kuratorium het dieselfde Maandagmiddag by die opening van ons Seminarium in die St. Paulus Evangelies-Lutherse Kerk, ‘n woord van waardering aan prof. Letsosa oorgedra. Vir die res van hierdie jaar neem prof. Francois Tolmie as dekaan waar. ‘n Eerste vergadering van die Kerklike Adviesraad vir die Fakulteit vind hierdie week plaas en sal dan ingelig word oor die verloop van die proses om ‘n nuwe dekaan vir die Fakulteit aan te wys. Intussen is die Kuratorium ook deel van gesprekke oor ‘n herkurrikulering vir die BDiv-graad, waarvoor ‘n aantal van ons studente ingeskryf is vir hul akademiese opleiding as voornemende predikante in die NG Kerk.

Wat ons studentetal vir 2023 betref, is daar tans 11 studente in die BDiv-graadprogram (jare een tot vier), een student doen ‘n BTh-graad aanlyn via Hugenote Kollege en 5 studente is vanjaar vir die Nagraadse Diploma in Christelike Bediening ingeskryf – die sg. “Gemeentejaar”. Ook hier is daar ‘n opwindende ontwikkeling: Hierdie studente doen vyf akademiese blokke in al die teologiese vakke (Ou- en Nuwe Testament, Sistematiese Teologie, Ekklesiologie, Praktiese Teologie en Missiologie), terwyl hul tot einde September praktykblootstelling in hul opleidingsgemeentes deurloop, van Bloemfontein tot Bloemhof. Terselfdertyd is hul by die Seminarium ingeskryf vir twee “Praktyk van Erediens en Prediking”-werkswinkels en programme in Christelike Etiek in persoonlike- en gemeentelike konteks, die eietydse geskiedenis van die NG Kerk en ons Kerkorde, nuwe kontekste van bediening vir die NG Kerk in ons land, die Kerklied en kontemporêre kerkmusiek, gemeentelike finansies en kerklike administrasie. Ons “Gemeentejaar”-studente word deur die Myers Briggs-persoonlikheidsprogram gelei, asook sessies oor Christelike spiritualiteit, die menswees van die dominee en professionele styl en optrede. Hulle sluit die jaar af met ‘n driedaagse retreat op Menuha, waar veral oor hul spesifieke gawes en roeping besin word, en waarná hul dan vir legitimasie sal aanmeld. Benewens die vyf mentors van die groep, is nog 17 predikante van die NG Kerk Vrystaat as aanbieders by hierdie opleidingsprogram betrek.

Wat ander Seminariumwerk betref, het studente in die eerste kwartaal met programme oor hul persoonlike roepingsverhaal begin, asook oor die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls; die 20ste eeuse geskiedenis van die NG Kerk; studie-, lees-, gedrags- en verhoudingsvaardighede en oor emosionele intelligensie. Die 3de en 4de-jaarstudente het in Maart ‘n Stilretreat op Menuha bygewoon waar aan die hand van Jesus se voorbeeld in Johannes 11 en die boekie van Henri Nouwen oor die spiritualiteit van die woestynvaders (“The Way of the Heart”), oor ons belewenis van God se teenwoordigheid en sorg nagedink is. Al die teologie- studente van die NG Kerk Vrystaat woon die komende Buitengewone Sinodesitting op 18 April as waarnemers by en sal Woensdagoggend tydens ons seminariumperiode oor die sinode reflekteer.

‘n Eerste retreat is vir vyf diensleraars en bedienaars wat vanjaar by ons Seminarium ingeskryf is, aangebied. Onder leiding van ds. Peet Louw (NG Kerk Riebeeckstad) het hierdie groep veral op hul spiritualiteit, die belydenis en identiteit van die NG Kerk, en die praktyk van Woordbediening gefokus. Vanjaar se groep kandidate wissel van ‘n borrelende post-matriek Trompsburger tot ‘n Jeugwerker uit Mpumalanga, ‘n (jong) oud-onderwyser en afgetrede verpleegkundige met ‘n DTh in pastoraat. Een van die groep se waarderende terugvoer ná die retreat was dat hul “akademiese pitkos gekry het, maar ook diepsinnig op sosiale-, emosionele- en geestelike vlak toegerus en bemagtig is.” Verder begelei die Kuratorium tans drie kandidate vir ‘n colloquium doctum. En al vier proponente wat ons verlede jaar gelegitimeer, is reeds na gemeentes beroep!

Kortom, soos wat ons vanjaar gelei mag word deur Hom wat roep en Sy kerk versorg, sal die Kuratorium teen November 2023 veertien kandidate vir die bediening van die Woord, sakramente en pastorale sorg in die NG Kerk beskikbaar kan stel: Predikante met volle bevoegdheid, diensleraars en bedienaars. Ons harte voel inderdaad lig en ons voete jeuk! Ons is dankbaar vir gemeentes wat deur hul bydraes, kollektes, beurse en gebede hierdie studente ondersteun. Deur die jaar sal ons saam, soos by die opening van die Fakulteit op 20 Februarie, die bekende lied bly sing:

 “I need Thee, o I need Thee;

every hour I need Thee.

Oh, bless me now, my Saviour!

I come to Thee.”

Ds Jan Lubbe, Voorsitter: Kuratorium

Fotos: Links bo: Nuwe aasig van die Fakulteit Teologie | Universiteit van die Vrystaat

Regs bo: Diverse Opleidingsbane Retreat vir Bedienaars en Diensleraars

Van links na regs: Kleintjie Erasmus, Hester Fourie, Stefan Smit, Christine Grobbelaar, Adriaan Maartens en ds Peet Louw (Voorsitter: Steunspan Diverse Opleidingsbane)

Regs onder: Stilretreat vir 3e en 4e jaar NG Kerk Teologiese studente

Van links na regs: Dieter Frey, Sarahné Dreyer, Theuns van der Nest, Marie Schoeman, Johan Minnaar

Middel onder: Seminarium Opening 20 Februarie 2023 by die St Paulus Lutherse Kirche, Bloemfontein

Regs onder: Menuha, Plek van Rus – kapel

116 | Maatskaplike NOODLYN