Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die ware hart van Liefde

Deur Celicia McLean,
redakteur en bestuurder van die departement Kommunikasie en Bemarking

Menslike liefde word dikwels verbind met rooi rose, sjokolade en romantiese gebare. Dit is ‘n manier waarop mense hul liefde aan mekaar bewys. Maar vir gelowiges is daar ‘n veel dieper en blywende liefde wat elke dag van die jaar gevier moet word – God se onvoorwaardelike liefde vir ons.

Die Skrif getuig oor en oor van God se liefde wat nie afhanklik is van ons dade, prestasies of tekortkominge nie. In Romeine 8:38-39 (AFR83) lees ons: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” Dit is ‘n liefde wat standvastig en onwrikbaar is, ongeag omstandighede.

In ‘n wêreld waar liefde dikwels gekoppel word aan voorwaardes en verwagtinge, is God se liefde ‘n toevlug. Dit is ’n liefde wat dien, wat vergewe en wat blywend is. In 1 Johannes 4:16 (AFR 83) lees ons: “… God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.” Hierdie liefde is nie gebaseer op verdienste nie, maar op die aard van God self – Hy is liefde.

Hierdie begrip van God se liefde is diep gewortel in die Christelike tradisie en geloofsbelydenisse. Die Geloofsbelydenis van Nicea, wat in die vierde eeu geformuleer is, bevestig dat Jesus Christus een in wese met die Vader is. Dit beteken dat die liefde wat ons deur Christus ontvang, dieselfde ewige, onvoorwaardelike liefde is wat van die Vader kom. Hierdie belydenis help ons verstaan dat God se liefde nie net ‘n emosie of ‘n reaksie is nie, maar ’n fundamentele deel van wie Hy is.

Eerder as om net menslike liefde te vier, kan ons onsself herinner aan die volmaakte, onvoorwaardelike liefde van God. Dit is ’n liefde wat geen grense het nie, wat nie vervaag met tyd nie en wat ons leer hoe om mekaar regtig lief te hê sonder voorwaardes. Mag ons in hierdie seisoen bewus wees van Sy teenwoordigheid en Sy liefde nie net ervaar nie, maar ook uitleef.

'n Liefdesdaad as getuienis

Die grootste manier waarop ons God se liefde kan vier, is deur dit te weerspieël in ons dade. Dalk beteken dit om iemand wat alleen is, te bemoedig, om vergifnis te skenk waar daar seer is, of om ’n eenvoudige daad van omgee te doen. So wys ons die wêreld dat God se liefde nie net ’n konsep is nie, maar ’n lewende realiteit – liefde wat regtig saak maak – die ewige, onvoorwaardelike liefde van ons Hemelse Vader.