Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Dit is goed vir die oë om die son te aanskou

Dit is goed vir die oë om die son te aanskou

Prediker 11:7

Dit was een van daardie salige, stil oggende in die Gariep: Ek was bewus daarvan dat mens aan die stilte kon raak. En terwyl ek so lê en luister, steek die son sy kop oor die horison en kom my man se woorde rustig en byna verwonderend, “kyk, daar kom die son.”

Hoekom die beeld my so vasgevang het, weet ek nie, maar toe ek myself kom kry was ek in vervoering oor Yajnavalkya, ń Indiese filosoof wat al blykbaar in die 9de eeu voor Christus vanuit die Vediese tradisie gepraat het. Sy Sanskrit vertaal as volg: “Die son ryg met ‘n draadjie die aarde, die planete en die atmosfeer na homself”. Hierdie woorde is van die vroegste verwysing na heliosentrisme.

My verwondering oor die feit dat die mensdom sulke verbysterende kennis oor die aarde se beweging om die son so vroeg al kon staaf, en dat die Renaissance wetenskaplike Nicolaus Copernicus se uiteindelike aanvaarde matematiese model ons hele verstaan van dit wat ons dink ons sien, omver gegooi het, was vir my meteens weer nuut. Soos iemand wat iets asof vir die eerste keer begryp, wou ek vir almal berispe wat sê: “Die son kom op” of “die son gaan onder.” 

En algaande word die son en sy teenwoordigheid ‘n tema in my kop. Hoe kyk ek? Die vraag het my bygebly en weer en weer het ek myself betrap dat ek na die son in verwondering staar. 

Om te kan sien, regtig te kan sien. Om te verstaan. Om te verstaan omdat ek sien. 

Hoe dan nou met my blindheid? Waar kyk ek en dink ek dat ek sien? Hoe bring ek die lig van verstaan in my wêreld in? 

In Markus 10:51 vra Jesus vir die blinde Bartimeus, “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

Hoekom vra Hy dit? Hy kan mos sien die man is blind. So in my stilligheid  en blindheid vervies ek my vir Jesus se vraag. My gedagtes vind hulself op die wa van die Etiopiese eunug en Filippus se opdrag om die Skrif te ontsluit vir die man wat uit Jesaja lees en nie verstaan nie. Dan staan daar, nadat Filippus hom gedoop het en van hom weggeneem is, dat die amptenaar sy reis met blydskap voortgesit het. 

En ek verstaan meteens ook met vreugde: Die man het die son aanskou, want hy het oë gekry vir iets wat voorheen vir hom bedek was.

Jesus genees die blinde man met die woorde: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered”. En wat doen die man wanneer hy regtig sien? Hy loop op die pad agter Jesus aan. Hy aanskou die son.

In my wêreld van musikale tekste streef ek nou ook daarna om die son te aanskou: Om met nuwe oë te kyk na die partituur wat op die oog af lyk soos note op papier. Daar is egter ‘n getransendeerde waarheid wat aan die lig kom wanneer die note in klank verander en die waarheid van die partituur verstaanbaar word. Dan jubel die musiek in ore, oë, hande en verstand, en breek die lig dawerend deur, onstuitbaar, helend en skoon.

Om die son te aanskou –  Here, maak my oë oop dat ek kan sien.

116 | Maatskaplike NOODLYN