Deur Ethan Kleynhans, ’n tweedejaar-teologiestudent (BDiv) aan Kovsies
Elke jaar ontvou daar ’n besonderse reis vir ’n groep jongmense wat op die drumpel van hul universiteitsloopbaan staan. Dit is nie net ’n oorgang nie, maar ’n rite de passage – ’n bewuste stap uit die bekendheid van skool na die groter, wyer landskap van studentwees. En op hierdie reis is daar ’n tussenstasie, ’n plek van rus en heroriëntering: Die Kougom-kamp.
Van 30 Januarie tot 2 Februarie 2025 het Kopanong Studentebediening, ’n bediening van die NG Kerk Vrystaat in samewerking met die nuutgevonde Raad vir Studentebediening, weer hierdie bewese kompas aan eerstejaars gebied. Dit was ’n naweek van geloof, spanbou en pure opwinding; ’n kans om nie net nuwe vriende te maak nie, maar om ook die dieptes van geloof te verken en ’n hernude sin vir akademiese doelgerigtheid te ontdek.
’n Warm verwelkoming en spanbou
Donderdag se oggendson het sy goue strale oor ’n opgewonde groep eerstejaars gegooi, hul tasse vol verwagting en hul harte ’n mengsel van opgewondenheid en onsekerheid. Registrasie was die eerste tree, waar groepleiers met wyd glimlaggende verwelkomings hul nuwe spanlede ontvang het. Die ys is vinnig gebreek deur ’n eerste aktiwiteit wat oorloop van lag en spontane energie – ’n speelse afskud van die laaste oorblyfsels van skoolsenuwees.
Teen die middag het ’n diep gesprek oor geloof en studentwees begin ontvou, ’n eerste tree op ’n pad waarop elke deelnemer sou ontdek hoe dié twee wêrelde op mekaar inspeel. Die aand het geëindig in ’n see van stemme wat saam lofprysing sing, gevolg deur ’n gesellige ete en ’n laaste groepsaktiwiteit wat die dag op ’n hoë noot afgesluit het.
Liggaam en gees in beweging
Vrydagoggend breek aan met ’n ritmiese uitbarsting: ’n Zumba-klas wat reeds teen 06:00 die slaap uit elke spier jaag. Studente dans en lag in die sagte lig van die opkomende dag, ’n perfekte voorbereiding vir ’n dag propvol aktiwiteite wat beide fisieke en geestelike grense sou toets.
Die aand was ’n hoogtepunt: ’n Kruistog-aktiwiteit, waar deelnemers nie net simbolies Christus se offer kon beleef nie, maar ook stil kon raak oor hul eie geloofsreis. Dit was ’n oomblik van refleksie, van innerlike beweging, waar menige eerstejaar se siening oor studentwees en geloof ’n nuwe diepte bereik het.
Lehandri, ’n derdejaar-teologiestudent en mentor, het die impak van die kamp só beskryf: “Ek kon sien hoe die mentors ’n positiewe impak op die nuwe eerstejaars gehad het – nie net wat hul geloof betref nie, maar ook in hoe hulle hul akademiese toekoms begin benader het.”
’n Dag van groei en viering
Saterdag se opgewondenheid was tasbaar. Uitdagings en speletjies het studente genoodsaak om buite hul gemaksone te beweeg, terwyl geloofsgesprekke hulle weer teruggebring het na die kern van hoekom hulle hier is. En toe, asof die kamp se energie sy hoogtepunt moes bereik, het die kampdans aangebreek: ’n viering van vriendskap, gemeenskap en die vreugde van ’n nuwe seisoen. Musiek, lag en ligvoetige bewegings het die aand gevul, ’n herinnering daaraan dat studentwees ook ’n tyd van vreugde en vryheid is.
’n Nuwe begin met ’n diepgaande inspirasie
Sondagoggend het die kamp sy laaste bladsye geskryf, maar nie sonder ’n slot wat lank sal bly weergalm nie. Nog ’n samekoms, nog ’n kans om betekenis te vind in wat hierdie naweek veral uniek gemaak het. Studente vertrek nie net met nuwe vriende en ’n sak vol herinneringe nie, maar ook met ’n inspirasie wat nie sommer ná ’n paar weke vervaag nie. Dit is ’n vuur wat stadig, maar volhoubaar, bly brand; ’n dryfkrag om hul studies en hul lewe in diens van die Here te leef.
Selfs mentors het iets uit die kamp geneem. Soos Lehandri dit stel: “Die kamp het nie net ’n impak op die eerstejaars gehad nie, maar ook op ons as mentors. Ek, ’n derdejaar teologie-student, is herinner aan die erns van my studies en hoe bevoorreg ek is om die Here te dien binne hierdie konteks.”
Kougom 2025 was veel meer as net ’n kamp; dit was ’n heilige tussenstasie, ’n plek van rus, van ontdekking, van groei. Hier is nie net ’n oorgang vergemaklik nie, maar veral ’n grondslag gelê waarop studente hulle toekoms kan bou. Die bande wat gesmee is, die lesse wat geleer is, dit alles sal soos ’n goue draad deur hul studenteloopbaan geweef bly, ’n herinnering aan ’n begin wat méér as net ’n begin was.



| verskaf deur: Ethan Kleynhans