Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ek is deel van God se storie

Retreat van die Vrouebediening van die Vrystaat , 9 - 12 Augustus

Deur ds Elize Nel

Asem in … asem uit … Asem die kraakvars Vrystaat-lug in, asem jou besige lewe uit. Asem die natuurskoon in en asem jou besige gedagtes uit. Asem die Woord van God in en asem jou sorge en kommer uit. Só het Magdaleen du Toit, spirituele begeleier en sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk (Bedieningsbegeleiding) ons die naweek in gelei: Twintig vroue, waarvan sommiges op grondpaaie verdwaal het, om hier op Moolmanshoek naby Ficksburg te kom asemhaal. Kom stil word. Kom hoor hoe jy deel van God se storie is. Met ’n aandwyding het ons klompie om ’n kaggel stil geword met Woord en sang. Waar Nicolene Gibbons, klavierdosent aan die Vrystaatse Universiteit wat voorheen in Engeland gestudeer en gewerk het, ons gelei het in asemhalingsoefeninge en sang. Ons het musiek ingeasem en uitgeasem. In kanons gesing. Met fluit en klavier het Nicolene ons in musiek-asemteue ingelei, elke oggend en elke aand. Asem musieknote in en asem musieknote uit.

Ons het na drie besonderse vroue in die Bybel gekyk die naweek. Die vrou van Spreuke 31, en Marta en Maria van Lukas 10. Ons het saam gedink oor hierdie vroue en besef ons almal voel ons skiet tekort in vergelyking met mev Spreuke 31. Tog bewonder ons haar, maar besef ook ons gaan deur verskillende seisoene in ons lewens. Tydens hierdie seisoene het ons sekere eienskappe van mev Spreuke, nie noodwendig al die eienskappe op een slag nie. Ons almal glo ons moet ’n Marta wees in ons huise, vir ons kinders, mans en by ons werk. Tog is dit noodsaaklik dat ons as vroue ook Maria sal wees en net stil by Jesus se voete sal sit. Eintlik dat ons ’n balans sal vind. Anders gaan ons dalk ook aan planke kou soos vroue voor ons.

Magdaleen het met haar unieke rustigheid vir ons kom lei om ons eie stories te herontdek. Die goed en die sleg, ja. Ons moes diep delf. Met skeppende kuns het ons ’n lewenslyn gemaak met die goed en die sleg van ons lewe. Hierdie lewenslyn het ons weer gebruik om iets nuuts in ‘n volgende kunswerk te maak, en almal se kuns het gespreek van hoop. Al het die lewe ons dalk ’n paar houe gegee, nogtans sal ons hoop. Ja, ons het selfs gehoor dat ook die donkerte in ons lewens glimmend kan wees van hoop.

Daar was tye vir rus, stil wees of stap. Die stappers het die sewe stasies van rus aangepak. By elke stasie die Bybelteks gelees, stil geword, gerus en na die volgende een gestap. Ander het onder ’n boom ’n stil plek gaan vind om stil te word. Asem te haal.

Sondag het ds René Wessels vir ons afgesluit met ’n Nagmaalsdiens. Uit Habakuk 3 het sy ons vertel dat ons deel is van God se nogtans-storie. Maak nie saak waar ons in ons lewens is nie, nogtans kan ons jubel. Met sang het ons afgesluit, asem musiek in en musiek uit.

Elke vrou het ontdek: Ek is deel van God se storie. My storie met al sy seer en al sy blydskap, is deel van God se storie. Ek is ’n vrou van God. Sekere goed in my storie moet ek laat gaan en oorgee aan God. Dit as’t ware uitasem of sug by God. Sy krag en hoop weer inasem.

Die Vrouebediening van die Vrystaat bied DV in Februarie 2025 weer ’n geleentheid vir vroue aan. Vir verdere navrae kontak gerus die Voorsitter, Béneli Pretorius by 082 648 0653.

 | verskaf deur: Ds Elize Nel

116 | Maatskaplike NOODLYN