Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Mandala-gebedsoggende

Deur Magdaleen du Toit,

opgeleide spirituele begeleier en sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk

Twee mandala-gebedsoggende is onlangs op twee verskillende plekke in die Vrystaat gehou. Albei geleenthede is aangebied deur Magdaleen du Toit, opgeleide spirituele begeleier en tot onlangs sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk van Bedieningsbegeleiding, NG Kerk Vrystaat.

Op Philippolis het die gebedsoggend in die Karoo Artist’s Café plaasgevind onder beskerming van die plaaslike NG Gemeente, waar 15 vroue op Saterdag 22 Augustus van 9:00 tot 12:00 in stilte elkeen aan haar eie skeppende proses gewerk het.

Op Saterdag 12 September het die tweede geleentheid buite Kroonstad, by Lechwe Lodge langs die Valsrivier plaasgevind onder beskerming van die Ring van Kroonstad. Dit is bygewoon deur 27 mense wat van oral uit die streek gekom het.

Hoe werk so ’n mandala-proses? ’n Mandala is ’n sirkelvorm wat ’n veilige, afgebakende ruimte bied waarin vrylik geskep kan word. Voordat die skeppende werk begin, word deelnemers begelei om elkeen op grond van ’n diep kyk na hul eie lewens ’n gebed te skryf. Hierdie gebed word dan op ’n kreatiewe manier in die mandala-kunswerk “ingebed”. ’n Verskeidenheid kunsmateriaal is telkens beskikbaar gestel sodat elkeen na hartelus kon skep en speel: gekleurde penne en pastelle, karton, gomstokkies en skêre, sierpapier, inspirerende prente en patrone … elkeen het die geleentheid gebruik om ’n eie kreatiewe prentjie te vorm, ’n sigbare gebed wat die gebed in die harte weerspieël het.

Tydens die terugvoering kon dié wat wou, gesels oor hul ervaring van die proses. Daar is getuig van ’n reis na binne, gedagtes oopgestel sodat God se skeppende Gees deur die vingers kon vloei tot op die papier, bo-oor die woorde van elkeen se geskrewe gebed. Dankbaarheid vir ongestoorde tyd wat in God se teenwoordigheid deurgebring kon word.

Vir meer inligting kontak Magdaleen du Toit by
083 226 9732 of
magdaleen.dutoit@gmail.com

 | Foto’s is deur Magdaleen du Toit verskaf