
Departement Ou- en Nuwetestamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, UV
In die laaste paar jaar het daar ’n groot aantal nuwe publikasies die lig gesien rakende die nuutste navorsing oor die profetiese literatuur in die Ou Testament. Om net ’n paar nuttige publikasies te noem: daar is dié van James D. Nogalski (Introduction to the Hebrew Prophets), David G. Firth (Including the stranger. Foreigners in the former Prophets) en M. Daniel Carroll R (The lion roars. Recovering the prophetic voice for today). Tans is daar baie navorsing wat fokus op die twaalf Klein Profete as ’n versameling, veral oor die verhouding tussen hierdie boeke en hulle plasing in verhouding tot die boek voor of ná. Publikasies soos dié van David G. Firth en Brittany N. Melton se Reading the Book of the Twelve Minor Prophets is ’n goeie voorbeeld hiervan. Die onlangse publikasie van Craig G. Barthlomew en Heath A. Thomas, The Minor Prophets. A Theological Introduction, is ’n wonderlike inleiding tot die twaalf Klein Profete vir elke student en leraar wat die nuutste navorsing en tendense in the vakgebied wil bestudeer.
Die boek bestaan uit 22 hoofstukke en bied ’n inleiding tot profetiese literatuur, ’n inleiding oor elkeen van die twaalf, asook ’n eksegetiese hoofstuk van elkeen van die twaalf. Die boek het dus ’n deel wat sterk op toepassing fokus, waarna elke inleiding tot een van die twaalf ’n hoofstuk volg met ’n praktiese eksegetiese toepassing van ’n geselekteerde deel uit daardie boek. Die boek lees gemaklik en is ’n moet vir die wat meer wil lees omtrent die twaalf Klein Profete.
| verskaf deur: Prof Lodewyk Sutton, Departementshoof: Departement Ou- en Nuwetestamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, UV