Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Luisterende profete op hul wagpos

1 “Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt..”  HABAKUK 2:1 (AFR20) 

Die profeet Habakuk worstel met God se (skynbare) afwesigheid in die lewe van die volk Juda. Hy sukkel om die ongeregtigheid van die mense en die geregtigheid van God bymekaar uit te bring. Wanneer God wel op Habakuk se smeekgebede reageer, is die antwoord beslis nie dít waarop Habakuk gehoop het nie. God se onverstaanbare optrede los geensins sy geloofsprobleem op nie. En tog …

 ‘n Spirituele lees van die boek Habakuk benadruk die transformasie wat in die profeet se geloofslewe plaasvind – transformasie van wanhoop na vertroue (lees “lewe” in 2:4b). In ons soeke na die “sleutel” wat tot hierdie transformasie lei, is dit opvallend dat die antwoord nie in ‘n persoon lê nie. Geen biografiese- of roepingsbesonderhede word vermeld (soos wat by baie ander profetiese boeke die geval is) nie. Van die persoon Habakuk word daar bykans niks gesê nie. Maar van sy verhouding met God word daar baie gesê. 

Reeds van die tweede vers af leer ken ons Habakuk as iemand wat intens tot God bid en wat in sy verhouding met God worstel met die moeilike geloofsvrae van die lewe. En dít is regdeur die boek sy houding. Wanneer hy met God praat, spreek hy Hom 12 keer aan op sy verhoudingsnaam, Jahwe (1:2, 12; 2:2, 13, 14, 16, 20; 3:1, 2, 8, 18, 19) . Hy noem Hom “my God”, “my Heilige” en “Rots” (1:12). Jahwe is die “Heerser oor alle magte” (2:13) Wie se “heerlikheid” die aarde vervul (2:14). Hy is die “Heilige” wie se luister die hemelruim bedek (3:3). Hy trek op tot die redding van sy volk (3:13) en is die Een wat sy kinders verlos (3:18). In tye van uitdagings en teenspoed is Hy hulle “krag” (3:19). Vir Habakuk is God die Een met Wie hy in ‘n persoonlike verhouding staan; die Een wat getrou is en sorg ten spyte van mense se ontrouheid.

Jy sien, wanneer óns gekonfronteer word met vrae wat ons nie kan beantwoord nie, met lewensituasies wat ons nie verstaan nie, met onreg wat ons nie kan verduidelik nie, is ons só geneig om een van twee dinge te doen:

 

  1. Ons kruip in ons dop in. Soos ‘n volstruis steek ons ons kop in die sand en ignoreer die harde werklikheid waarmee ons gekonfronteer word. Uiteindelik lei dít tot ‘n verlammende passiwiteit en ‘n opgee met die lewe.

 

  1. Óf ons reageer met ‘n harde, afbrekende bitterheid teenoor die lewe. Ons identifiseer vir ons ‘n vyand teen wie ons liefdeloos kan oorlog maak. (Daar is darem maar min dinge wat mense só saambind as om ‘n gemeenskaplike vyand te hê wat hand en tand beveg kan word!)

 

Nie een van hierdie twee metodes is egter spiritueel verantwoordelik of konstruktief nie. Ons sien dit ook nie in die boek Habakuk raak nie. By Habakuk speel hoofstuk 2:1 ‘n kritieke rol in die geloofsvorming van die profeet. “Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt” (2020-vertaling). Die 1983-vertaling sê: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.”

 

Habakuk neem die posisie in van ‘n wagter wat op sy uitkykpos gaan staan – amper soos ‘n soldaat wat op die uitkyk is vir aankomende gevaar. Habakuk staan egter op sy wagpos – op die uitkyk vir ‘n antwoord van God. Sy houding dui op ‘n spirituele waaksaamheid, ‘n ingesteldheid van noukeurige oplettendheid sodat hy gereed kan wees om ‘n openbaring van God te ontvang. Van al die Ou-Testamentiese profete is Habakuk die een wat die naaste kom aan die reflektiewe gesindheid van die wysheidsleraars.

 

Daar is ‘n paar ander gedeeltes in die Bybel waar ‘n “hoë plek” verwys na ‘n bepaalde ruimte van waar God sy stem laat hoor. Bileam (Numeri 22) en Elia (1 Konings 19) staan albei op ‘n berg wanneer God aan hulle verskyn. In Handelinge 10 ontvang Petrus ‘n visioen wanneer hy op die dakstoep van ‘n huis sit en bid. Heel moontlk het Habakuk ook ‘n soortgelyke plek van afsondering gehad; iewers waarheen hy uit die openbare oog kon onttrek en waar hy homself rustig kon oopstel vir God.

 

‘n Dominee wat sy/haar profetiese roeping ernstig opneem, maak tyd vir afsondering en stilte. Want dit is vanuit ‘n plek van afsondering dat ‘n dieper vlak van bewussyn en gemeenskap met God gebore word. Dit is vanuit ‘n plek van afsondering, ‘n plek van openheid, van geduldig wag om God se stem te hoor en dan gereed te wees om te reageer wanneer Hy praat, dat ons geloof en vertroue in God gevoed word. ‘n Plek van spirituele afsondering versterk die gesindheid van ‘n gelowige soeker na die waarheid; dit versterk die gesindheid van iemand wat bereid is om die sagte stem van God binne-in hom/haarself te onderskei.

 

 

Die soeker is nie passief óf selfvoldaan nie, maar is aktief op die uitkyk terwyl hy/sy wag vir God se leiding en inspirasie. Die soeker is ook nederig en het ‘n leerbare gesindheid, gereed om te reageer (en selfs te verander!) na aanleiding van dít wat God deur sy Woord en sy Gees aan ons bekendmaak. Uiteindelik erken die soeker God as die Soewereine, as die Een wat gesag het oor alle dinge. En dít bou ‘n vaste geloofsvertroue dat God ‘n plan en ‘n doel met hierdie wêreld het. God sal op sy tyd en op die beste manier praat en optree.

Dit is normaal om soms verbysterd, verward en selfs verleë te voel oor God se weë. En dit is ‘n ongelooflike spirituele vaardigheid, om te leer om oplettend op God te wag. Soms is ons beste geloofsdaad nié om (slim) antwoorde te gee op al die moeilike vrae van die lewe nie, maar om eerder oor die karakter van God na te dink. Sodoende kan ons ook ons lidmate begelei om in ‘n diep, intieme geloofsverhouding met God te leef. ‘n Gesindheid van geduldig wag op die Here; van leer om na God te luister. Want uiteindelik is dit dié God-mens-verhouding wat lei tot transformasie, groei en lewe.