Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Jy verstaan niks

Deur ds Charles James, Addisionele lid van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

William Temple (1881–1944), voormalige aartsbiskop van Canterbury, se bekende woorde oor die kerk se roeping behoort eintlik elke gemeente se kompas te wees:

“The Church is the only society that exists for the benefit of those who are not its members.”

Die kerk is in haar wese na buite gerig. Ons bestaan nie bloot om ons eie lidmate te versorg en ons eie voortbestaan te verseker nie. Ons word deur God ter wille van die wêreld gestuur.

Jesus sê immers in Johannes 20:21: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Gestuurdwees beteken onder andere om by die seer van die wêreld te gaan stilstaan. Om naby genoeg te kom om die nood te sien en die stories daaragter te hoor, sodat ons werklik Jesus se hande en voete kan wees in ’n wêreld wat smag na omgee en liefde.

Dit laat my dink aan ’n verhaal wat George, ’n gelowige vriend en lidmaat van die VGK in Heidedal, vertel het.

Hy ry een oggend omstreeks tienuur in die straat af en sien ’n netjies geklede vrou. Sy het werksklere aan. Haar hare is netjies. Sy lyk versorg. Maar in haar hand is ’n bottel bier.

Eers ry hy verby. Toe besef hy: Ek kan dit nie net ignoreer nie.

Hy draai om en stop by haar.

“Antie, is dit nie ’n bietjie vroeg vir ’n bier nie?”

“Ag boetie, jy verstaan niks,” antwoord sy.

En skielik besef George: Sy is reg. Hy verstaan nie.

Maar juis daarom besluit hy om te luister.

Sy is nie regtig lus vir gesels nie, maar hy hoor darem waarom sy die bier gekoop het: om haarself vir ’n oomblik te laat vergeet van haar kinders se gehuil van die honger.

Dalk begin gestuurdwees juis daar: wanneer ons ophou dink ons verstaan, en bereid raak om te luister.

As gemeentes het ons baie projekte, bedienings, komitees, vergaderings en rade. Dit alles het ’n plek. Maar die vraag is: Help dit ons om elke lidmaat sy of haar roeping as gestuurde van Jesus te laat verstaan en uitleef?

Gemeentes behoort uiteindelik nie deur kommissies en bedieninge gedryf te word nie, maar deur toewyding – toewyding aan die roeping van ons Here Jesus.

En as jy wonder waarheen die Here jou stuur om hoop in ’n stukkende wêreld te bring, hoef jy nie ver te gaan soek nie. Kyk rondom jou. Jou bure. Jou kollegas. Jou werknemers. Die mense wat elke dag oor jou pad kom.

Dalk is hulle nie toevallig daar nie.

Hy stuur jou om daar hoop te bring.

Mag ons as gemeentes voortdurend luister na God se spesifieke roeping vir ons; bereid wees om deur Hom gestuur te word; en ons deur die Heilige Gees laat bemagtig om deel te wees van God se sending in die wêreld – sodat ons uitreik na die gemeenskap én ons lewe saam as gemeente ’n getuienis van Jesus Christus sal wees.