Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ontmoeting met Heiliges

Deur Mariëtte Odendaal

Die afgelope tyd is daar wêreldwyd ’n toenemende belangstelling in die sogenaamde “heiliges” van die vroeë kerk en Middeleeue. Hulle was individue wat ‘n diep-persoonlike en direkte ervaring van God gesoek het en dikwels meer waarde aan persoonlike ervaring as aan formele teologiese leerstellings geheg het.

Dr Lisel Joubert, verbonde aan die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie van die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch, het verlede jaar met ’n aanbieding oor Hildegard von Bingen ons aandag op dié groep Christene gevestig. Ons het meer by haar hieroor gaan uitvind.

 | verskaf: Dr Lisel Joubert, die aanbieder van Ontmoeting met Heiliges 2024.

Lisel, daar is die afgelope tyd ’n groeiende belangstelling in die konsep van spiritualiteit wat fokus op hoe mense deur die eeue heen op verskillende maniere hul geloof beleef het. Woorde soos “heiliges” en “mistiek” word weer opgediep, veral deur Protestantse geloofsgemeenskappe. Wat is die rede hiervoor en wat is die waarde daarvan?

“Deur die eeue het gelowiges in verskeie kontekste op verskillende maniere God beleef en tradisies gevorm wat hierdie belewing beliggaam het. Soms was daar persone wat Godservarings gehad het wat later as mistieke ervarings geklassifiseer is en soms was dit persone wat strukture in plek gesit het wat tradisies van spiritualiteit gevorm het.

“Sommige van die persone is dan in die Rooms-Katolieke – of Ortodokse kerk as ‘heiliges’ benoem. Baie van die persone het dan ook geskrewe werke nagelaat, of daar is werke oor hulle geskryf wat vandag nog as klassieke tekste dien.

“Om verskeie redes is die persoonlikhede nie altyd so goed bekend in die Protestantse geledere nie, maar deur meer oor hulle te wete te kom (deur hulle te ‘ontmoet’), erken ons die skatkis van die verlede wat ons eie geloofsverstaan kan verryk en verruim. In die Ontmoeting met heiliges-reeks fokus ons op verskeie sulke persone. Alhoewel nie almal deur die kerk as amptelike ‘heiliges’ erken word nie, word hulle tog beskou as persone wat in hulle tyd iets van die evangelie beliggaam het. Gevolglik het daar verhale oor en geskrifte van hulle behoue gebly.”

Jy het ook ’n boek hieroor geskryf. Vertel ons meer daarvan.

“In die boek, Ontmoeting met Heiliges. Verhale van hoe mense hulle geloof geleef het, vra ek die vraag: ‘Hoekom is sekere mense in hul tyd as heiliges erken?’ Ek identifiseer dan historiese persone, maar nie met ’n bloudruklens van heiligheid soos verstaan in die Rooms-Katolieke – of Ortodokse tradisie nie, maar eerder met die vraag: ‘Wat het hulle beliggaam?’ In die boek hanteer ek 58 sulke persone onder verskillende temas.” 

Die goeie nuus is dat jy vanjaar ’n reeks hieroor gaan aanbied en elke kwartaal oor een van die mees invloedryke heiliges gaan praat. Op 25 Januarie val jy weg met Benediktus. Vertel vir ons meer van hom.

“Benediktus van Nursia is in 480 gebore. Hy is die vader van die Benediktynse Reël en Benediktynse tradisie. Hy is die eerste persoon wat ’n gestruktureerde, monastiese tradisie daargestel het wat volgens ’n gemeenskaplike aanbiddingsritme geleef het. Hierdie tradisie is vandag nog lewend in beide die Rooms-Katolieke – en Anglikaanse kerk en het beide manlike en vroulike ‘huise’.

“Die Suid-Afrikaanse teoloog, John de Gruchy, het juis in 2021 ’n boek, This Monastic Moment. The War of the Spirit & the Rule of Love, uitgegee om die aandag op die waarde van die teologiese verstaan agter die tradisie, ook vir ons vandag, te vestig.

“Tydens my aanbiedingsessies gaan ons ’n bietjie stilstaan by die mens agter die tradisie. Wie was Benediktus eintlik? Sy historiese en sosiale konteks sal ondersoek word, asook sy bydrae tot die monastiese lewe.”

Registreer hier:
Die Ontmoeting met Heiliges-program vir die res van die jaar
Navrae:

Ds Barnard Steyn | bicsteyn@ngkvs.co.za