Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Inspirerende Prediking

Aan die begin van ‘n module in prediking wat ek jaarliks doseer, het ons die gesprek rondom prediking wat inspirerend is. Prediking wat betekenis aan mense se lewens gee, en die mens oortuig om die evangelie ernstig op te neem. Uiteraard is die bedoeling dat prediking juis kan inspireer en behoort te inspireer. Uiteraard, ja! Maar, prediking wat so vreemd is vir ons realiteit is ook problematies. ‘n Inspirering tot die onmoontlike laat ons bloot uitgeput, teleurgesteld in onsself en ontnugter. Inspirerende prediking moet eerlik wees aangaande die konteks.

En tog is daar ook hier ‘n gevaar, die gevaar dat die konteks alles sal oorweldig. As die omstandighede en konteks waar mense hulself bevind, en dalk ook die omstandigheid van die prediker self, van so aard is dat dit eintlik slegs gekenmerk kan word deur iets soos wanhoop, is die gevaar daar dat die konteks die oorhand oor enige goeie nuus sal kry. Vandag sal dit byna ‘n ou storie wees om te noem hoe wanhopig ons huidige omstandighede is, ek noem dit nie – want dit is nie die punt wat ek wil maak nie. Inteendeel, ek hoef dit nie te noem nie, want ons kan dit almal aanvoel. Ons voel die wanhoop wanneer ons by vriende kuier, by ons werke (of tekort aan werk), by ons kerke, in die nuus lees ons daarvan en ons sien dit in die oë van ons geliefdes. En daardie wanhoop kom meermale in ons eie gedagtes op, soms buite ons vermoë om die goeie te bedink.

En tog, soveel as wat ons hiervan bewus is, en die konteks in prediking in ag moet neem, kan ‘n konteks van wanhoop nie die laaste sê hê aangaande die menslike realiteit voor die aangesig van God nie. In die sielkunde is daar navorsing wat toon dat mense wie herhaaldelik dink aan hulle eie situasie en hulle swaarkry, veel slegter af is as mense wat iets betekenisvol vind om hulle fokus op te stel, selfs al is almal in dieselfde omstandighede. Anders gestel, hoe meer ons aan onsself dink, hoe ons onregverdig behandel word, hoe ons lewens verswak as gevolg van wanbestuur en hoe alles agteruitgaan, soveel meer word ons wanhopig. Ons mag dalk selfs begin om trots te wees in hoe wanhopig ons is, so asof dit ons reg is om wanhopig te wees, gegewe die realiteite.

Eerder – en dalk is hierdie my voorstel vir beide die prediking en die lewe, moet ons inspirerend (en tog realistiese) ideale daarstel, ons vind hierdie wysheid in beide die Bybel en ook in sekulêre wysheid. Albei is belangrik, maar die Woord moet voorkeur geniet. Mag ek ‘n welbekende voorbeeld gebruik:

“Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.’”

– Matteus 16:24

Laat my toe om hierdie paar punte te maak oor inspirasie en hierdie teksgedeelte.

Eerstens, bied Jesus vir ons ‘n avontuur om aan deel te neem – om hom te volg. Dalk beteken dit om met integriteit op te tree, of om die waarheid te praat, of om God se koninkryk te verwag, of ‘n kombinasie van al hierdie aspekte tot iets soos – om goed te leef. Tweedens, bied hy ons die geleentheid om ons ego af te lê – verloën jouself. Moet jouself dalk nie so ernstig opneem nie, leef volheid sonder vrees en laat gaan daardie obsessie met jouself. Sodoende kan jy bevry wees van self-isolasie en obsessie. Derdens, neem jou kruis op. Hierdie is die ding van die lewe, daar is baie swaarkry betrokke en in verskeie gevalle gaan daar swaarkry op jou pad wees. Nog meer, wanneer jy daarvan oortuig is dat ander mense of jou omstandighede of die natuur of selfs God jou belas met swaarkry, dan is swaarkry pynlik en onderdrukkend. Maar, wanneer jy daardie selfde swaarkry gewillig opneem en dra, dan gee dit betekenis aan jou lewe. Dan is ons nie meer slagoffers van omstandighede of die boosheid van ander mense of magte nie, maar dan word ons agente wat die laste van die lewe vir onsself en ons families en die welstand van die samelewing dra tot ‘n beter toekoms.

Hierdie mens is soos die atleet wat vreugde en vervulling en hoop daarin vind om die swaarkry van die resies met eer te dra en daarin te volhard.

116 | Maatskaplike NOODLYN