Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Ring van Heilbron

Deur Mariëtte Odendaal

’n Hart vir dié in nood

“Deur projekte aan te wakker, raak gemeentes bewus van nuwe moontlikhede en word hulle op ’n positiewe manier gemotiveer om betrokke te raak by die groter prentjie van die Koninkryk van God, eerder as om net na binne gefokus te wees.”

Ds Gerrit Strydom
Ringskriba: Ring van Heilbron

In die 2023/24-boekjaar het die NG Kerk Vrystaat R30 000 aan elkeen van hul 15 ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die fondse moes in samewerking met ’n sinodale bediening aangewend word.

“Die Ring van Heilbron het saamgewerk met die sinodale bedienings Diens van Barmhartigheid en Bedieningsbegeleiding,” vertel ds Gerrit Strydom, skriba van die Ring van Heilbron.

Ons het by ds Strydom gaan uitvind hoe die fondse tot voordeel van die gemeentes in hul ring aangewend is.

Hy vertel: “Tydens die uitbetaling van die fondse is teologiestudent J. Heymans genomineer as jeuglid vir die Wêreldraad van Kerke (WRK). Ons het besluit om, onder die vaandel van Bedieningsbegeleiding, ’n deel van die fondse aan hom toe te ken om sy aanvanklike uitgawes te dek. Dit was ’n goeie belegging, aangesien Jacques nou as voorsitter van die WRK Jeugkommissie dien en ‘n ambassadeur vir die NG Kerk is. Hy maak ook ’n beduidende bydrae hier in Suid-Afrika.

“Die ringsgemeentes het ook verskeie projekte aangepak. Gemeentes soos Reitz en Reitz-Wes het by plaaslike ouetehuise betrokke geraak. Nadat die kombuise opgeknap is, het ons ’n heerlike Lentedagbraai vir al die inwoners gereël.

“Die NG Kerk Petrus Steyn het hul winter-barmhartigheidsprojek uitgebrei deur sop aan die gemeenskap te verkoop. Met die opbrengs het hulle meer produkte aangekoop en verder gewoeker met hul talente.

“Die gemeentes van Heilbron en Heilbron-Suid het ’n kombersprojek aangepak waar mense pannekoek kon verruil vir komberse. Hierdie komberse is versprei onder diegene in nood in hul gemeenskap.

“Die Oranjeville-gemeente het die fondse gebruik om geregte te kook, te vries en uit te deel aan mense wat sukkel weens beperkte elektrisiteitsvoorsiening; ’n projek wat baie harte verwarm het.

“Die gemeentes van Koppies en Koppies-Weltevrede het op hul beurt bejaardes gehelp deur saam te kook en sosiale etes te reël. Op hierdie manier het ons verseker dat hulle behoorlik gevoed word, sonder om hul menswaardigheid aan te tas.”

Die voordele van ringsprojekte

Volgens ds Strydom hou ringsprojekte groot voordele in. “Gemeentes word gemotiveer om kreatief en buite die boks te dink oor hul betrokkenheid by die sinodale kommissies. Boonop moedig die ringsvergadering en ringskommissie gemeentes aan om nie net op die GOUF-gelde staat te maak nie, maar om met hul talente, soos in die gelykenis van Jesus, te woeker.”

Hy sê verder: “Ons daag gemeentes uit om bykomende bydraes tot die GOUF-fonds te maak, sodat hulle gesamentlike projekte kan ondersteun. Dit versterk ook die Sinode Vrystaat se bedieninge wat prakties en tasbaar in ons ringe betrokke is. Mense ervaar hoe daar deur die breër Kerk na hulle omgesien word.”

Uitdagings

Die Ring van Heilbron het ook sy uitdagings. “Die grootste uitdaging is die groot afstande tussen gemeentes, wat samewerking ten opsigte van noodleniging soms bemoeilik,” verduidelik ds Strydom.

“Ons probeer jaarliks tydens die ringsvergadering ’n spesifieke projek identifiseer, maar tans wend gemeentes die gelde aan waar die Here dit op hul harte lê. Ons werk dikwels deur middel van satellietkampusse waar gemeentes in dieselfde dorp of naby aan mekaar gesamentlike projekte aanpak.”

Toekomstige ringsprojekte

“Die NG Kerk Vrystaat behoort beslis aan te hou om ringsprojekte aan te moedig,” sê ds Strydom. “Gemeentes is dikwels so besig met hul eie sake dat hulle nie ander geleenthede raaksien om ‘n verskil te maak nie.

“Deur projekte aan te wakker, raak gemeentes bewus van nuwe moontlikhede en word hulle op ’n positiewe manier gemotiveer om betrokke te raak by die groter prentjie van die Koninkryk van God, eerder as om net na binne gefokus te wees.”

Kontak

Kontak ds Gerrit Strydom by strydom.gerrit@yahoo.com vir meer inligting.

 | verskaf deur: De la Harpe le Roux

116 | Maatskaplike NOODLYN