Deur Mariëtte Odendaal
Organiese September herinner ons daaraan dat elke bord kos ’n verhaal vertel – ’n verhaal van hoe ons óf bydra tot die uitputting van God se skepping, óf help om dit te bewaar vir die geslagte wat kom.
Elke September word mense regoor die wêreld uitgenooi om vir die hele maand te fokus op hoe ons kos meer organies kan verbou en verbruik.
Organiese September is ’n internasionale veldtog wat deur die Soil Association geloods word met die doel om die vele voordele van organiese kos en boerderye onder die aandag van die wêreld te bring. Dit gaan nie net oor gesonder kos op ons borde nie – dit gaan ook oor hoe ons kan saamwerk om God se skepping te bewaar en te versorg.
In hierdie maand werk organiese besighede, plase en handelsmerke saam om bewustheid te kweek oor hoe ons almal ’n rol kan speel ten opsigte van die beskerming van die natuur en die planeet wat God aan ons toevertrou het (Genesis 2:15).
Organiese boerdery het byvoorbeeld vier groot voordele:
- Beskerming van biodiversiteit en wildlewe – Wanneer ons natuurlike ekosisteme beskerm en nie met skadelike chemikalieë daarby inmeng nie, help ons om die verskeidenheid van lewe wat God geskep het, te bewaar.
- Bekamping van klimaatsverandering – Organiese praktyke help om koolstof in die grond te bewaar en verminder besoedeling; iets wat ’n positiewe bydrae lewer tot die welsyn van die hele aarde.
- Hoër standaarde van dierewelsyn – Daar word op ’n meer natuurlike en respekvolle manier met diere omgegaan.
- Minder blootstelling aan plaagdoders – Ons gesondheid en die gesondheid van ons gemeenskappe word beskerm.
- Beskerming van biodiversiteit en wildlewe – Wanneer ons natuurlike ekosisteme beskerm en nie met skadelike chemikalieë daarby inmeng nie, help ons om die verskeidenheid van lewe wat God geskep het, te bewaar.
Wat ons as Christene kan doen:
- Ondersteun organiese produkte waar moontlik – Koop by plaaslike markte of winkels wat organiese opsies bied.
- Leer meer oor die impak van jou koskeuses – Navorsing en bewusmaking help ons om ingeligte besluite te neem.
- Plant jou eie organiese groente of kruie – Selfs ’n klein tuintjie of plante in houers kan ’n maklike manier wees om daarmee te begin.
- Bid vir boere – Bid vir wysheid en volhoubare praktyke wat God se skepping eer.
- Deel die boodskap – Moedig gesinne, vriende en jou gemeente aan om verantwoordelik te kies wat hulle eet.
Ten slotte
Organiese September herinner ons daaraan dat elke bord kos ’n verhaal vertel – ’n verhaal van hoe ons óf bydra tot die uitputting van God se skepping, óf help om dit te bewaar vir die geslagte wat kom. As kinders van God word ons geroep om rentmeesters van die aarde te wees. Laat ons hierdie maand en daarna doelbewus kies om met respek, dankbaarheid en sorg om te gaan met die kos wat ons eet tot voordeel van die wêreld waarin ons leef.

