Deur Mariëtte Odendaal
Die hele Novembermaand word jaarliks geoormerk om op mansgesondheid te fokus. Hierdie bewusmakingsveldtog word Movember genoem.
Prostaatkanker en depressie onder mans neem wêreldwyd toe en verdien baie meer aandag as wat dit tans kry. Statisties is mans geneig om minder aandag aan hul fisieke gesondheid, maar veral ook hul geestesgesondheid te gee; hulle behoort hul gesondheid baie ernstiger op te neem.
Van waar, Gehasi?
Movember het in 2003 in Australië ontstaan toe ‘n groep vriende besluit het om snorre te kweek om bewusmaking oor prostaatkanker en depressie onder mans te bevorder. Sedertdien het dit ontwikkel tot ‘n wêreldwye beweging met miljoene deelnemers en ondersteuners.
’n Snor is natuurlik nie ’n vereiste as ondersteuner van hierdie lewensbelangrike bewusmakingsveldtog nie, maar jou deelname aan die veldtog kan wêreldwyd ’n groot verskil maak.
Neem aksie
- Neem foto’s van jou snor en deel dit op jou sosialemedia-platforms as simbool van solidariteit met hierdie bewusmakingsveldtog; met ’n skeutjie humor kan dit pret word.
- Versprei jou eie verhaal en moedig ander mans aan om ook deel van die Movember-inisiatief te word.
- Borg iemand wat finansieel ondersteuning nodig het ten opsigte van sy gesondheid.
- Reël ’n gemeenskapsgeleentheid om fondse in te samel ten bate van innoverende navorsing, geestesgesondheidsprogramme en steunstelsels aan mans wat met hierdie toestande worstel.
- Moedig ook oop gesprek hieroor aan.
Movember is meer as net ‘n prettige veldtog; dit is ‘n belangrike beweging wat streef na die bevordering van mansgesondheid.