Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

’n Blouer hemelruim

Deur Mariëtte Odendaal

Sedert die eerste rookwolke van die Industriële Revolusie die hemelruim begin verdonker het, het die wêreld gou agtergekom dat skoon lug nie vanselfsprekend is nie. Die Internasionale Dag van Suiwer Lug vir ’n Blou Hemelruim (International Day of Clean Air for Blue Skies) wat op 7 September gevier word, herinner ons elke jaar daaraan dat lug ’n geskenk van God is.

Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het in 2019 besluit om jaarliks op 7 September wêreldwyd by die mensdom ’n bewusmaking te skep van die kritieke belangrikheid van luggehalte vir menslike gesondheid en die omgewing.

Die veldtog fokus op die dringende behoefte daaraan om lugbesoedeling te verminder en internasionale samewerking te versterk.

Wanneer die lug besoedel word, raak dit nie net ons longe nie, maar ook die ritme van die skepping. En wanneer ons dit beskerm, raak ons deel van God se genesing — nie deur groot projekte nie, maar deur klein, volgehoue dade van liefde.

Hoe gemeentes ’n verskil kan maak

  • Hou ’n Ekologie-Sondag en laat die gemeente saam oor hierdie onderwerp met kundiges as hoofsprekers besin.
  • Moedig gesonde verbranding aan – minder vlamme, meer sorg, meer herwinning.
  • Plant bome as tekens van hoop en genesing.
  • Sluit aan by plaaslike groen inisiatiewe wat luggehalte verbeter.
  • Verminder die gemeente se voetspoor deur eenvoudige, praktiese stappe:
  • gebruik minder papier deur nuusbriewe digitaal te versprei;
  • skakel ligte af tussen dienste;
  • plant waterwys-plante op die kerkterrein;
  • moedig saamrygeleenthede aan of stap na byeenkomste;
  • plaas herwinningsdromme op die kerkgrond;
  • en kies omgewingsvriendelike produkte wanneer die gemeente aankope doen.

’n Slotgedagte

Elke asemteug is genade. Elke skoon briesie is ’n herinnering dat God nog steeds lewe in sy skepping inblaas. Wanneer ons ons lug beskerm, word ons deel van God se genesingswerk, ’n stille maar kragtige getuienis dat die kerk nie net praat oor liefde nie, maar dit ook uitleef.

Mag September vir ons ’n maand wees waarin ons nie net die lug sien nie, maar dit eer – waarin ons saam met die wêreld hande vat ten bate van ’n skoner, ligter, blouer hemelruim.