Deur Mariëtte Odendaal
“In ’n wêreld waar werk, kinders, verantwoordelikhede en voortdurende druk mense maklik kan laat verval in ‘n patroon van bloot net saam te funksioneer, het ons gevoel daar is ’n behoefte daaraan om stadiger te leef, dieper te luister en doelbewuste teenwoordigheid te ervaar.”
Louwrens en Gerda Scheepers
Aanbieders: “Couples Retreat”
Philippolis
Die lewe gaan eintlik net oor gesonde verhoudings; iets waarvan die waarde dikwels onderskat word. Die huwelik is sekerlik een van die belangrikste verhoudings waaraan daagliks hard gewerk moet word. Dit is die ruimte waarin ’n gesin hul lewe leef; die plek waar uitdagings en verskille op ’n volwasse manier uitgesorteer moet word, morele besluite geneem en bedagsaamheid uitgeleef moet word.
Dit is nie net vir paartjies van groot belang nie, maar veral ook vir gesinne waar die gesonde verhouding tussen ouers vir hul kinders van onskatbare waarde in hul vormingsjare is.
Hierdie kernverhouding tussen paartjies verdien dus voortdurende aandag, leiding waar nodig en wegkomkanse om weer ’n slag regtig by mekaar te kan uitkom. As jy dus al drie hierdie elemente op een slag kan ervaar, is dit ’n bonus. Daarom was dit van groot belang toe ds Louwrens Scheepers en sy vrou, Gerda, onlangs so ’n Couples Retreat as deel van hul Stillepolis-inisiatief op Philippolis aangebied het.
Ons het meer daaroor by hulle gaan uitvind.
Louwrens en Gerda, wat het julle gemotiveer om ’n Couples Retreat aan te bied?
“Ons het raakgesien hoe baie paartjies eintlik moeg en oorlaai leef. Selfs goeie verhoudings kan stadig in roetine, spanning en onverwerkte emosies begin vasval. Mense leef dikwels by mekaar verby sonder om mekaar werklik te sien of te hoor.
“Dit het ons gemotiveer om ’n ruimte te skep waar paartjies weer met hulleself en met mekaar in aanraking kan kom. In ’n wêreld waar werk, kinders, verantwoordelikhede en voortdurende druk mense maklik kan laat verval in ‘n patroon van bloot net saam te funksioneer, het ons gevoel daar is ’n behoefte daaraan om stadiger te leef, dieper te luister en ’n doelbewuste teenwoordigheid te ervaar.
“Die retreat was nie bedoel om ‘probleme vinnig reg te ruk’ nie, maar dit was ’n uitnodiging aan paartjies om weer asem te haal, stil te word en bewus te raak van wat binne-in jouself en in jou verhouding aangaan.
“Die Stillepolis-inisiatief probeer juis ruimtes skep waar mense weer kan leer om stadiger, meer bewus en meer deernisvol te leef – teenoor hulleself, ander en die gemeenskap. ’n Couples Retreat het natuurlik binne hierdie visie ingepas.”
Wat was die hooftemas en aktiwiteite van julle aanbieding?
“Die naweek is, soos alle retreats in Philippolis, gebou rondom drie daaglikse ritmes van stilte. Vanuit hierdie momente van stilte het groepsessies gevolg waar temas rondom verhoudings, emosies en behoeftes bespreek is.
“Daarna het paartjies genoeg vrye tyd gehad om die temas verder saam te verwerk op maniere wat vir hulle betekenisvol was — deur gesprekke, te gaan stap, te rus of bloot saam stil te wees.
“Die inhoud van die retreat het sterk aangesluit by die beginsels van Deernisvolle Kommunikasie, gebaseer op die werk van Marshall Rosenberg se Nonviolent Communication (NVC). Daar is gefokus op: die bewuswording van eie gevoelens en behoeftes, hoe onvervulde behoeftes spanning en konflik beïnvloed, hoe mense gegrond (well-grounded) kan bly wanneer emosies intens raak en hoe gevoelens en behoeftes eerlik en veilig gekommunikeer kan word.
“Die doel was nie om kommunikasietegnieke bloot akademies te leer nie, maar om paartjies prakties te help om met groter sagtheid en aandag by hulleself en mekaar teenwoordig te wees.”
Waarom juis hierdie temas?
“Baie konflik ontstaan in verhoudings omdat paartjies vervreemd raak van hul eie behoeftes en gevoelens. Wanneer mense oorlaai en gespanne is of voel hulle word nie verstaan nie, reageer hulle maklik defensief, krities of onttrekkend.
