Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Jeugmaand: Waarom is daar soveel verkragtings?

Deur dr Leon M Foot, uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding

Van 29 Mei tot 5 Junie 2026 is dit Nasionale Kinderbeskermingsweek.

Vanjaar se tema: Samewerking in die beëindiging van geweld teen kinders.

In SA word 117 verkragtings per dag aangemeld.

Dis een elke 12 minute. Heel dag. Elke dag!

Tussen 28% en 34% van SA mans erken dat hulle al verkrag het! 

Verkragting was nog altyd ‘n grusame vergryp. Ongelukkig gebeur dit so baie dat ons weersin afgestomp word en ons samelewing ongevoelig raak oor die lot van die slagoffers.

‘n Onlangse saak in die VK het verkragting weer deel van die openbare diskoers gemaak. Drie tienerseuns is skuldig bevind aan die verkragting van twee meisies. Die seuns was destyds 13 en 14 jaar oud.

Wat hierdie verkragting soveel erger maak, is dat die seuns ‘n 90-minuut-video van hulle eerste slagoffer (15) se beproewing gemaak het wat hulle later op sosiale media gedeel het. Die tweede meisie (14) is met ‘n mes gedreig en gedwing om haar selfoon en AirTag in die winkel te los sodat sy nie opgespoor kon word nie. Sy is gedwing om na ‘n afgeleë veld te loop waar sy deur twee van die beskuldigdes verkrag is.

Ná hul skuldigbevinding is die oortreders nie tot tronkstraf gevonnis nie, maar tot ‘n driejaar-jeugrehabilitasieprogram en 180 dae van intensiewe toesig en waarneming. Die regter het gesê hy wou nie die seuns kriminaliseer nie – hulle was nog so jonk.

Dit waar mag wees, en dalk ‘n goeie gebaar, maar wat van die slagoffers? Wat van die meisies wat verkrag is en lewenslank tot trauma gevonnis is? In die woorde van een van die slagoffers: “He (the judge) almost made it seem as if what the boys did was not OK, but it was OK in the eyes of the law, because they were still children,” she said speaking anonymously. “What was the point in putting me through that?

Hoe reageer ons hierop in Suid-Afrika met ons verkragtingskultuur waar daar elke twaalf minute ‘n verkragting aangemeld word? (En dan praat ons nie eers oor al die gevalle wat nié aangemeld word nie).

Ons moet onthou dat verkragting nie in die eerste plek ‘n seksuele daad is nie. Dis nie net mooi jong meisies wat slagoffers is nie, ook ouer vroue, en selfs bejaarde gogos word aangeval. Dis ‘n geweldsmisdaad wat gaan oor beheer en minagting. Ek is jou meerdere. Jy moet na my luister. Ek kan met jou maak wat ek wil. Dis ‘n manier van dink oor vroue wat die deur vir misbruik oopmaak – nie altyd so afstootlik soos verkragting nie, maar altyd ewe verwerplik.

‘n Geskeide vrou en haar seun is deel van ‘n kerkgroep wat ‘n naweek gaan kamp. Sy word egter gevra om te onttrek, omdat die getroude dominee “gevoelens” vir haar het, hy voel aangetrokke tot haar. Jy wil tog nie hê dat ek in my hart egbreuk moet pleeg nie.

Wat is die probleem hier? Wat lê agter hierdie soort gedrag? Dis belangrik om te besef dat hierdie gedrag êrens vandaan kom. Dit kom van een of ander manier van dink, ‘n manier om jou optrede te verontskuldig. Ongelukkig vind baie mense hierdie regverdiging in die Bybel en in kerke waar hiërargie geheilig word.

Terwyl ons volgende week ons Vrystaatse sinode hou, doen die Suidelike Baptiste-konvensie (SBK) (die grootste protestantse kerkgroep in Amerika) dit ook.  Een van die groot kwessies op hulle tafel is die rol van vroulike leiers in die kerk. Daar is ‘n sterk beweging om ontslae te raak van vroulike pastore. Hulle voorsitter gaan selfs so ver as om te sê dat vroue nie aan ‘n podsending oor Bybelse eksegese kan deelneem nie, want ‘n vrou mag nie ‘n man leer nie.

Dit is belangrik om te onthou hoe die SBK begin het. Teen ongeveer 1845 het die kerk (veral uit die noorde) geweier om slawe-eienaars as sendelinge aan te stel. Hulle het geglo dat die besit van ander mense jou diskwalifiseer om ‘n prediker van die evangelie te word. Toe die Suide, waar baie lidmate slawe-eienaars was (en sommige Ku Klux Klan lede), se teologie uitgedaag word, het hulle afgestig en die SBK gevorm.

Hulle teologie oor slawe was nie op ekonomie of politiek gebou nie. Dit was Bybels gefundeer op dele soos Efesiërs 6 waar slawe beveel word om aan hulle meesters onderdanig te wees. Hulle argument was eenvoudig: die Skrif vestig hiërargie, God verorden gesag en onderwerping daaraan is heilig.

Hierdie selfde teologiese raamwerk wat eens gebruik is om slawerny te verdedig, funksioneer weer in die moderne gesprek rondom vroue en vroulike predikers. Gehoorsaam julle aardse meesters met vrees en bewing; vrouens, onderwerp julle aan julle mans. Ongeag die konteks waarin dit gesê is. Vroue word aangemoedig om in mishandelende verhoudings te bly want God haat egskeidings.

Natuurlik is nie alle mans mishandelend nie! Wat wel waar is, is dat ons denke oor vroue deursuur na ons kinders. Wat leer ons ons kinders as ons minagtende opmerkings oor vroue en hulle liggame maak? Wat leer ons hulle met ons pornografie? Watter soort grappe vertel ons oor mans en vroue? Wat dalk vir ons onskuldig klink, vind neerslag in die optrede van kinders.

Mans tree op teen vroue nes hulle wil omdat hulle die dominante party is. Vroue is onderdanig, want ons het vir hulle gesê dit is wat die Bybel vir hulle leer. Dis hoekom seuns jong meisies kan verkrag, want hulle is net meisies en wat weet hulle? Seuns is net seuns, hulle kan doen wat hulle wil. Hulle is belangriker.

Dalk is dit tyd om weer te kyk na die vroulike metafore van God wat deur die Skrif geweef is. Nie as ‘n rebellie teen die Skrif nie, maar om ‘n deel van God se selfopenbaring terug te gee wat hiërargie-besoedelde oë te dikwels geïgnoreer het. Dalk sal ons verstaan ​​dat die Koninkryk van die Hemel nooit op oorheersing gebou is nie, maar op eindelose bevrydende liefde van God.