Deur Mariëtte Odendaal
“Kroniese Kronieke bevorder bewusmaking en verskaf inligting aan kroniese siek persone, hulle familie, versorgers, die algemene publiek en professionele mense.”
Dr Suzanne van der Merwe
Besigheidshoof en Woordvoerder
Kroniese Kronieke
Baie van ons ken iemand wat aan ’n kroniese siekte ly en is bewus van die uitdagings wat daarmee gepaardgaan. Dalk is jy self iemand wat daagliks daarmee moet saamleef.
Die goeie nuus is dat daar ’n platform, Kroniese Kronieke, bestaan waar jy inligting oor verskeie kroniese toestande kan vind en ook verhale van mense wat daarmee te kampe het, kan lees. Vrypos beplan ook om dit te publiseer as ’n reeks waarin verskillende temas behandel word.
Op hierdie manier kan die persoon wat daarmee moet saamleef, asook diegene na aan hierdie persoon, ondersteun en ingelig word oor die siekte en lees hoe ander mense wat soortgelyke ervarings het, dit beleef.
Om meer oor Kroniese Kronieke uit te vind, het ons met hul besigheidshoof en woordvoerder, dr Suzanne van der Merwe, gaan gesels. Sy is ook leraar van die NG Gemeente Kroonstad-Noord.
Suzanne, hoe het Kroniese Kronieke ontstaan en wat wil julle daarmee bereik?
“Kroniese Kronieke het vier jaar gelede as navorsingsinisiatief ontstaan wat langtermyn, kwalitatiewe, empiriese gevallestudies onderneem van persone wat met ’n kroniese siekte gediagnoseer is.
“Ons is ook tans in die proses om dit as ’n nie-wingewende organisasie (of non-profit organisation, NPO) by die Departement van Sosiale Ontwikkeling te registreer om die basis van ons werksaamhede te vergroot.
“Kroniese Kronieke bevorder bewusmaking en verskaf inligting aan kroniese siek persone, hulle familie, versorgers, die algemene publiek en professionele mense.”
Watter kroniese siektes is tans deel van jul Kroniese Kronieke navorsingsregister?
“Die volgende is alreeds deel van ons register: rumatoïede artritis, diabetes mellitus, Crohn se siekte, dermatitis, nierversaking, jeugartritis, depressie, fibromialgie, onaktiewe skildklier, infertiliteit en TSW (Topical Steroid Withdrawal).”
Op watter mediaplatforms kan ons meer oor julle te wete kom?
“Bewusmaking word hoofsaaklik deur Facebook en YouTube gekanaliseer met Bloginskrywings op die webblad.
“Verder lewer Kroniese Kronieke ook ondersteuningsdienste deur toegespitste WhatsApp-groepe aan persone met ’n kroniese siekte.
“Omdat baie kroniese siektelyers ook lidmate van gemeentes is, word inligting- en toerustingsgeleenthede aan predikante en diensleraars aangebied ter ondersteuning van hul professionele ontwikkelingsdoelwitte. Dit word gedoen in samewerking met Excelsus (ons sinode se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling) en Didasko (die nuwe VBO-handelsmerk van die NG Kerk Vrystaat onder leiding van Bedieningsbegeleiding).”
Watter publikasies oor die onderwerp het al die lig gesien?
“’n Unieke publikasie, Lamentoso – Ervarings van Pyn – Poësie en Refleksie, deur Swan en Van der Merwe, het in 2025 die lig gesien, uitgegee deur KleynVDM (Pty) Ltd 2025/469435/07.
“Nog ’n publikasie wat vanjaar sal verskyn, is Lighuise van Hoop – ’n Geloofsreis met Kroniese Siekte.”
Suzanne van der Merwe is ʼn praktiese teoloog, predikant, skrywer, spreker, prediker, mentor, spesialisberader en kunstenaar. Suzanne is met verskeie kroniese siektes gediagnoseer, o.a. PCOS en endometriose. Sy vind nie slegs haar eie weg binne kroniese siekte nie, maar is daagliks ʼn steunpilaar vir kroniese siek persone binne haar bediening.
Matilda Swan is ʼn onderwyseres, skrywer, digter, blogger, fotograaf en beïnvloeder vir bewusmaking van kroniese outo-immuun siekte. Matilda is in 2016 met kroniese rumatoïede artritis (RA) gediagnoseer en is deur selfbestuur voortdurend besig om haar skuiwende nuwe normaal te navigeer
Vir meer inligting kan dr Suzanne van der Merwe gekontak word by suzanne@kroniesekroniekeonline.com