“Die temas van die retreat het daarom op selfbewussyn, emosionele veiligheid en deernisvolle luister gefokus. Ons het probeer om paartjies te help verstaan dat konflik dikwels ’n dieper verlange of behoefte onder die oppervlak het. Wanneer mense weer leer om na hulleself en mekaar met nuuskierigheid eerder as oordeel te kyk, verander die kwaliteit van gesprekke en verbondenheid merkbaar ten goede.
“Die element van stilte was ook baie belangrik. Stilte help mense om uit die voortdurende geraas en gejaag van die lewe te tree en weer innerlik teenwoordig te raak. Vanuit daardie plek word eerlike gesprekke en werklike ontmoeting moontlik.”
Watter vaardighede moet jy as begeleier hê om so iets te kan aanbied?
“’n Retreat soos hierdie verg meer as net inhoudelike kennis. As begeleier moet jy ’n ruimte kan skep waarin mense veilig voel om eerlik en ook kwesbaar te wees. Dit vereis goeie luistervaardighede, emosionele volwassenheid en die vermoë om sonder oordeel teenwoordig te bly.
“Kennis van verhoudingsdinamika, konflikhantering en emosionele prosesse is belangrik, maar net so belangrik is die vermoë om stilte te hanteer en nie elke ongemaklike situasie onmiddellik te probeer oplos nie. ’n Begeleier moet sensitief wees vir groepsdinamika, maar ook ruimte laat vir elke paartjie se unieke verhaal en tempo.
“Omdat die retreat sterk op Deernisvolle Kommunikasie gebaseer is, was vaardighede soos empatiese luister, die herkenning van gevoelens en behoeftes, en die fasilitering van veilige gesprekke van kernbelang. Die begeleier se eie teenwoordigheid – kalm, gegrond en deernisvol – word uiteindelik deel van die ervaring wat die retreat aan die deelnemers probeer skep.”
Wat het dit vir die mense beteken?
“Hannetjie Nel, predikantsvrou, het laat weet: ‘Wat hierdie naweek besonders gemaak het, was die balans tussen die saamwees-sessies met julle insette, die interaksie met ander paartjies, die alleentye as man en vrou, die alleentye in die stilwordritmes. Beide julle gemaklikheid en gasvryheid met ses vreemdelinge in julle huis, die absolute bederf (verblyf en etes), die omgewing (die dorpie en die natuur) was kosbaar. Niks het tydens hierdie naweek geforseerd gevoel nie. Daar was genoeg tyd om byvoorbeeld te gaan stap, selfs ’n geocache te soek (en te kry!) Die materiaal, Deernisvolle Kommunikasie, het vir my en Christo oor goed laat praat en goed laat ontdek wat ons in een-en-dertig jaar nog nooit oor gepraat of ontdek het nie.’
“Ellen-Anne Swart, diensleraar, vertel: ‘Die inhoud van die aanbiedings het ons verrassend goed gelei om by kwessies uit te kom wat ons nie spontaan op die tafel sou kon sit nie. Dit het my aanvanklik ’n tydjie geneem om die lys van behoeftes, en die een van emosies, mooi te kon gebruik, maar uiteindelik het dit alles sin gemaak. Ek dink die program was baie goed gestruktureer en die aangewese tye vir gesprek met ons huweliksmaat was reg vir ons twee. Ons het so baie gehad om oor te gesels dat daar nie eers tussenin tyd was vir gaan stap, of vir boeklees of ’n middagslapie nie. Al die gesels was nie oor pynlik moeilike kwessies nie. Dit was net so lekker om ’n nuwe manier van dink en doen te ontdek. Die eilandsituasie – weg van ’n mens se eie huis – maak dit makliker om net op mekaar ingestel te wees, sonder die afleiding van allerlei verpligtinge tuis. Die gestruktureerde program en inhoud van die materiaal lei ’n egpaar om met deernis te kan gesels, ook oor dit wat andersins baie moeilik sou wees om vanself deur te praat. Nuwe kennis maak nuwe insigte en vaardighede moontlik. Hoe vroeër ’n mens in jou lewe hierdie insigte het en die vaardighede aanleer, hoe meer kan ’n mens vreugde in jou maat vind en saam ’n verskil na buite maak.
“Nadine van Rooyen, predikant, laat weet: ‘Dankie vir die ruimte en geleentheid wat julle baie doeltreffend geskep het sodat ons kon connect. Dit was uitstekend ingerig. Dankie ook dat julle ons geleenthede gegee het om (met tools en woordeskat) moeilike goed op die tafel te kon sit en daaroor te kon gesels. Dit het dit so maklik gemaak, veral met die wete dat julle daar was indien ons sou vasbrand.”
| Foto’s is deur Louwrens en Gerda Scheepers verskaf.
Wil jy meer weet?
Vir meer inligting kan Louwrens by louwrens@integernetwork.com en Gerda by gerdainbloem@gmail.com gekontak word.

