“As ek nou by die huis kom, gaan ek my hartjie vir Jesus gee!” So getuig ’n seuntjie van elf jaar oud toe ‘n vrywilliger hom na die Jeugweekkamp, nog ’n projek van dié ring, gaan aflaai het.
“Working in the employ of the church for the past months have enabled me to live out the call of God in my life.” So getuig Arnold Motsau, ‘n Sotho-sprekende man wat danksy een van die Ring van Goudveld by een van hul projekte betrokke geraak het.
Dit is hierdie ringsprojekte wat van ons gemeenskappe beter plekke maak om in te leef – plekke waar die lig van Christus helder skyn.
Die NG Kerk Vrystaat het in die 2022/23-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 beskikbaar gestel aan elkeen van die NG Kerk Sinode Vrystaat se 15 ringe om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer moes word.
Wat die Ring van Goudveld betref, is daar by al drie die sinodale bedieninge ingeskakel, naamlik die Bedieningsbegeleiding, die Diens van Barmhartigheid en ook by Vennote in Getuienis,” vertel ds Erich Cornelissen, ringskriba van die Ring van Goudveld.
Vertel ons meer van hoe fondse ten bate van jul ringsprojekte aangewend is.
“Ons het in totaal R40 000 vanaf die Sinode tot ons beskikking gehad; ’n bedrag van R10 000 van die 2021/22-boekjaar en R30 000 van 2022/23. Daarvan is R4 000 aangewend vir die NG Kerk Riebeeckstad Jeugweek en R36 000 vir die Missionale Bedieningsprojek in Harmonie/Virginia,” vertel Cornelissen.
Riebeeckstad Jeugweek
“Gedurende die Julie-vakansie van 2022 het die NG Kerk Riebeeckstad ’n Jeugweek vir die gemeenskap aangebied. Dit het vanaf 27 Junie tot 1 Julie by die gemeente self plaasgevind,” vertel ds Christo Nel, leraar van die Riebeeckstad-gemeente.
“Die program het soggens om nege-uur begin en tot tot een-uur smiddae geduur. Daar is elke dag speletjies gespeel, saamgesing en poppekas, kleingroep, ervaringstasies, ’n aktiwiteit en middagete voorsien.
“Die Jeugweek is gemiddeld deur sowat 160 kinders per dag bygewoon. Daarvan was ongeveer 60% Engels- en 40% Afrikaanssprekend. Sowat 50 tieners en volwassenes het ons met die aanbieding van die program bygestaan.”
Van die baie getuienisse oor wat die kamp vir die kinders beteken het, is die volgende onder andere gesê: “Dit was amazing! Oom, volgende jaar gaan ek weer kom!” (’n Anonieme seun van tien jaar oud.)
’n Dogtertjie van nege jaar se hoogtepunt van die kamp: “I liked the puppet show… Garlic is naughty!”
“Ons gemeente-begroting vir die aanbieding van só ‘n week beloop jaarliks in die omgewing van R15 000. Die hupstoot van R4 000 wat ons van die Sinode vir hierdie doel ontvang het, het dus baie handig te pas gekom om ’n klomp gate te kon toestop. Baie dankie daarvoor!”
Die Missionale Bedieningsprojek in Harmonie/Virginia
“Die NG Kerk Harmonie streef na ’n multi-kulturele bediening,” vertel ds Erich Cornelissen, leraar van die NG Kerk Harmonie. “In April 2022 het ons ons nuwe gemeentevisie, naamlik Kom ons Bou, bekendgestel. Die gedagte agter hierdie visie was nie net om die skade wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het, te herstel nie, maar om ook opnuut ’n positiewe verskil in die aangrensende gemeenskap te probeer maak. Met die demografiese samestelling van die gemeenskappe in gedagte, was die tema van ’n moontlike multi-kuturele bediening een van die hooftemas op die tafel.
“Met die hulp van die jong, ywerige Sotho-sprekende jeugwerker, Arnold Motsau, wat by ons gemeente inskakel, teiken ons op hierdie stadium die omliggende skole om nie net die evangelie te help verkondig nie, maar om ook, waar nodig, pastorale hulp en bystand te voorsien,” vertel Cornelissen.
Motsau getuig: “It empowered me to guide young learners and their parents, through the diaconal ministry of the Word, worship and pastoral care and counselling while experiencing the Love of God Triune and being the best version of ourselves in light of the work of Jesus Christ and His living sacrifice that gave us eternal life. I can be the salt of the earth amongst families, who like me, also yearn for living waters and times of refreshing. I am grateful that God is my strength and light as I do this work, as part of a vibrant local church community.”
Cornelissen vertel verder: “Die toekomsvisie is dat, namate die verhouding tussen die jeugwerker en die kinders verdiep, hierdie betrokkenheid by skole sal lei tot die toekomstige vestiging van ’n Sotho-Jeugdiens.
“Ons innige dank en waardering aan beide die Sinode Vrystaat, asook die Ring van Goudveld vir die beskikbaarstelling van fondse om hierdie dienste aan die gemeenskap te kan bied. Op hierdie manier kan ons ook ’n bydrae help maak tot die uitbou van die koninkryk van die Here.”
Voordele en uitdagings
“Die grootste voordeel van hierdie sinodale fondse is dat dit vir ons as ringsgemeentes dit moontlik help maak om addisionele projekte aan te pak waarvoor gemeentes self nie altyd die beskikbare fondse het nie,” verduidelik Cornelissen.
“Weens die nood wat so groot is daar buite, is die diens wat ons probeer lewer maar baie beperk. Ons poog egter om met elke sent soveel positiewe impak moontlik te probeer maak.
“Met hierdie projekte het ons gesien hoe dit ons gemeentes en gemeenskappe beduidend hoop en lewensbetekenis gee.”
Foto’s: Verskaf
